Onlangs bevind ek my weer vir 2 weke in die Karoo, hoofsaaklik vir werk, maar darem bietjie kuier ook so tussendeur.
En soos wat die dae omgaan, kom ek tot die besef dat ek al hoe meer “boervrou” begin raak. Goed wat my normaalweg van ander mense sou irriteer, begin nou ook eie raak aan my.
Eerstens moet ek bieg dat ek die weer baie geniet het. As die termometer op 32 grade gaan stilstaan vir die dag, kla almal dat die somer darem verskriklik is. Watwou, dink ek so ewe taai, dis winter weer die man. Regtig, ek het die weer geniet. Geen “waaier en nat handoekie” geslapery saans nie. Geen siwwe voor die vensters nie. Die kantgordyntjie wat so wapper met ‘n heerlike koel luggie, laat slaap toe hierdie Boesmanlander soos ‘n baba. Okei wel, as ek nou moet kla oor die slaap, sal dit wees die geraas. Ek is mos gewoond aan plaasstilte. Nie elke nou en dan ‘n kar of bakkie wat op die stopstraat afstorm met skreeuende remme nie. Ek wil nou nie snobisties klink nie, maar ek is gewoond aan die geratel van die sif soos die suidewind deur hom suis snags. En soggens vroeg die hoenderhaan se kraai wat die nuwe dag aankondig. Nie ‘n geblaf van honde en karre wat jaag om by die werk uit te kom nie.
Dit daar gelaat.
Op die plaas bestaan daar mos nie iets soos skille en oorskiet kos in die asdrom gooi nie. Dit wat die hoenders en honde nie kan eet nie, gaan kompos hoop toe. Nou daar het ek gesien dat hoendertjies se hok met ‘n slot gesluit moet word. Anders word hulle gesteel. Die arme bloedjies dink ek, en verlang sommer ekstra erg na my Koekoeke wat bedags buite op die werf loop en skrop, en net saans hok toe gelok word met ‘n paar mielies, want die enigste gevaar vir hulle is die muishonde snags. Hulle ken van waatlemoen skille uitvreet tot net die groen skilletjie oor is. En hulle ken van rondskrop in die voerkraal, dis waar meeste van hulle kossies vandaan kom. Dan is hoender op sy gelukkigste.
Sommer aan die begin van die 2 weke al begin my hart (en oe) ‘n swaar verlange kry na my middagslapies op die plaas. Nou op die plaas begin ons dae vroeg, as dit lig raak (lank voor die son sy kop uitsteek) woel dit al op ‘n plaaswerf. Maar hier teen 12 uur in die middag as die Boesmanland son so teen 40 grade op jou lyf begin skroei, dan is jy binne in die lekker koel plaashuis. Onder die waaier. Skuinsle, dis wat ons dit noem. Niemand pla mekaar daai tyd nie, die 2 rigting radios is stil, die telefone ook.
Tuin natmaak was ook vir my iets ongewoon. Op die plaas draai ons nie spreiers oop en vergeet daarvan nie. Hier kom die water uit ‘n boorgat wat as dit nie genoeg kom reen nie, kan opdroog. Ons werk spaarsamig met water. Tuin natmaak op die plaas is ‘n lekker gedoente. Gewoonlik eenmaal per week word die bome uit die sementdam natgelei. Die gras so twee maal per week. Die res van my tuin bestaan uit potte wat ek met varswater aan die lewe hou en aalwyne en kokerbome wat water kry wanneer dit kom reen.
Wasgoed was is ook vir my iets anders. Ek weet nie van ander boervrouens se gewoontes nie, maar ek het ‘n “wasdag”. Gewoonlik maak ek die vorige dag by manlief seker of die huistenk vol genoeg is vir was. Dit het al ‘n paar keer gebeur dat ek net mooi aan die gang is, net om agter te kom daar loop so dun piepie straaltjie water by die kraan uit. Tenk is leeg. Bid dat die wind asb so gou as moontlik moet begin waai. As ek klaar alles gewas het, hang ek die wasgoedjies in die warm son op die draad. Niks so lekker vars soos ‘n handoek wat heeloggend in die son gehang het nie. Daarna pak ek alles mooi netjies weg. My waswater loop ook uit op die “Beefwood” bome agter die braaiplek. Dis die enigste water wat hulle kry en hulle floreer. In die dorp word daar vinnig en gerieflik ‘n bondel ingegooi en daarna direk in die tuimeldroer. Opgevou en in die kas. Water weg in die drein. Dis lekker, maar ek verkies my was metode, dis op ‘n manier bevredigend. Ek gebruik nie “Varnish” vir vetkolle nie, sommer regte ou boerseep. Waarvan ek die waarde anderdag eers ontdek het. Veral vir plaasklere waarvan ‘n mense enige iets van bloedkolle tot ghries moet uitkry.
Die lekkerste deel was wel, as jy lus kry vir roomys, ry jy gou kafee toe. Op die plaas is dit ongelukkig ‘n geval van skryf maar op die lysie op die yskas. Vir volgende keer. Want niemand ry 90 km grondpad om roomys te loop koop nie.
Dit was lekker, en soms baie meer gerieflik as op die plaas. Maar die kwaliteit van ons lewens verskil. Vergewe my vir hierdie stelling, maak ek dink ons plaasmense het ‘n beter kwaliteit lewe. Ek weet dis ‘n voorreg, en ek se regtig elke dag daarvoor dankie. En ek hoop dat as die liewe Vader ons op ‘n dag seen met kinders, dat hulle sommer hier onder die peperboom by die agterdeur kan speel, en dat niemand hulle hoef op te pas nie. DIS die voorreg van plaaslewe.
No comments:
Post a Comment