Thursday, 25 October 2012

Aleen wees en 'n Kit Kat

Onlangs kry ek op een gewone Maandagmore daai bedrukte gevoel. Daai gevoel dat jy die wêreld se probleme moet help oplos. Niks lekker nie.
Ek weet dis verkeerd, maar ek kry toe ook daai jammerkry gevoel. Almal en alles skuld my iets. Ek is verontreg. Ek het wel met ‘n lied in my hart opgestaan, my blydskap gevoel het ongelukkig net nie baie lank aangehou nie.

Dit het eintlik begin met toe ek nie kon saamry dorp toe om die werksmense te gaan haal nie. Ons ry meeste van tyd elkeen op sy eie dorp toe, maar hierdie spesifieke Maandagoggend wou ek graag saamgaan. Johnny is vroegoggend gou Noute toe om net die waters om te ry en voer te gee. As hy terugkom, ry ons.
Ek is opgewonde. So vinnige dorp toe gaan trippie is altyd lekker. Heel naweek al is ek lus vir ‘n Kit Kat. Sommer net ‘n gewone een, nie die “family size” nie, dis darem te erg. Ek stap maar weer ‘n entjie verder more oggend, probeer ek my skuldgevoelens wegskuif. Ek was my hare en blaas dit ekstra mooi.
Toe die melkbok my vroegoggend wil stamp, uiter ek nie eers een lelike woordjie nie. Ek vergewe haar, want ek gaan bietjie later dorp toe. Sy het seker maar ook ‘n slegte dag.

Ek plant my nuwe pienk malva en die “lollypop” bottelborsel in die halwe wynbalies van OWK. Maak hulle nat met varswatertjies. Seën hulle. Mens doen mos dit met plante in die Boesmanland. Toe sit en wag ek vir manlief dat ons kan ry. Ek het sommer ‘n huppel in my stap.

Wat ek nie geweet het nie, is dat hy met mense in Upington gereel het vir die gooi van sementblokke, op hierdie spesifieke dag. Iemand moet hier bly. Aangesien al die werksmense in die dorp is. Daai iemand is toe natuurlik Lientjie. Dis nou ek. Nou as my man my so noem, dan probeer hy my paai. Hy kon op my gesig sien ek is glad nie gelukkig nie. En ek moet groot asseblief tog so by 1 uur se kant gou die voerkraal lammers se pille uitgooi. Hy het dit nou nog nie geweeg nie, maar ek kry duidelike instruksies. Ek het tyd gehou, dit neem my presies ‘n driekwart uur. Ek weet nie eintlik hoekom het ek dit gedoen nie. Tyd gehou bedoel ek. Seker omdat ek kwaad was.

Toe ek die Toyota se stofwolkies oor die bult sien verdwyn is ek moedeloos. Ek is sommer vies vir die melkbok wat ewe skielik so wilde streep in haar het. Ek is ook nie meer lus vir ‘n Kit Kat nie. Ek is alleen. En eensaam. Ek dink selfbejammerend dat hier niemand, maar niemand is waar ek gou ‘n koffietjie kan gaan drink nie. En die windjie waai ekstra treurig om die huis se hoek.

Manlief was skaars ‘n halfuur weg toe verlang ek na hom. Ek probeer onthou of ek darem gesê het ek is lief vir hom voor hy gery het. Ek dink ek het, dis nou nadat ek gebrom het oor die lammers se afrondkorrels wat te swaar is en dat ek ook nie lus is om alleen by die huis te bly nie.
Ek voel byna onmiddelik skuldig. Hoeveel keer het hy nie al my hanslammers versorg sonder om ‘n woord te se nie. Hy kom laai getrou elke week vir hulle voer af by die klein kraaltjie langs die huis, sonder ‘n prys. Hy luister na al my grille en geite. Ook nie altyd nie, probeer ek minder skuldig voel. En hy het ook vanoggend verduidelik dat dit te gevaarlik is vir my om ‘n vrag werksmense, wat nie altyd heeltemaal by die positiewe is nie, vroualleen te gaan oplaai. Ek wou dit net nie verstaan nie.

