Sunday, 24 August 2014

Die Engele om ons


Ons Sondag het rustig begin. Met ‘n gebruiklike koppie moerkoffie.

Omtrent ‘n uur later noem Johnny dat hy net gou vinnig na die bees in die kamp hier agter die huis toe ry. Daar is ‘n koei wat hartverskeurend bulk, ons hoor haar tot by die huis. Toe hy egter na omtrent 15 minute steeds nie terug is nie, het ek klaar vermoed hier is fout. Is toe ook so. Hier kort ‘n kalf, kondig my boerman aan toe hy by die kombuis instap, skuins na 7. Al die bees is by die water, net die een kalf wat kort.

Ag wat sê ek, dalk lê en slaap hy maar net êrens.

Toe ons vanmiddag opstaan na ‘n lekker Sondag middag slapie, vra Johnny of ek gou wil saamry na die Bonsmara bul toe. Hy wil gou vir hom water en stukkie lusern vat. Die bul was baie siek laasweek, en lê so drie kampe van die huis af weg, waar die rooi bees loop. Genadiglik is hy weer aan die gesond word.

Ek ry graag saam. Ek trek gou skoene aan terwyl Johnny die bakkie kry. Dis egter waar die eerste blessing in hierdie hele storie van my begin. Ek trek amper NOOIT tekkies aan nie, veral nie op so heerlike warm dag soos vandag nie. En snaaks  dat ek toe skielik so half ”gedwing” voel om tog maar die tekkies aan te trek. Min wetend wat op ons wag.

Toe ons terugry van die bul af, noem Johnny dat hy wonder of ons nie maar gou moet kyk of ons nie dalk net daai kalf êrens kry nie. Nou jy moet mooi verstaan, die kamp is regtig groot, en die gras staan redelik hoog. Dis byna ‘n onmoontlike taak. Maar ons moet tenminste probeer. Dit IS ‘n bees kalf. En dit IS ons verantwoordelikheid om te doen wat ons kan.

Ons het die hele kamp deurgery. Asook verby die trop skaap wat almal op ‘n bondel staan. Geen teken van ‘n verlore kalf nie. Ons het moed opgegee en was eintlik al oppad terug huistoe toe daar skielik, so 100 meter voor ons, ‘n ooi alleen langs ‘n bos staan. Soos wat enige boer natuurlik sal doen, ry Johnny nader om te kyk of daar fout is met die ooi. Gewoonlik as hulle so alleen staan, het hulle pas klaar gelam. Maar die ooi het al ‘n redelike groot lam, en sy makeer absoluut NIKS. Sy hardloop eerder weg. Die volgende oomblik stop Johnny dat die stofwolkies eintlik so verby my venster kom, daar lê die verlore kalf, so skuins agter die einste bos. Binne in ‘n groot erdvark gat geval.

Ons het nog NOOIT so iets teëgekom nie. Daar is gelukkig altyd ‘n tou agter al die bakkies se sitplekke. Johnny het die tou aan die kalf se voet vasgemaak, en ons het ‘n spanpoging aangewend om haar uit te kry. Maar dis al ‘n groot speenkalf, so ons het haar nie eers beweeg gekry nie. En sy was al van al die roei om uit te kom, so vêr in die gat geval, dat regtig nog net haar kop en ‘n stukkie voorlyf bo die gat uitgesteek het. Met absolute vreesbevange oë het sy vir ons gekyk. Hy het toe die tou aan die bakkie se hak vasgemaak, en ek moes agter die stuurwiel inklim. Hy sal help trek aan die kalf. Paar sekondes later help ons die kalf op haar effense wankelrige voete, en daar gaan sy. Maar toe sit daai Hilux so vas gespin in die sand, NIKS kan hom beweeg nie.

Right, dit beteken dis te voet terug huis toe. Blessing nommer een, dankie vir tekkies, en NIE my gebruiklike plakkies nie. Mag ek noem, dis aan die heel verste punt van die kamp? So bietjie meer as ‘n halfuur se (VINNIGE) stap. Ek het meestal gedraf om by te hou by my man se lang bene.

