Sunday, 7 October 2012

'n Boesmanland tuin

" Plant hom, en dan seën jy hom as volg; Groei as jy wil, of vrek as jy wil, maar doen asseblief net iets."
Die woorde van 'n gesoute boervrou wat weet van klipperige grond, brak water en die warmste noorde wind. Ek sou dit nie verstaan tot ek self eers begin het om in dìe dorre stuk aarde te probeer tuin maak nie.
Nou kyk, as jong getroude 3 jaar gelede was my voorneme, hier sal ek tuinmaak, kom wat wil. Tenspyte van my oorlede skoonpa se waarskuwing, Opdamkolk wèrk nie vir fyntuin nie.
Ek spring toe ook sommer dadelik weg met die helfte van Augrabies kwekery se struike en fyn blom plantjies. Fout. Struike en fyn klein blommetjies hou nie van warm Noorde winde nie. Ook nie van brak water wat hulle blare brand nie. Skaars 'n week en daar is nie veel oor van my lowergroen aanplantings nie. My moed sak tot in my skoene.
Iemand sê plant Bougainvilleas, hulle is gehard. Ek koop die 2 mooistes met pienk blomme. Hulle is veronderstel om teen die "pergola" op te rank wat ou Koos vir my met latte gebou het. Tweede fout. Na week 2 is dit droë takkies wat in die grond staan.
My pa hulle kom kuier. Hy se plant die bougainvillea in 'n pot, nie klipperige grond nie.

Ek laat ry 'n ou geroeste seeppot van Noute af aan. Plant die droë oorblyfsels van pienk blomme in Kaap Agri se potgrond met baie kompos gemeng. Seën hom. Hy het hierdie somer uitbundig geblom. Ek het ook intussen sommer 'n klein spekboompie by hom in die pot gesit. Hulle hou duidelik van mekaar.

  Tannie Suna se plant peperbome. Ek koop omtrent 20 peperbome by die kwekery. Die vriendelike tuinjong verseker my dat peperbome wel van brak water hou. Hulle doen, glo my. My peperbome groei en ek is in die sewende hemel.

Aalwyne hoor ek, plant aalwyne. Tannie Suna dra weereens vragte vol aalwyne en spekboompies aan. Hulle groei. Aan die begin van die somer het my aalwyne vir die eerste keer hulle eie kleintjies gemaak.

Tannie Alba gee vir my 'n bakkie vrag hotnotsvye. Die plant ek toe onder my nuwe peperbome. Vandag neem hulle my tuin oor.

Ek kan nie gras plant nie maar my man stel voor ek vra vir oom Sarel in Kakamas om vir my wit klippies met die lorrie te bring. Die volgende week kom laai oom Sarel se lorrie vir my 10 ton wit klippies af (regtig 10 ton). Kruiwa vir kruiwa, dag na dag word hulle tussen my peperbome op die kaal grond ingery. Dit lyk prentjiemooi. Oom Hannes sweis vir my die mooiste Victoriaanse teetafeltjie met 2 stoeltjies wat nou onder my pergola staan. En ek ry potte uit die dorp uit aan. Want as fyntuin nie in brak grond groei nie, dan plant ek fyntuin in potte. Mooi potte.

Ek dokter my suurlemoen boompies wat in halwe wynbalies geplant is, met vars water en kos wat ek spesiaal vir hulle by die kwekery gekoop het. Eergister sien ek hulle begin nuwe lemmetjie groen blaartjies uitstoot. My hart jubel!

Intussen, 3 jaar later begin dit lyk soos 'n tuin. My peperbome groei mooi en maak al die lekkerste skaduwee. My malva het die mooiste pienk blomme. En manlief sug. Want ek wil nuwe paadjies lê met teëls wat uit Upington aangery moet word. O en ag as sy draadwerkers tog 'n tydjie het, wil ek ook baie graag 'n groooot voëlhok hê, hierso so in die hoek waar die eens klein dadelboompie nou 'n groot boom begin raak. En dan, vra ek eers weer die volgende dag, sal ek ook graag nog 'n "pergola" langs die nuwe voëlhok wil hê. Waar ek rustig 'n teetjie kan drink terwyl ek na my voëls luister.

'n Boer maak 'n plan. En as ek soggens met my eerste koppie koffie kyk hoe die son opkom oor die 3 groot Kokerbome by die voorhek, dan is my hart dankbaar. Dankbaar vir 'n lewe saam my droom boer en dankbaar vir die mooi pienk blomme van my bougainvilleas.

1 comment:

  1. Helene, ek is al 'n ouer boervrou. 26 Jaar lank en jy skryf lewendig en oulik. Ek sal graag na jou blog wil "subscribe", maar kry nie nou die plek nie. Ek sit al hier vanaf 3:15 am en kyk na trougoed, want my seun wat ook boer wil Oktober hier op die plaas trou. Ek loop toe hierdie oulike blog raak. Ek's ook 'n blogger hier, maar het nie lekker tyd nie.

    ReplyDelete