Presies ‘n uur nadat hy gery het van die huis af, bel ek om te hoor of hy darem veilig in die dorp is. Hy vra bedagsaam of daar nie iets is wat ek dalk nodig het nie. Nee, hy moet asseblief net onthou om pos uit te haal, sê ek. En o ja, vir ingeval ek dalk nie vanoggend gesê het nie, ek is lief vir jou.

Bietjie meer positief, sit ek vir RSG kliphard aan. My gemoed lig effe. Ek het baie om voor dankbaar te wees onthou ek. En eintlik maak chocolates mos vet. Ek moet ophou kla en eerder gaan stap.

Toe ek die bakkie hoor aankom is ek opgewonde en  wonder stilweg of hy dalk vir my ‘n Kit Kat sou saambring. Ek sal maar wag en kyk, die hardkoppige streep in my gaan beslis nie vra nie.

Hy kom met ‘n selfvoldane glimlag by die voordeur in. Raai wat het ek vir jou saamgebring? En hy plak die Aero slab op die kombuiskas neer. Ek weet jy’s mal oor ‘n Kit Kat, maar die kafee het nie van daai “Family Size” gehad waarvan jy so baie hou nie. (Wat ons darem gewoonlik deel!) My hart mis omtrent ‘n slag, ken ons mekaar dan so goed? Ek verseker hom dat die Aero een honderd persent reg is. Jy hoef dit nie met my te deel nie sê hy, dis net joune. Omdat jy alleen by die huis moes bly vandag.

Dit was darem seker nou ook nie so erg nie, dink ek skuldig vir die hoeveelste keer. Hoeveel keer moes hy nie al alleen op die plaas agterbly met een van my omswerwinge nie. Sonder om te kla. Ek besluit daar en dan om minder te kla oor onnodige nietige goedjies. En meer dankbaar te wees vir ‘n man wat so goed is vir my. En my so goed ken om te weet ‘n Kit Kat is my gunsteling!
Ek het toe die Aero met hom gedeel. Nie presies nie, maar darem. Sommer net omdat ek lief is vir hom.

Sunday, 21 October 2012

Braai in plaasstyl

Ek is oortuig daarvan dat daar geen mense op hierdie planeet is wat so maklik ‘n kuier of ‘n braatjie aanmekaar kan slaan soos ‘n Boesmanlander nie.

In hierdie geweste maak ons van enige moontlike geleentheid ‘n kuier.

As ek die dag regtig nie lus is vir kookkos maak nie, dan haal ek net ‘n vleissie uit. En ‘n sosatie of twee. My man is ook nie vol fiemies nie. Daar hoef nie baie bykosse te wees nie. Net die vleis alleen is reg.
As die middag geslag is op ons werf, dan braai ons as ‘n reel die aand niertjies en lewer in netvet. Koningskos. En ek dek nie tafel nie. Ons eet sommer net so van die rooster af.

Ons het dit ook onlangs bewys toe ons op Nasionale Braaidag omtrent die hele Boesmanland bymekaargeroep het vir ‘n “Cross Braai”. Met ons hout, roosters en drinkgoedjies het ons partytjie gehou op die Kenhardt/Pofadder Kakamas/Loeriesfontein kruising. ‘n Middelpunt vir meeste van ons boere. Ons het jolyt gehou tot laatnag. Ons het vir Klipwerf gespeel, Tannie Gene is immers een van ons mede boervroue. En ons het gedans op die grondpad dat die stofwolke staan!


             
Vroegaand op die kruis, ons is nog aan die uitpak. Ons was omtrent 40 mense gewees.
Nou hier is braai nie sommer net een tjoppie per persoon wat op die vuur gegooi word en dalk ‘n mengelslaatjie as jy gelukkig is nie. Hier word ordentlik gebraai. Ons boer immers met skaap. En ‘n man wat elke dag onder die warm son moet werk, het genoeg vleis nodig. Want sonder vleis het g’n mens mos krag nie.

