So rukkie gelede al. My hart was aan skerwe, seer, eina. Dit was my heel heel eerste melkbok. ‘n Saanen. Ek het haar nog by oom Maans present gekry. Al die pad van Ses Brue af. ‘n Bielie van ‘n bok. Melk kon sy gee. Sy het tientalle hanslammers in haar kort leeftyd op Opdamkolk grootgemaak. GOED grootgemaak. En sy was mak. Ek hoef haar nooit vas te gemaak het nie. As ‘n hansie so dorstig begin te skree vir melk, dan staan sy doodstil, tot sy magie vol is.
Ek het haar altyd, na melkgee tyd, op haar kop gevryf en haar my ou staatmaker genoem. Snaaks, ek het nog drie ander melkbokke ook, maar ek dink sy was die hansies se “favourite” ma ook, hulle het altyd eerste vir haar gestorm opsoek na melk. Nou moet hulle maar tevrede wees met die ander minder goeie melkspene.
Anyway, sy is toe oorlede. So wyle na my twee weke Karoo uitstappie. Ek het die spesifieke Donderdag oggend opgemerk dat sy nie haarself is nie. Sy was altyd so opgewonde oor ‘n ou stukkie lusern. Nie daardie oggend nie, sy het my net met sulke leep ogies aangestaar. Seker maar net geite en grille, het ek gedink. Die aand lê sy lusteloos in die kraal. Die lammers wil ook nie drink aan haar nie. Met naderende ondersoek maak ek toe sommer self ‘n “diagnose”. Mastitus, sê ek vir manlief. Ek is doodseker daarvan. Hy loop kraal toe om ook te gaan ondersoek instel, en bevestig my vermoede. Toemaar, sê hy, dis nie so erg nie. Onthou jy die melkkoei het dit mos ook laasjaar gehad, en sy het mooi gesond geword. Ek twyfel maar so bietjie, maar hoop tog maar in my binneste dis waar.
Manlief spuit haar antibiotika vir die koors en sulke blou goed wat in haar spene gespuit word. Elke oggend en elke aand moet ek die speen wat aangetas is uitmelk. (Mens doen dit nie op ‘n leë maag nie.)
Ek doen verslag dat sy vir my beter lyk. Saterdag middag egter nie meer nie. Ek vra vir manlief of ons nie maar nog antibiotika kan gee nie, sy het koors. Nee, sê hy, net elke 72 uur. Ek lawe haar met yskoue kripwater. Breek vir haar die lusern fyn, maak haar gemaklik in die skaduwee.
Sondag middag ry ek ‘n draai saam met Johnny af kraal toe. Toe ons terugkom by die huis en by die klein kraaltjie verby ry sien hy dit eerste. Sy het dit nie gemaak nie my liefie, sê hy so half saggies. Nou ek en my ou melkbok het ‘n mooi verhouding gehad. Ek was die een wat heeloggend by haar gesit het einde van laasjaar toe sy gelam het. ‘n Tweeling nogal. Ek het vir haar water aangedra en haar gevryf toe sy deur die pynlike proses is. (Tot vermaak van my man natuurlik.) Want die lamproses is nou regtig nie vir hom iets snaaks nie, dis deel van sy elke dag se lewe. Maar my bok is mos anders, het ek gese. Sy is deel van die GESIN.
My hartseer was groot. Ek kon nie die trane keer nie. Sy kan nie weggesleep word nie, het ek protes gemaak, sy verdien beter. Sy moet opgetel word en opgelaai word agterop die bakkie. My arme man het gemaak soos ek sê, hy het nie eenkeer gesê ek is simpel nie. Ek dink in sy hart het hy seker gehoop ek eis nie dalk dat sy ‘n graf ook nog moet kry nie.
Sy word gemis, my ou staatmaker. Die werf is net nie meer dieselfde sonder haar nie. Sy is nie meer daar om saans met melkgee tyd teen my te kom skuur vir ‘n stukkie lusern nie. Al die ander bokke is ook sommer “willer” vandat sy nie meer hier is nie (of dalk verbeel ek my maar net.) Die hanslammers is stout, hulle mis haar ook dink ek. Sy was die moeder van melkgee.
Ek kan nie anders nie, sê ek vir manlief, ek raak nou maar eenmaal te geheg aan my diere. Nou die oggend lyk Hitler ook so mistroostig. Hitler, sê ek, ruk jou reg. Nie jy ook nie. Ek aanvaar hy het geluister. Want hy vreet weer klippe en jaag alles wat beweeg.
No comments:
Post a Comment