Thursday, 8 August 2013

Daai verskille - tussen mans en vrouens

Mens verstaan dit nie. Tot jy trou. Dan raak alles so duidelik soos daglig.
Moet my nie verkeerd verstaan nie, my boerman is die liefde van my lewe, my asemhaal, my opstaan en my bestaan. Maar, ‘n groot maar, ons verskil. Soos dag en nag. Hulle sê nie verniet “Opposites attrack nie”. Dis in ons geval BAIE waar.
Ek hou van laatslaap, hy staan graag saam met die hoenders op. Ek hou van dinge op my tyd doen, hy was haastig nog voor sy geboorte. Ek hou van vakansie, hy hou van by die huis bly. Ek hou van vreemde en brand kosse, hy hou van vleis, rys en aartappels. Hy sal eerder ‘n bak vol erdwurms eet voor hy sy mond waag aan ‘n olyf of sterk Kerrie.
Ek moet my hart vashou en ‘n asynlappie voor my gesig hou as ek in ‘n voertuig ry wat enigsins vinniger as 120km/h beweeg, vir hom is vinniger beter. Na 8 jaar stry ons nie meer oor spoed nie. Ek probeer slaap as ons erens heen moet ry. Sy liefde vir spoed sal nie verander nie, ek het vrede gemaak daarmee. Dis ‘n manne ding. Ek bid telkens deur die dag wanneer ek die motorfiets buite hoor.
Ek is besluitloos. Dis vir my ‘n kopseer om te besluit of ek my outfit moet afrond met krale of nie. Ek kan vir tenminste 20 minute staan en top daaroor. En wanneer ek uiteindelik dink ek het finaal besluit, dan verander ek nog 50 keer. Nie my boerman nie, hy besluit oor iets, en dan is dit dit. Of hy nou agterna besef dat dit dalk die verkeerde besluit was, maak nie saak nie. Sy ja is sy ja, nee is nee. Klaar. Punt. Afgehandel.
Ek gril my morsdood vir bloed, en alles wat daarmee saamgaan. Vir hom is dit so deel van sy lewe soos asemhaal. Ek onthou, ons het eendag erg verskil daaroor. Wel, oor ek gesê het ek sal NIE ‘n lam waarvan die ma sukkel om te lam, kan uittrek nie. Hy het gevra of ek haar dan maar eerder sal los om dood te gaan. Nee, ek sal nie, ek sal net alles in my vermoe doen om iemand in die hande te kry, wat wel daarvoor kans sien. Soos hy byvoorbeeld.
Nou kyk, hierdie tipe verskille is dood normaal. Dis wat die lewe interessant hou, hoe vervelig sou dit nie wees as ons presies dieselfde was nie.
Mans hou ook die lewe kleurvol.
Johnny het nou die aand voor die TV sy skoene uitgetrek. My oog het sy sokkies gevang. Grys, met pienk strepies. ???? Johnny, sê ek, jy het my sokkies aan, vir die hoeveelste keer. Ek wou kwaad word, maar die lag het my oorval. Want dit het regtig snaaks gelyk, hierdie stuk man met ‘n paar pienk sokkies. Hy het so onskuldig gesê jammer, hy kan nie lekker die kleur sien in die oggende nie. Mans sukkel oor die algemeen met kleur. Alles wat neig na skakerings van pienk of pers is ROOI. Hulle ken net rooi, bruin en blou.
As ons oppad êrens heen is, en gou by ‘n kafee stop om koeldrank te koop, moet my spoed hoog wees. Ek kom nog aan, dan begin hy al so half te ry. Maar wanneer ons vinnig by die Kooperasie stop, dat hy net VINNIG ietsie kry wat hy vergeet het, en dit vat ‘n halfuur of langer waar ek in die bakkie sit. Dan, DAN is hy verbaas wanneer ek al so half rooi in die gesig begin raak van ongeduld.
Ek is, ongelukkig moet ek dit erken, die een met die humeurtjie. Dit raak beter, met die ouderdom, maar dis daar. Ek vererg my bitterlik vinnig. My boerman, raak nie maklik kwaad nie. Maar as hy wel kwaadraak, gebeur dit stadig maar seker. Oor ‘n lang tydperk van sukkel met dieselfde ding. Ons het nou een dag laatmiddag teruggekom van Upington. Hy het ‘n 500ml Coke in sy hand gehad. Dit het al seker so 2 keer van tevore gebeur dat wanneer hy die botteltjie oopdraai, dit oorkook. Op sy skoot, op die stuurwiel, ALLES is taai en nat. Dit het weer gebeur. Hy het die ruit afgedraai en die hele bottel Coke by die venster uitgegooi. Ek het amper dubbeld gevou soos ek gelag het. Want Johnny mors nie met goed nie, maar hy het genoeg gehad.
Deur al hierdie verskille, is die lewe sooooo lekker as jy met jou beste vriend getroud is. Die een wat alles van jou weet, wat jou verstaan, wat die grond aanbid waarop jy loop, wat jou respekteer. Maar die belangrikste van alles, wat jou laat lag. Hoe gelukkig kan een vrou wees!

No comments:

Post a Comment