Ons oor en weer kuiertjies tussen bure begin ook vroeg middag al. So van 5 uur se kant af. Gewoonlik begin die rugby mos in daai tyd, en dit mis ons manne vir niks.  As die halftyd fluitjie blaas, word die vuurtjie aangesteek. Om daardie vuur word planne gemaak en geboer. Nuwe idees uitgeruil. Moed ingepraat. Ons manne jag jakkals om die vuur, hulle kamp nuwe lyndrade en hulle voer vir die vale honger Dorpers. En ons vrouens kry die geleentheid om ordentlik nuus van die week uit te ruil. As jy heelweek maar met jou eie geselskap tevrede moes wees, is jy honger vir ‘n geselsie.

‘n Braai is ook nie ‘n braai sonder aartappelslaai en roosterkoek nie. Met regte egte tuisgemaakte appelkooskonfyt en botter.  Nie Koo se blik konfyt nie. En dalk as jy die vorige dag in die dorp was gerasperde kaas op die broodjie. Mens drink ook nie sap saam met braaivleis nie. Net coke. Of dan nou ietsie sterkers as dit jou voorkeur is.
Ons haal ons mooiste tafeldoeke uit. En ons probeer met elke Saterdag aand se braai iets “anders” maak. Uit Weg se kuierkos resepteboekie. Spesiaal vir braaie. En dan gewoonlik is daar roomys vir poeding. Met sjokoladesous, my man se gunsteling.

Laataand is jy moedeloos as jy eers 15 hekke later by die huis kom. Flits in die hand want ek is doodbang vir skerpioene.

Dis kosbare kuiers die. Hier is kwaliteit tyd saam met vriende nog belangrik. Afstande pla ons nie. Al moet jy omtrent 80 km of meer ry vir ‘n kuier saam jou bure. Ons kry almal weer moed vir die week wat voorle. Ons het dieselfde probleme. Ons verstaan mekaar, ons bly in dieselfde wereld. Dis pitkos vir jou siel.


Thursday, 11 October 2012

Droogte

"As die rëen nie hierdie jaar kom nie, sal hy volgende jaar kom. Maar die Liewe Heer weet wanneer is die regte tyd."
Oupa Johnny, 89 jaar oud, se woorde. Hy weet, hy ken droogte. Hy het immers vir amper 70 jaar geboer in die Boesmanland. Hy is gebore hier. Hy is deur die droogte van die tagtigs. Toe daar vir amper 10 jaar nie 'n druppel rëen op hierdie uitgestrekte stuk aarde geval het nie.

Hy ken die gevoel van 'n swaar hart as die wolke vol beloftes opsteek en die volgende dag weer ooptrek. Hy weet wat doen dit aan jou bankrekening as die vragte voer amper weekliks afgelaai word. Hy ken van store vol lusern pak.

Iemand het eendag gesê as 'n man nie weet hoe om te bid nie, stuur hom Boesmanland toe, hier sal hy vinning leer bid.

"Julle weet nie wat is droogte nie my kind", is sy woorde anderdag aan Johnny toe ons by hom gaan kuier in Kakamas se ouetehuis. Rerige droogte is wanneer daar niks meer oor is nie. Wanneer jou ooie in die kraal moet staan en lam.

Die voerkraal is permanent vol lammers. Hulle kan nie meer van die veld af gelaai word nie. Moet tenminste vir 6 weke lank afrondkorrels gevoer word.

Die wêreld is swart, dis droog. Op party plekke beter as ander. Dieper in die Boesmanland in, Loeriesfontein se kant toe, heelwat erger.
Vir my, wat 'n gebore Karoo meisie is en nie regtig droogte ken nie, is dit swaar. Ek is nie gewoond hieraan nie.

My man het grootgeword hiermee. Dis droë wêreld hierdie. Ons kan nie kies om in die woestyn te bly en dan kla as dit nie permanent groen is nie.
Ek vra anderdag vir hom of hy bekommerd is. Hy antwoord nee, glad nie, die Here het nog altyd voorsien. Hy sal ons nooit alleen los nie. En 'n negatiewe mens maak verkeerde besluite, sê hy. My keel raak dik, die trane vlak. Hy is 27, bitter jonk. En so positief. Hy het al baie seer in sy lewe gehad. Hy mis net sy pa nou ekstra baie. Hy het soms raad nodig. Veral van sy pa, wat self hier geboer het. Wat hierdie wêreld soos die palm van sy hand geken het.

