Onlangs kry ek op een gewone Maandagmore daai bedrukte gevoel. Daai gevoel dat jy die wêreld se probleme moet help oplos. Niks lekker nie.
Ek weet dis verkeerd, maar ek kry toe ook daai jammerkry gevoel. Almal en alles skuld my iets. Ek is verontreg. Ek het wel met ‘n lied in my hart opgestaan, my blydskap gevoel het ongelukkig net nie baie lank aangehou nie.
Dit het eintlik begin met toe ek nie kon saamry dorp toe om die werksmense te gaan haal nie. Ons ry meeste van tyd elkeen op sy eie dorp toe, maar hierdie spesifieke Maandagoggend wou ek graag saamgaan. Johnny is vroegoggend gou Noute toe om net die waters om te ry en voer te gee. As hy terugkom, ry ons.
Ek is opgewonde. So vinnige dorp toe gaan trippie is altyd lekker. Heel naweek al is ek lus vir ‘n Kit Kat. Sommer net ‘n gewone een, nie die “family size” nie, dis darem te erg. Ek stap maar weer ‘n entjie verder more oggend, probeer ek my skuldgevoelens wegskuif. Ek was my hare en blaas dit ekstra mooi.
Toe die melkbok my vroegoggend wil stamp, uiter ek nie eers een lelike woordjie nie. Ek vergewe haar, want ek gaan bietjie later dorp toe. Sy het seker maar ook ‘n slegte dag.
Ek plant my nuwe pienk malva en die “lollypop” bottelborsel in die halwe wynbalies van OWK. Maak hulle nat met varswatertjies. Seën hulle. Mens doen mos dit met plante in die Boesmanland. Toe sit en wag ek vir manlief dat ons kan ry. Ek het sommer ‘n huppel in my stap.
Wat ek nie geweet het nie, is dat hy met mense in Upington gereel het vir die gooi van sementblokke, op hierdie spesifieke dag. Iemand moet hier bly. Aangesien al die werksmense in die dorp is. Daai iemand is toe natuurlik Lientjie. Dis nou ek. Nou as my man my so noem, dan probeer hy my paai. Hy kon op my gesig sien ek is glad nie gelukkig nie. En ek moet groot asseblief tog so by 1 uur se kant gou die voerkraal lammers se pille uitgooi. Hy het dit nou nog nie geweeg nie, maar ek kry duidelike instruksies. Ek het tyd gehou, dit neem my presies ‘n driekwart uur. Ek weet nie eintlik hoekom het ek dit gedoen nie. Tyd gehou bedoel ek. Seker omdat ek kwaad was.
Toe ek die Toyota se stofwolkies oor die bult sien verdwyn is ek moedeloos. Ek is sommer vies vir die melkbok wat ewe skielik so wilde streep in haar het. Ek is ook nie meer lus vir ‘n Kit Kat nie. Ek is alleen. En eensaam. Ek dink selfbejammerend dat hier niemand, maar niemand is waar ek gou ‘n koffietjie kan gaan drink nie. En die windjie waai ekstra treurig om die huis se hoek.
Manlief was skaars ‘n halfuur weg toe verlang ek na hom. Ek probeer onthou of ek darem gesê het ek is lief vir hom voor hy gery het. Ek dink ek het, dis nou nadat ek gebrom het oor die lammers se afrondkorrels wat te swaar is en dat ek ook nie lus is om alleen by die huis te bly nie.
Ek voel byna onmiddelik skuldig. Hoeveel keer het hy nie al my hanslammers versorg sonder om ‘n woord te se nie. Hy kom laai getrou elke week vir hulle voer af by die klein kraaltjie langs die huis, sonder ‘n prys. Hy luister na al my grille en geite. Ook nie altyd nie, probeer ek minder skuldig voel. En hy het ook vanoggend verduidelik dat dit te gevaarlik is vir my om ‘n vrag werksmense, wat nie altyd heeltemaal by die positiewe is nie, vroualleen te gaan oplaai. Ek wou dit net nie verstaan nie.
Presies ‘n uur nadat hy gery het van die huis af, bel ek om te hoor of hy darem veilig in die dorp is. Hy vra bedagsaam of daar nie iets is wat ek dalk nodig het nie. Nee, hy moet asseblief net onthou om pos uit te haal, sê ek. En o ja, vir ingeval ek dalk nie vanoggend gesê het nie, ek is lief vir jou.
Bietjie meer positief, sit ek vir RSG kliphard aan. My gemoed lig effe. Ek het baie om voor dankbaar te wees onthou ek. En eintlik maak chocolates mos vet. Ek moet ophou kla en eerder gaan stap.
Toe ek die bakkie hoor aankom is ek opgewonde en wonder stilweg of hy dalk vir my ‘n Kit Kat sou saambring. Ek sal maar wag en kyk, die hardkoppige streep in my gaan beslis nie vra nie.
Hy kom met ‘n selfvoldane glimlag by die voordeur in. Raai wat het ek vir jou saamgebring? En hy plak die Aero slab op die kombuiskas neer. Ek weet jy’s mal oor ‘n Kit Kat, maar die kafee het nie van daai “Family Size” gehad waarvan jy so baie hou nie. (Wat ons darem gewoonlik deel!) My hart mis omtrent ‘n slag, ken ons mekaar dan so goed? Ek verseker hom dat die Aero een honderd persent reg is. Jy hoef dit nie met my te deel nie sê hy, dis net joune. Omdat jy alleen by die huis moes bly vandag.
Dit was darem seker nou ook nie so erg nie, dink ek skuldig vir die hoeveelste keer. Hoeveel keer moes hy nie al alleen op die plaas agterbly met een van my omswerwinge nie. Sonder om te kla. Ek besluit daar en dan om minder te kla oor onnodige nietige goedjies. En meer dankbaar te wees vir ‘n man wat so goed is vir my. En my so goed ken om te weet ‘n Kit Kat is my gunsteling!
Ek het toe die Aero met hom gedeel. Nie presies nie, maar darem. Sommer net omdat ek lief is vir hom.
No comments:
Post a Comment