Monday, 14 January 2013

"Dorpsdag"

As jy 90 km (grondpad) van die naaste dorp af woon, is dorp toe gaan ‘n kwessie, normaalweg een met ‘n hoofpyn daarby.

Nou moet ek eers sê dat ons naaste dorp ook net Kakamas is. Kakamas is voldoende vir die nodigste. Vir rêrige groot “shopping” is Upington die volgende stop. 180 km verder. Mens ry nie sommer net vir die grap Upington toe nie. Net vir belangrike dinge. Ek maak gewoonlik lank voor die tyd ‘n lysie van al die Upington “doen-dinge”. As hy vol genoeg is, dan pak ek vir Upington aan. Gewoonlik eers met die weervoorspelling (hoe betroubaar dit nou ook soms kan wees) in ag genome. As Upington, soos vandag, die 41 grade raak, dan skuif jy dit met so week aan.

Vroeg in ons getroude lewe het ons al besluit dat dit eintlik beter is as ons 2tweetjies nie saam dorp toe gaan nie. My man is te ongeduldig. In die ergste graad. Hy kan ‘n geronddrentel nie verduur nie. Maar soms, as die goedjies nou so uitwerk, dan gaan ons wel saam in dorp toe. En dan is die groot bederf ‘n lekker middagete by Rose Café.

Wanneer ek aankondig dat ek dorp toe moet gaan, (Gewoonlik reel ek my goed so dat ek vir dieselfde dag ‘n haarafspraak het.) begin die ewige lysies.

Ek bied baie vriendelik vir manlief aan dat hy maar gerus sy HELE lysie kan gee (wat ek moet maak), hy het immers die vorige keer baie geduldig en presies my hele lysie gekry. “Neewat, geniet nou maar jou dag in die dorp, ek moet volgende week ingaan, dan sal ek alles wat ek nodig het sommer self kry”, sê hy ewe beskeie.

Dorpsdag breek aan.  “Ek het sommer vir jou die petrol kanne gelaai, onthou nuwe petrol in die wit kan, oues in die swart kan. En vra tog asseblief dat hulle die kanne nie so vol moet maak nie.” Doodreg, geen probleem.

“Dan laai jy asseblief vir my die molasse kanne by oom Steyn af, kyk, jy kan dit net daar aflaai en net voor jy weer uitkom plaas toe, dan laai jy dit net weer.” Dis nou behalwe die Kaap Agri lysie wat ek toe inelkgeval gekry het. En elke item op die lysie is gespesifiseer. As hulle nie Voermol se produksielek het nie, vat Superkos s’n. Onthou die werksmense drink nie Kloof koffie nie, net Ricoffy. (“WAT???”) O en sorg tog dat hulle eers die voer laai, en DAN die staaldraad, anders krap dit die bak.  Ek vra nie weer of daar nog iets is nie, ek ry nou.

My eie lysie is ook lank. Ek het ‘n lankverwagte haarafspraak. Vir highlights, dit neem tyd. Ek moet kruideniersware koop by OK. Ek moet pos uithaal en ‘n draai maak by die lisensiekantoor. Ek moet vir oupa gaan hallo sê by die ouetehuis. Dis fyn beplanning. Eers vir Kaap Agri afhandel. Die enstof moet koud bly, so dit wag vir laaste net voor ek klaar is in die dorp. Dan die res van die lysie.

En dan, nes ek dink alles is klaar, lui my selfoon gewoonlik. Teen daai tyd is ek so warm en moeg dat ek net weer op die plaas wil kom. “Ag liefie, as dit nou nie te veel moeite is nie, kan jy groot asseblief net nog ‘n “fitting” by Kaap Agri kry. Vra sommer vir Wikus. Ek het reeds met hom gereël.” Nou die “reel” is nie die probleem nie, die feit dat ek weer kooperasie toe moet ry wel.

More is weer ‘n “dorpsdag”. Maar hierdie keer gaan ons altwee. Manlief het werkersprobleme wat uitsorteer moet word. En ek, ek het ‘n haarafspraak, vir “highlights”, en ek hoef oor niemand se lysie behalwe my eie bekommerd te wees nie. Veral nie oor “fittings” wat ek in die kooperasie moet staan en soek terwyl ek eintlik nie ‘n “clue” het wat is die verskil tussen ‘n koppelstuk, T-stuk en verloopstuk nie. En die ekstra bonus, ons gaan beslis middagete by Rose Café eet….!

No comments:

Post a Comment