Ek is nie
bang vir die donker nie. Ook nie vir alleen wees nie (alhoewel ek nie daarvan
hou nie), ook nie vir goggas en goeters nie. Ek is bang vir beeste. Meer
spesifiek, Nguni beeste. Hulle het masiewelike (kry mens so woord…?) horings.
En heeltemaal ‘n anderse geaardheid as manlief se rustigheid van self
Bonsmaras. Die Ngunis is net so paar koeie wat myne is, maar wat Johnny bestuur….
Pragtige diere, maar ‘n geaardheid gelykstaande aan ‘n rodeo bul s’n.
Soos ek
reeds gesê het, ek is bang vir hulle. En soos ek reeds ook voorheen al gesê
het, as daar nou een ding is wat vir Johnny rooi in die gesig begin laat, is
dit ‘n gepiepery. Moenie gil oor goed nie, en as jy bang is vir iets, kom
daaroor. Hierdie is ‘n plaas.
So, ek het
al by verskeie geleenthede my vrees onderdruk en my so taai soos ‘n Toyota
gehou, maar no ways, dit wil nie weggaan nie.
Nou ‘n Nguni
in die veld is een ding. ‘n Nguni in die kraal, wel, ‘n heeltemaal volgende
storie. Hulle hou nie van ‘n kraal opgedruk staan nie, NOG minder in die
drukgang.
So gebeur
dit laasweek dat hulle met kalwers en al moet kraal toe kom. Hulle moet vir
lamsiek gespuit word en die bietjie erger nuus, die bulkalwers moet gedruk word.
Ek is seker almal verstaan wat dit is. Ook nie iets wat aangenaam is vir hulle
en my nie. Ek moet help, want dis my bees.
Reg, deur
die eerste hek het dit goedgegaan, ek kon nog binne in die bakkie bly. Maar hoe
nader dit aan die kraal gekom het, hoe wilder het dit begin gaan. Johnny was in
sy vorige lewe ‘n cowboy, hy is mal oor aksie, en jaag. “Spring uit en help
daar aankeer!”, sê hy. Ek moet aan die ander kant met die bakkie gaan keer.
Ekskuus, jy praat seker nie met my nie? EK, agter ‘n Nguni afklim. Een kyk was
genoeg om maar met bewerige kniee uit te klim. Gewapen met ‘n kierie. Moet net
nie waai nie, dan raak hulle nog wilder, kry ek die opdrag.
Nodeloos om
te sê die bees was lankal in die kraal, toe kom ek nog aan gesukkel, want een
spesifieke koei was glad nie ingenome met my nie, en het veroorsaak dat ek meer
terug hardloop as kraal toe vorder. Ek was lam van vrees teen die tyd wat hulle
al bulkende in die kraal gestaan het. Toe weet ek natuurlik die ergste kom nog.
Min wetende dat my braafgeid my in die steek gaan laat nog voor ons begin het.
Die drukgang
het volgestaan, en die res van die bees het in die groot kraal gestaan. Ek hoef
nie binne in die kraal te wees nie, maar ek moet asb buite keer. Want, sê
Johnny, hulle is maar geneig om te wil spring. Toe is ek al verby die kniee bewe
stadium, ek het al gevorder tot maagkrampe en koue hande. Sy woorde was ook
skaars koud, toe spring die einste koei wat my heeltyd wou terugjaag huistoe.
Ek het my lam geskrik, want toe sit haar voet vas agter een van die pype, en sy
raak al kwater, want sy kan nie wegkom nie. “Haar been gaan breek, bring die
hamer!”, skee Johnny. Klaas het gebring, want ek het binne in die bakkie
gespring. Toe die koei uit is, is ek weer op my pos langs die kraal. Johnny se
temperatuur het toe reeds ‘n paar grade gestyg.
Maar julle,
toe die volgende een mik om te spring, toe mik ek vir die 400m huistoe. Ek het
op daardie stadium nie meer omgegee wie is kwaad vir wie nie, maar hiervoor het
ek bloot nie meer kans gesien nie. Alle braafgeid het my verlaat. As dit so
gaan nog voor ons begin werk het, hoe gaan dit teen die einde lyk. Ek het eers
geloop, en toe besef ek die swart koei is buite die kraal, en het glad nie ‘n
persoonlikheid nie. Toe begin ek hardloop, en elke 5 sekondes het ek omgekyk en
seker gemaak sy is nie naby my nie.
Ek moet
eerlik wees, ek het so bietjie stupid gevoel. Johnny was kwaad. My bees is
gewerk sonder my hulp. Maar hy het darem
later gelag. Ek dink ek sal die res van my lewe daaroor gespot word. Maar ek is
nie skaam vir my tekortkominge nie. Die werksmense het ook vir my gelag. Hulle
sal nie waag om iets te sê nie.
Daar het al
intussen nog 5 mooi kalfies aangekom, so ek vergewe hulle vir hul ongeskikgeid.
Maar, my vrees is toe nie oorwin nie. Dis erger.