Ons het ‘n ander bakkie gaan haal, en die Hilux kom verlos uit die sand. Die kalf sal hopelik binnekort weer sy ma opspoor.

Toe ons egter rustig raak, en terug is by die huis. Het ek en Johnny byna gelyk tydelik hardop ons Vader se HAND in hierdie oomblik van vanmiddag gevoel.

Hy het ons absoluut GELEI, vandat ons vanmiddag opgestaan het, todat daardie kalf uit die gat was. Van die regte “toerusting” tot WAAR in daardie groot kamp die kalf presies was. Daardie ooi was gestuur om daar te staan. DIT is daardie HOENDERVLEIS oomblikke in boerdery, waar jy WEET die Here het sopas met jou gepraat, Hy het jou gehelp, en jy het geluister.

En dan wonder ek, of nee weet ek. Engele kom in verskeie vorms, ons moet net leer om hulle raak te sien.

Tuesday, 5 August 2014

Opdamkolk se gevreesde Hoenderhaan


Die “HAAN”, is ‘n Koekoek spesie. Die “man” onder my grênd lê henne. Hy kan sy pronk vere dank dat hy nog lewe. Hy is een van die ongeskikste, mees arrogante hoenders wat ek nog ooit gesien het. Hy JAAG my. As jy te naby aan hom, of een van sy precious dames kom, kyk hy jou vir so kwessie van ‘n sekonde, dan skud hy sy vere so liggies, gee ‘n KRAAAAAI en dan julle, dan storm hy. Ek belowe hierdie is nie ‘n grap nie. Hy hardloop so vinnig, dit lyk of hy sweef oor die werf. Party mense wat sulke lekker gym arms het, loop mos altyd so bakarm. So asof hulle nie genoeg spasie het vir hul arms nie. Die HAAN is dieselfde. Hy hardloop so “bakarm” op jou af.

Jy het egter nie baie tyd om te besluit hoe jy die sitsuasie gaan hanteer nie. Daar is slegs 3 opsies.

Nommer 1: Jy skree so hard as wat jy kan. Ek het dit die eerste keer probeer. Ek het niksvermoedend eiers uitgehaal toe hy my bevlieg van agter af. Ek het kliphard gegil en hom met die mielies in my hand gegooi. Ek weet nie wie het die grootste geskrik nie. Johnny egter, wat besig was in die stoor, ‘n klipgooi verder, het my aangekyk met ‘n uitdrukking van: “Wat op aarde gaan met jou aan??” So nommer 1 werk nie.

Nommer 2: Jy hardloop weg. Dis met hierdie een wat ek gesien het, die haan het niks teen MY nie, hy het ‘n probleem met almal, meer spesifiek vrouens. My huishulp, Elsie, het al ‘n nuwe voetpad uitgeloop agter die nuwe stoor verby. ELKE oggend, invaltyd, as sy verby die bokke se kraal so entjie van die huis af loop, wag hy haar in, dan skud hy sy veertjies reg, en dan begin hy hardloop. En Elsie hardloop saam. Ek kan nie vir jou BESKRYF hoe snaaks dit is nie. Uiteindelik wen Elsie. En sy klap die voorhekkie in sy gesig toe. Maar ongelukkig werk hierdie ook nie, want ek dink hy het dit as ‘n game begin sien. Sy kan nie meer naby die haan kom nie, dan jaag hy haar. Elsie verloor lekker gewig, want sy hardloop elke oggend en elke middag huistoe en terug.

