Oningeligte (nie dom nie) mense noem dit “druiwekonfyt”, ingeligte mense weet mens praat van “korrelkonfyt”. Dit word van sultanas gekook. Stroopsoet en diep lekker. Dis lekkerder as “chocolates” het ek onlangs besluit. (Goed, nou nie lekkerder as ‘n Kit Kat nie). Maar na ‘n middagslapie, wanneer mens opstaan met daai onbeheerste honger gevoel is daar niks, maar net mooi niks, lekkerder as so groterige stuk kaas met ‘n lepel korrelkonfyt op, en dan drup die stroop so op jou hande, dit lek jy sommer af. Dit klink onafgerond, maar dis LEKKER. Dis deel van daai klein vreugdes van die lewe. Wanneer niemand jou sien met jou blink lippe en ken vol stroop nie.
Laasweek is dit toe ook sulke tyd in hierdie plaaskombuis. Tyd vir korrelkonfyt kook. Ek kry ‘n krat vol stroopsoet, goudgeel sultanas by oom Wikkie. Johnny probeer elke verskoning in die boek uitdink van hoekom hy nou nie kan help korrel nie. Want kyk, dis die grootste werk van korrelkonfyt, die korrel gedeelte. Sultanas se korrel is klein, en TAAI. Uiteindelik na mooi vra, help hulle my. Dis nou Johnny en swaer Manie. Ons het eers ‘n vleisie gebraai vir versterking. Toe pak ons daai krat druiwe aan. Johnny is vol “orders”, daar mag nie stokkies tussen die korrels wees nie, dit laat die konfyt bitter smaak. (Ek dink dis iets wat hy self uitgedink het – maar sê dit liewers nie hardop nie, netnou los hulle my alleen agter met ‘n krat vol druiwe.)
Ons het tot 10 uur die aand gesit en korrel. Taai, moeg en sowat ‘n halwe pot konfyt se korrels op die vloer. Maar ek is tevrede, die bakke staan gereed vir kook op die kombuiskas.
Volgende oggend vroeg, voor die Boesmandland se hitte my inhaal, begin ek kook. Weeg die korrels, suiker en dan so titseltjie suurlemoensap saam in die pot. Ek sit pierings solank in die yskas vir die stroop se toets bietjie later. Teen middagete is ek so goed keelvol. Orals in die kombuis waar ek trap, klou my voet eers so bietjie vas op die vloer. Maar daar wag nog ‘n goeie 3 kg wat gekook moet word. Dit besluit ek, is namiddag se werk.
“Ek sal die bottelwerk doen”, bied Johnny baie galant aan. Die bottels is gesteriliseer, reg vir hulle oes. Onthou net, ek doen dit op my manier, sê hy. Min het ek geweet WAT presies sy manier nou is. Wel, dit werk as volg. Hy het ‘n maatbeker gevat, dit vol korrels en stroop gemaak en dan binne in die pot. Ek het gesien wat aan die kom is. “Nou hoe kry mens nou hierie potte skoon?” vra hy. Jy vee dit met ‘n warm seeplap af. Ek moet erken, mans is eintlik meer prakties, ek sou dit natuurlik op ‘n heel ander manier gedoen het, met 10 keer meer skottelgoed op die einde.
Laatmiddag is daar nog net 1 kg oor wat gekook moet word. Ek sit dit op die stoof en vra vir manlief, wat besig is om gras te sny, of hy asseblief net ‘n ogie sal hou daaroor. En moet net eers my hanslammers gaan melk gee. Geen probleem, verseker hy my. Nou kyk, so bietjie konfyt kook vinnig, jy moet eintlik vir hom staan en dophou. Anders is hy NOU tameletjie.
Toe ek terugkom by die huis, staan en maak hy houtgerus die gras nat. Hoe lyk die konfyt, vra ek so half benoud. Neewat, alles is nog reg, hulle is nog nie donker van kleur nie. WAT? Hulle MOENIE donker van kleur wees nie. Nodeloos om te sê, die laaste kg konfyt van die dag IS toe tameletjie. Ai liefie, is sy verskoning, ek was net al so moeg vir hierie konfyt kook besigheid. (Watse KOOK, jy bedoel seker die korrel gedeelte. Want volgens my was ek al een van die kook gedeelte gedoen het.) Fout nommer 2 is toe dat ek die einste flop laat koud word binne in die pot. Ek kon nie eers die houtlepel die volgende oggend uit die konfyt kry nie, ek moes die hele spul eers weer warm maak. Die werksmense het glad nie gekla nie.
Nou die aand eet ons roosterkoek, met dik botter en korrelkonfyt waarvan die stroop so afloop in die bord. “Ai, die harde werk aan korrelkonfyt is darem maar altyd die moeite werd”, kom dit hier van die kant af. Hmmmm, nes jy daar sê my man, nes jy daar sê.
No comments:
Post a Comment