Saturday, 1 June 2013

Die voetspore van 'n boer

Daar is geen beter kunsmis vir ‘n land vol gesaaides, as die boer se voetspore in die grond getrap nie.
Die woorde gryp my nogals aan, en ek kan nie anders as om dadelik aan my boer man te dink nie. ‘n Ware boer in murg en been. Hy is trots om ‘n boer te wees. Trots op sy diere, sy grond en dit wat hy elke dag in hierdie harde wêreld arbei. Hier waar geslagte van Wyks se bloedsweet lê. Waar hy en swaer Manie hulle eerste tree gegee het, dit kan nie anders as om in sy bloed te wees nie. Dis ware liefde.
Met die verloop van tyd as boervrou het ek ook geleer dat daar sekere dinge rondom ‘n boer is wat EIE is aan boer wees. Jy sal vir hulle op ‘n afstand uitken.
Wanneer ons in Woolies Food is en ek al die lekkernye bewonder wat nie by ons hier op die platteland beskikbaar is nie, sal Johnny met ‘n yslike frons op sy voorkop by die vleisrak staan en brom oor die vreesaanjaende pryse wat hulle vir ‘n ou lamstjoppie vra. En nee, hy sal sommer vir hom ‘n koeldrank hier langsaan koop, dankie. ALMAL in die winkel kan sien ons is plaasmense, daarvan is ek seker.
‘n Ware boer kan ook dadelik presies vir jou sê watse rigting waai die wind. En dat die Noordewind die altyd welkome reëns bring, die Suidewind die koue.
Hulle is nie bang om bo in ‘n windpomp se kop te sit nie. En dan nog op daardie hoogte ‘n “spanner” ook te vang nie. Terwyl my maag sulke onaardse draaie maak deur net daarna te kyk.
As hulle ‘n jakkals of rooikat sien verloor hulle alle wyslike denke binne sekondes en gaan oor in ‘n oeroue instink van oorlog maak. Of dit nou met ‘n motorfiets, plaas bakkie wat se wielie dalk enige oomblik kan verloor as daar met hom so gejaag word, of ‘n slinternuwe “dorps-bakkie” is, solank hy beweeg. Ek glo dat as die nood druk, Johnny hom te voet ook sal probeer inhardloop… Maar ‘n jakkals wat wegkom, dis soos dood in die Boesmanland. Daar word ook nie daaroor gepraat nie, dis amper net so erg soos ‘n stoere Dorper boer wat sê ‘n Merino is ‘n beter vleisras. Jammer vir die “groen” mense – indien hierdie jou ontstel, kom kuier net een naweek op die plaas, jou opinie oor ongediertes sal binne ‘n oogwink verander.
Wanneer jy die woord drie voet ses dropper hoor, beteken dit nie hy is besig om sy oer oupagrootjie aan te haal nie, boere praat so. Hulle praat nie van meters en sentimeters nie, se VOET.
Die ooi wat laasjaar ‘n vierling, en toe weer laasweek ‘n drieling gelam het, sewe lammers in 8 maande, daardie ooi ken hy uit in ‘n trop van 150 ooie. Hoe dan anders, sê hy verontwaardig, sy LYK anders. Wel, volgens my lyk alle swartkop dorpers presies dieselfde. Jammer.
Ek het anderdag met ‘n skaaplaaiery die fout gemaak om perongeluk ‘n ram as ‘n ooi aan te sien. Ek moet eers vir myself opkom deur te sê ek het bo op die laaibank langs die kant gestaan, m.a.w. ek het alles van bo af gesien. Dit was groot lammers, regtig moeilik om te onderskei. Daar was 4 ram lammers wat nie moes klim nie. “Keer asseblief die ramme”, vra Johnny.
“Wel, ek is nou nie presies seker wie hier rond is die ramme nie”, het ek gesê.
Sy gesig het soos altyd boekdele gespreek en hy het gevra:”Flippit liefie, moet ek vir jou verduidelik hoe SIEN ‘n mens die verskil tussen ‘n ram en ‘n ooi.”
Nodeloos om te sê wat ek van sy sarkasme gedink het. Selfs die werksmense het begin lag. My Retief bloed het haar vervies en voor in die bakkie gaan klim. Ons het agterna lekker gelag daaroor.

Dis boere, hulle het harte van goud, hulle is lief vir die natuur en het respek  vir God se handewerk. Dis hulle wat sorg vir ons land se kos. Tenspyte van droogte, vleispryse en baie dinge wat teen hulle draai, BLY hulle lief vir boerdery.
Ek is sooo lief vir my boer. Al is hy soms, NET soms, ‘n hardkoppige een.

No comments:

Post a Comment