Nommer 3, asook die uiteindelike oplossing (wel so het ek gedink), is om jouself te “bewapen”. Lag maar vir my, maar ek beweeg nie buite die werf sonder ‘n plastiek dropper in my hand nie. Ek het vir HAAN net so 2 keer bygekom met daai dropper, toe verstaan ons 2 mekaar. Ek het die voorstel aan Elsie ook gemaak, maar sy is bang sy “slat die nooi se enigste haan vrek”. So dan moet sy maar sien kom klaar. Hy kom nog so aangeswewe na my toe, dan swaai ek die dropper. Ek slaan hom plat teen die grond. Ek het gedink hy is dood. Onkruid vergaan egter nie. Ek het egter te gerus geraak. Ek was sonder my dropper. En met ‘n bak vol eiers in my hand, 20 plus. Hy het my heel onverwags gevang. Toe gooi ek hom met ‘n eier. Sal hy nie WRAGTIG waar omdraai en my ‘n TWEEDE keer bestorm nie. Toe verlos ek maar die bak eiers in my hand. Ek het 4 heel eiers opgetel. Ek hoef nie Johnny se kommentaar te herhaal nie. Hoe KAN ‘n mens bang wees vir ‘n HOENDER? Wat jou op jou EIE werf ‘n lewe lei.

Dit is seker nie normaal nie, maar mens skrik jou lam. En laat ek jou een ding sê, daai haan skop blerrie seer.

Ek kan nie verstaan dat die HAAN nog nooit vir HOM ‘n try gegee het nie. Maar Johnny het hom al telkemale belowe, hy SAL spyt wees. Hy SAL hom skop. En hy SAL nie lewendig daarvan afkom nie. Dink die HAAN het dit ernstig opgeneem. Ek wens egter ek kan dit net eenkeer beleef. ‘n Hoenderhaan wat my boerman ‘n go gee.

Tuesday, 6 May 2014

Vroue van die Boesmanland


Tannie Alba (my buurvrou) het eendag gesê, moet asseblief nie sê ons is boervrouens nie, ons is ‘n boer se vrou. Ons is dames. As die nood druk, en ook omdat dit soms vir ons lekker is, help ons ook lammers merk, en jakkals jag, en bees werk (op ‘n afstand…), MAAR en dis ‘n GROOT maar, dit beteken NIE ons hardloop met blou overalls en vellies die vlak vol, sonder grimering en mooi skoon hare nie. Nee, ons bly dames, en al bly ons ver in die vlaktes, hou ons van mooi aantrek, van make-up, van mooi skoene en van huis mooimaak.

Kyk daar is ook ‘n tyd vir alles, ek gaan nou nie myself bespotlik maak en met my nommer 8 stilettos in die skaapkraal gaan staan nie, maar ek kan nogsteeds soos ‘n dame lyk, en voel.

Toe ek as jong, onervare, pasgetroude vrou kom nesskop hier in die Boesmanland, het ek nooit kon dink dat ek ook sou leer vleiswerk, konfyt kook, hoenderkuikens grootmaak, hanslammers red, eiers uithaal of weet wat die waarde van boerseep is nie. Al hierdie dinge het vir my soos iets in die verre toekoms gelyk, en gevoel.

Maar van vroue wat inspireer, leer en kan touwys maak, is hier nie ‘n tekort in die geweste nie. Ons jonges is maar yl gesaai, meeste vrouens in die wêreld is al vir 20 plus jaar hier ingetrou. Maar hulle kan, hulle weet van, hulle ken die benoude gevoel van droogte, en wat dit aan jou man se gemoed doen. Hulle ken van die “huil van dankbaarheid gevoel” as die eerste reëns val na ‘n knellende warm somer. Hulle ken van lysies maak vir dorp toe gaan, en hoe om sonder iets reg te kom vir 2 weke as jy vergeet het om dit op jou lysie te skryf. Hoe om ‘n resep te verander na alles wat jy wel in die huis het, na iets wat nou sommer jou eie nuwe resep is. Hulle het al die harde lesse van vleiswerk geleer. Van konfyt wat sandsuiker, van koeksisters wat se stroop te min is. Hulle het geleer van hanslammers in die koue voor die stoof in die kombuis warm maak, van kuikens in ‘n appelboks in die sonkamer. Van die klein skaaphond leer om nie hoenders te vang nie, en van peperbome en aalwyne wat welig groei in die Boesmanland, moenie viooltjies en alle snaakse goedjies probeer nie, dit werk nie. Dis te warm.

