Ek weet baie mense doen die "blog" ding.
Ek het al so rukkie terug begin wonder of dit nie dalk 'n goeie idee sal wees om ook te begin "blog" nie. Aangesien ek, as jong boervrou (of eerder boer se vrou), baie tyd op hande het. Of dis altans wat mense dink van 'n boervrou.
Wel hier is ek nou. My stories is baie, my kennis van skryf nie so baie.
Hierdie eerste blog is dalk meer 'n regverdiging van hoekom ek moet, en wil, blog.
Die dag as mens met 'n boer trou, en kan ek ook net byvoeg, 'n Boesmanland boer, maak jy outomaties vrede met jou eie geselskap. As jou naaste buurvrou 40 km vêr is, en manlief meeste van die tyd besig met boerdery sake, wel, dan maak jy alternatiewe planne, soos blog.
Kyk, moet my nie verkeerd verstaan nie. Dit is nou eers nadat ek my baie belangrike pligte as boervrou afgehandel het vir die dag.
Op die plaas is daar nie tyd of plek vir laatslaap soggens nie, as die eerste ligstrale van die dag deurkom, word hier al geroer op die werf. Daar is niks, maar niks, wat vir manlief so irriteer soos 'n gelaatslapery nie. Want 'n WARE boer laat nie dat die son hom in die bed vang nie. Punt.
Die hanslammers hou ook nie van 'n laatslapery nie, hulle begin al vroeg more, selfs nog voor die hoenders kraai, 'n keel opsit oor 'n bottel melk. Dis my eerste takie van die dag. Nee, eers my koffie, daarsonder kan ek nie.
En dan beplan ek rustig my dag verder. Sit kos op vir middagete. Maak my tuintjie nat (meer daaroor volgende keer - dis 'n storie op sy eie). Doen die huiswerkies. Ensovoorts.
En net soms kry die eensaamheid my onder, en dan sal hierdie blog handig te pas kom. Dan sal ek eerlik my storie van die week vertel. Soos wat ek dit vir 'n ware vriendin oor 'n koppie tee sou vertel.
Nou is dit eers weer tyd vir my 2 dorstige hanslammers.
No comments:
Post a Comment