Ek voel skuldig. Ek is die een wat veronderstel is om hom moed in te praat, nie andersom nie.

Ek ry nou die dag saam veld toe. In een van die kampe op Noute is meeste van die Dorper ooie se lammers tweelinge, van hulle selfs drielinge. "Jy is seker bitter opgewonder hieroor?" vra ek. "Ja, dis waarnatoe ek gewerk het met hierdie ooie se teling. Dit moet net asseblief nou rëen, hulle het ekstra kos nodig." Antwoord hy terwyl hulle lek en sout in die voerbakke meng.
"Maar tenminste is hier lammers om te voer, ons kan dankbaar wees. Pa het altyd gesê jy kan eerder 'n maer lam voer as wat jy geen lam hèt om te voer nie." Sê hy. Baie waar. My skoonpa was 'n wyse man.

Dankie Here vir 'n positiewe man, wat 'n goeie boer is, wat respek vir die natuur en vir U het. En dankie dat ons as U kinders weet waar ons hulp vandaan kom. U het nog altyd voorsien, U sal ook hierdie keer.

Sunday, 7 October 2012

'n Boesmanland tuin

" Plant hom, en dan seën jy hom as volg; Groei as jy wil, of vrek as jy wil, maar doen asseblief net iets."
Die woorde van 'n gesoute boervrou wat weet van klipperige grond, brak water en die warmste noorde wind. Ek sou dit nie verstaan tot ek self eers begin het om in dìe dorre stuk aarde te probeer tuin maak nie.
Nou kyk, as jong getroude 3 jaar gelede was my voorneme, hier sal ek tuinmaak, kom wat wil. Tenspyte van my oorlede skoonpa se waarskuwing, Opdamkolk wèrk nie vir fyntuin nie.
Ek spring toe ook sommer dadelik weg met die helfte van Augrabies kwekery se struike en fyn blom plantjies. Fout. Struike en fyn klein blommetjies hou nie van warm Noorde winde nie. Ook nie van brak water wat hulle blare brand nie. Skaars 'n week en daar is nie veel oor van my lowergroen aanplantings nie. My moed sak tot in my skoene.
Iemand sê plant Bougainvilleas, hulle is gehard. Ek koop die 2 mooistes met pienk blomme. Hulle is veronderstel om teen die "pergola" op te rank wat ou Koos vir my met latte gebou het. Tweede fout. Na week 2 is dit droë takkies wat in die grond staan.
My pa hulle kom kuier. Hy se plant die bougainvillea in 'n pot, nie klipperige grond nie.

Ek laat ry 'n ou geroeste seeppot van Noute af aan. Plant die droë oorblyfsels van pienk blomme in Kaap Agri se potgrond met baie kompos gemeng. Seën hom. Hy het hierdie somer uitbundig geblom. Ek het ook intussen sommer 'n klein spekboompie by hom in die pot gesit. Hulle hou duidelik van mekaar.

  Tannie Suna se plant peperbome. Ek koop omtrent 20 peperbome by die kwekery. Die vriendelike tuinjong verseker my dat peperbome wel van brak water hou. Hulle doen, glo my. My peperbome groei en ek is in die sewende hemel.

Aalwyne hoor ek, plant aalwyne. Tannie Suna dra weereens vragte vol aalwyne en spekboompies aan. Hulle groei. Aan die begin van die somer het my aalwyne vir die eerste keer hulle eie kleintjies gemaak.

Tannie Alba gee vir my 'n bakkie vrag hotnotsvye. Die plant ek toe onder my nuwe peperbome. Vandag neem hulle my tuin oor.