Hulle ken van boererate omdat die dokter vêr is. Hulle het hul eie stel tools (net so ter inligting, myne is pienk.) wat in die huis BLY, dit gaan nie stoor toe nie, want as dit terugkom, AS dit terugkom, het dit enige iets van olie tot bloed op. Hulle kan self ‘n wiel omruil oppad dorp toe (gewoonlik as jy jou mooiste wit nommertjie aanhet.). En hulle kan ‘n lam gradeer voor hy geslag is. Hulle het geleer om nie te wag tot “pappa” by die huis kom voor die vet geelslang voor die agterdeur sneuwel nie, maar om Tarzan se suster op jouself te trek, en hom met die haelgeweer by te kom. (Ek gaan bieg, ek was nog nie so braaf nie.)  Hulle ken van alleen wees, veral die ekstra alleen gevoel as dit so ysig koud raak in die winter, en die windjie huil om die huis se hoeke. Manlief is kilometers vêr in die veld, dan maak jy vir jou lekker moerkoffie met kondensmelk, kry jouself vir so tydjie jammer, en beweeg dan aan.

Ek het by al hierdie vrouens al iets geleer, en elkeen van hulle inspireer my op ‘n anderse manier.

Vir tannie Sikkie hoef jy NIKS van koeksisters te vertel nie, sy’s die koeksister queen in die Boesmanland. Sy’t ook geleer, jy hoef nie kwepers af te skil as jy konfyt wil kook nie, jy was hulle af, en dan RASPER jy hulle.

Tannie Suna ken van vleiswerk, en sy het al al die harde lesse geleer, en deel dit graag sodat ek dit nie ook hoef te leer nie. En sy raak nooit ongeduldig oor vragies nie. Ek kan haar enige tyd van die dag bel, sy help altyd mooi. Sy whatsupp uit die bloute, “onthou as jou gevriesde worsvleis bietjie te droog is, sprinkel net so KLEIN bietjie asyn oor. Gevriesde worsvleis is geneig om bietjie droog te wees. En onthou, gooi die kaas vir die kaaswors by NADAT jy die vleis gemaal het.”. En ek kry so warm gevoel in my hart, dis darem so lekker as iemand omgee. Tannie Suna is ook die naaldwerk diva in die Boesmanland, en as jy haar naaldwerk kamer al gesien het, sal jy sonder dat jy ooit enige intensies gehad het om te begin naaldwerk doen, dadelik lus kry daarvoor. Dis soos die paradys vir enige naaldwerk liefhebber. Sy het my baie raad gegee toe ek my eerste kwilt aangepak het.

Tannie Alba is KUNSTIG en KREATIEF. In hoofletters. Sy kan letterlik uit ‘n stuk koerantpapier iets skep. Sy dek mooi tafels, en maak goed wat jou laat wonder hoekom op dees aarde in die lewe kon jy nie ook aan so iets dink nie. En soos ek reeds gesê het, met MIN. En haar TUIN. Dis ‘n lushof, sy het groen vingers. En sy is ook nie suinig met steggies en plantjie uitdeel nie.

Hier is so baie, en ek kan nie oor almal iets skryf nie, dis ook ‘n boek op sy eie. Tannie Keppies bak die hemelste lekker beskuit, en het my ook stap vir stap geleer hoe om ‘n skaapboud te ontbeen. Dis toe glad nie so moeilik nie. Vriendin Adri bak die mooiste, lekkerste koeke, rerig uit die boeke. Tannie Retha ken van kleinkoekies bak, en hekel.

Maar ELKEEN van hierdie vroue, het my al iets geleer, en ek het van ELKEEN van hulle ‘n resep in my eie swart resepteboek met die rooi rugkant. En ek is nie bang om raad te vra nie, dis al hoe mens leer. Anders sal jy altyd onkundig en dom bly.

Ek SALUEER julle. Vir jul uithouvermoë, dapperheid en wysheid.

En ek hoop dat as die Here my so lank spaar, ek ook eendag vir die nuwe jong vrouens in die Boesmanland, so baie kan leer, en raad gee.

Thursday, 13 March 2014

Die krisis van sentiment


Wat is dit met ons dat ons so sukkel om WEG te gooi. Jy wil mos altyd ‘n ding bêre net vir INGEVAL jy dit dalk weer kan nodig kry.

