Tuesday, 1 January 2013

Ons "bucket list"

Laasweek ry ek vinnig een oggend saam met Johnny Barsvley toe om net gou te kyk dat al die waters reg is. Ons ry in stilte. Dis vir my een van die lekkerste saamwees tye van ons twee. Die veld is so mooi groen, ons is so dankbaar. Ek sit die radio aan op RSG. Hulle praat oor “bucket lists”. Die mense bel in, sommige met (volgens my) redelike vreemde dinge op hulle wenslysies vir die lewe.

My dromerskop hardloop weer weg met my. En ek wonder wat is op my “bucket list”. Ek is bevooreg om in my kort lewe van 26 jaar reeds baie dinge al te kon “aftick”. Maar is ware geluk nie maar op die ou einde wat werklik saak maak nie, besluit ek. Net dit. Dan kom die res vanself. As jy hier diep binne in jouself tevrede en gelukkig is, gebeur die lekker dinge in die lewe vanself.

Ek sien elke dag saam met my man as die grootste geskenk van die Vader. Hy het regtig vir my die perfekte pasmaat gegee. En ek sê elke dag daarvoor dankie. Om SO onvoorwaardelik lief te kan wees vir iemand. Ek besluit daar en dan dat 2013 ons tweetjies se jaar gaan wees. Ek wil elke dag aangryp en my man meer liefhê as wat ek reeds het.
Dit kan dalk die laaste dag van ons lewe saam wees. Ons tyd op aarde is so kort. Ek wil elke oomblik saam koester.
Ek gaan minder bekommerd wees oor of die wasgoed gedoen is en die huis skoon is, en meer saam met hom boer. Ek gaan meer op al die goeie eienskappe fokus en die klein simpel foutjies laat verbygaan. Ons almal het foute, hy wys my nooit op myne nie. My man sê elke dag vir my hoe lief hy my het, en dat ek vir hom perfek is. Ek gaan dit ook elke dag vir hom begin sê.

Ek gaan nie kla as die huistenk se water op is wanneer ek wil wasgoed was nie. Ek gaan nie kla as hy met sy vuil skoene in die huis kom nie. Want elke dag is geleende tyd vir mekaar. Die dag as hy nie meer daar is nie, dan gaan ek wens ek kon net nog eenkeer sy vuil skoenspore in die huis sien. Ek gaan nie meer kla oor hy nie lief is vir dans nie, ek gaan dankie sê vir al die belangstellings wat ons wel deel. Ek gaan die elke Sondagmiddag se speel met die motorfietse in die gronddam onder by die kraal meer waardeer.

En, besluit ons saam, as alles goedgaan, wil ons hierdie jaar ons Mosambiek toer op die motorfietse kan “aftick” op ons “bucket list”. En ook ‘n paar ander avonture aanpak.

Ek is tevrede, en diep binne in my hart, baie baie gelukkig. En die belangrikste op my “bucket list” vir die lewe besluit ek finaal… is ware geluk en tonne kosbare oomblikke saam met my droomman wat gister verjaar het, so op die oujaar. Ek het middagete vir ons gebid. Ek het sy hand styf vasgehou en vir Jesus dankie gesê dat hy hom nog ‘n jaar vir my gespaar het. En die lekkerste gevoel in die lewe, is daai wete dat iemand jou so liefhet, dit maak regtig ‘n eina in jou hart. Koester dit.

Geniet mekaar elke sekonde van elke dag, moenie wag vir more nie, daar mag dalk nooit ‘n more wees nie.

No comments:

Post a Comment