Ek kan nie gras plant nie maar my man stel voor ek vra vir oom Sarel in Kakamas om vir my wit klippies met die lorrie te bring. Die volgende week kom laai oom Sarel se lorrie vir my 10 ton wit klippies af (regtig 10 ton). Kruiwa vir kruiwa, dag na dag word hulle tussen my peperbome op die kaal grond ingery. Dit lyk prentjiemooi. Oom Hannes sweis vir my die mooiste Victoriaanse teetafeltjie met 2 stoeltjies wat nou onder my pergola staan. En ek ry potte uit die dorp uit aan. Want as fyntuin nie in brak grond groei nie, dan plant ek fyntuin in potte. Mooi potte.

Ek dokter my suurlemoen boompies wat in halwe wynbalies geplant is, met vars water en kos wat ek spesiaal vir hulle by die kwekery gekoop het. Eergister sien ek hulle begin nuwe lemmetjie groen blaartjies uitstoot. My hart jubel!

Intussen, 3 jaar later begin dit lyk soos 'n tuin. My peperbome groei mooi en maak al die lekkerste skaduwee. My malva het die mooiste pienk blomme. En manlief sug. Want ek wil nuwe paadjies lê met teëls wat uit Upington aangery moet word. O en ag as sy draadwerkers tog 'n tydjie het, wil ek ook baie graag 'n groooot voëlhok hê, hierso so in die hoek waar die eens klein dadelboompie nou 'n groot boom begin raak. En dan, vra ek eers weer die volgende dag, sal ek ook graag nog 'n "pergola" langs die nuwe voëlhok wil hê. Waar ek rustig 'n teetjie kan drink terwyl ek na my voëls luister.

'n Boer maak 'n plan. En as ek soggens met my eerste koppie koffie kyk hoe die son opkom oor die 3 groot Kokerbome by die voorhek, dan is my hart dankbaar. Dankbaar vir 'n lewe saam my droom boer en dankbaar vir die mooi pienk blomme van my bougainvilleas.

Thursday, 4 October 2012

'n Overview oor my lewe op die plaas

Ek weet baie mense doen die "blog" ding.

Ek het al so rukkie terug begin wonder of dit nie dalk 'n goeie idee sal wees om ook te begin "blog" nie. Aangesien ek, as jong boervrou (of eerder boer se vrou), baie tyd op hande het. Of dis altans wat mense dink van 'n boervrou.

Wel hier is ek nou. My stories is baie, my kennis van skryf nie so baie.

Hierdie eerste blog is dalk meer 'n regverdiging van hoekom ek moet, en wil, blog.

Die dag as mens met 'n boer trou, en kan ek ook net byvoeg, 'n Boesmanland boer, maak jy outomaties vrede met jou eie geselskap. As jou naaste buurvrou 40 km vêr is, en manlief meeste van die tyd besig met boerdery sake, wel, dan maak jy alternatiewe planne, soos blog.

Kyk, moet my nie verkeerd verstaan nie. Dit is nou eers nadat ek my baie belangrike pligte as boervrou afgehandel het vir die dag.
Op die plaas is daar nie tyd of plek vir laatslaap soggens nie, as die eerste ligstrale van die dag deurkom, word hier al geroer op die werf. Daar is niks, maar niks, wat vir manlief so irriteer soos 'n gelaatslapery nie. Want 'n WARE boer laat nie dat die son hom in die bed vang nie. Punt.

Die hanslammers hou ook nie van 'n laatslapery nie, hulle begin al vroeg more, selfs nog voor die hoenders kraai, 'n keel opsit oor 'n bottel melk. Dis my eerste takie van die dag. Nee, eers my koffie, daarsonder kan ek nie.
En dan beplan ek rustig my dag verder. Sit kos op vir middagete. Maak my tuintjie nat (meer daaroor volgende keer - dis 'n storie op sy eie). Doen die huiswerkies. Ensovoorts.

En net soms kry die eensaamheid my onder, en dan sal hierdie blog handig te pas kom. Dan sal ek eerlik my storie van die week vertel. Soos wat ek dit vir 'n ware vriendin oor 'n koppie tee sou vertel.

Nou is dit eers weer tyd vir my 2 dorstige hanslammers.