Tuesday, 18 December 2012

'n Kerstyd oordenking

Ek is nie iemand wat glo aan Nuwejaarsvoornemens nie. Ek probeer om elke dag opnuut aan te pak, as ek die vorige dag gefaal het, begin ek vandag weer. Van voor af.

Maar hierdie tyd van die jaar is vir my ‘n tyd van oordenking. Oor die jaar wat verby is. Oor die goeie oomblikke, maar ook die minder goeies. Die tye van lag en feesvier, maar ook die tye van seerkry en baie trane. Vanoggend was my stil tydjie van oordenking. Alleen. Buite in die koel vroegoggend lug. By my Victoriaanse tafel en stoeltjies met ‘n beker koffie in die hand. Dit was doodstil buite, net die voëltjies se getjirp op die sinkdak van die stoor. En êrens ‘n lammetjie wat blêr vir bietjie melk.

Dit was ‘n jaar van baie opwinding. Meer as die hartseer tye. En ek weet. Deur elke oomblik, was Jesus langs my. Waar die pad soms vir my te klipperig was om self aan te gaan, het HY voor my uitgeloop. Ek het opnuut geleer om volkome te vertrou, op God. Met elke besluit, elke sekonde van elke dag. Dis die enigste sleutel tot ware vreugde en geluk.

“Faith in God, also means faith in HIS timing”, lees ek onlangs. Ek voel skuldig. Ai Here, hoekom wil ons soms dinge so vinnig laat gebeur, terwyl U reeds weet wanneer is die perfekte tyd daarvoor. Vergewe ons, en leer ons om elke saak in gebed aan U op te dra, en dit daar te los, by U. U het dan reeds vir ons die kruis gedra.

Ons is deur droogte, soms was ons geloof net te min, maar weereens Here, het U ons gewys dat ons net moet vertrou. Ek kyk uit op die lowergroen veld. Dis 3 weke later vandat die eerste reëntjies geval het. Dit kan NET God se handewerk wees. Dankie Here, dankie vir hierdie groot groot seën. Ek dink U trek ons voor in die Boesmanland, omdat dit so warm en plat is hier. Ons is geseënd met DIE mooiste sonsondergange. As die Boesmanland reën kry, is daar geen mooier plek as hier nie. Alles is groen en vol in blom. Net ‘n Boesmanlander sal verstaan as mens trane agter jou oë voel brand van dankbaarheid, omdat die ooi met haar tweeling lammertjies loop in groen veld. Knippelpensie gedrink aan genoeg melk. En die bakkie nie elke oggend swaar is van al die leksakke nie.

Kersfees is hierdie jaar by ons op Opdamkolk. Dit sal seker ‘n warm een wees. My Kersboompie is opgemaak. Vol liggies. In ‘n ou melkemmer vol witklippies. Hierdie jaar gaan ek nie persente onder hom pak nie. Ons het klaar ons grootste persent ontvang. Dat Jesus vir ons aan die kruis gesterf het. Om al ons sondes te vergewe. Is dit nie genoeg nie? Ons gaan die tyd deurbring saam met familie. Die Kersete is klaar beplan. Die mooigoed vir die tafel uitgehaal en afgestof. En hierdie jaar wil ek graag op Ou Kersaand hê dat elkeen moet vertel wat hom/haar elke dag dankbaar maak.


Doen vandag nog, of wanneer jy tyd het, jou oordenking oor die jaar. En wees dankbaar.
Mag jy ook hierdie Kerstyd ‘n vreugdevolle tyd saam met jou familie ervaar, en mag Jesus jou oorvloedig seën in die komende jaar. En mag ons NOOIT ooit vergeet waaroor Kersfees regtig gaan nie.

No comments:

Post a Comment