In my plaaskombuis bo die stoof is 2 rakkies met “hakke”, gemaak van teelepels en vurke. Dis die plek vir alle opgaargoedjies soos ‘n klippie, ‘n geroeste blikbeker, ‘n ou langtand geroeste papvurk en nog vele goedjies wat elk ‘n unieke storie vertel. Daar is onder andere ‘n klein emmertjie, waarin jy min of meer enige iets sal vind. Die nuutste, wat Johnny gister met vreeslike fanfare vir my gebring het, is ‘n ystervarktand. Jip, rerig. ‘n TAND. So lange. Hy is darem skoongemaak.

Ek het egter perke wat sentiment aanbetref.  Ek sorteer gereeld uit en ek floreer in orde. Ek hou nie van ‘n deurmekaar kas nie, ook nie van ‘n oorvol deurmekaar huis nie. Ek kry nie gefokus nie. Natuurlik is daar sekere goed wat mens bêre, of jy nou hou van opgaar of nie. Maar daar moet ‘n balans wees!

My liefste boer man is ‘n sentimentele siel. MAL daaroor om alles te bêre, nog maller oor opgaar. Mal genoeg daaroor om selfs sy ou veldskoene te bêre, want, mens weet mos nooit wanneer jy dalk so klein stukkie leer kan nodig kry nie. Ek het gou daai streep getrek in ons huis, dis reg as jy alles om jou wil bêre, maar beslis nie in ons huis nie. In jou stoor, workshop, solder, watookal, maar NIE in ons huis nie.

Hy kan eenvoudig NIKS weggooi nie. NIKS. Ek belowe jou, as iemand nie vinnig genoeg ‘n leë kondensmelk blikkie in die asdrom gooi nie, dan sal hy dit vat. Want mens kan nooit genoeg leë houers in die stoor hê soos vir byvoorbeeld om net vinnig een kwas in skoon te maak nie. Die probleem is egter, hy vat dit nie dadelik nie. Hy sit dit eers bo op die yskas neer. Hy sal dit LATER stoor toe vat. Ek weet nie van ander huishoudings nie, maar as ek nie keer nie, lyk dit gou-gou soos ‘n oorlogsterrein bo-op ons yskas. Dan vererg ek my gewoonlik een oggend vir alles wat op die yskas staan, en verskuif dit dan na die asdrom toe.

Een van ons eerste “verskille” as pasgetroudes ‘n paar jaar gelede, is toe ek dit GEWAAG het om ‘n toe onlangse veilings boekie weg te gooi. (Net vinnig ter verduideliking vir die wat dalk nie weet nie, mens kry op ‘n ramveiling so boekie/katalogus waarin alle ramme se syfers en belangrike inligting is, dan skryf jy die pryse langsaan soos hulle verkoop). Ek het nie geweet dis so belangrik nie. Vir Johnny is dit, hy was regtig baie ontstig. Ek het terwille van vrede in ons van Wyk huis toe ‘n houer gekry, waarin ek alles wat volgens my gemors is, vir hom bêre. Ek het ook geleer om NIKS van hom weg te gooi voor ek nie gevra het nie. Nodeloos om te sê, ek kry selde die groen lig.

Daar is baie sulke goed, maar kom kuier vir ons, dan vat ek jou na Johnny se werk stoor toe, daar is ‘n solder bo-op. Jou mond sal oophang oor alles. O, en net so vir die rekord, dis nou behalwe die goed wat in Barsvley se ou huis staan. 3 kamers vol. Ou meubels, bokse vol boeke, bokse vol speelgoed uit ons altwee se kinderdae. Noem maar op, dis daar. Dit bekommer my dat as ons op 28 al so baie opgegaar het, HOE gaan dit lyk die dag as ons 80 is….?

Maar die eintlike oorsprong van hierdie storie is, my ousus en haar gesin trek. Namibië toe. Plaas toe. Hulle is besig met die 2de groot trek. Want sien, sy is OOK ‘n baie, BAIE sentimentele siel. Sy bel nou een oggend. Sy is besig om haar werkskamer op te pak. Sy sukkel, want, sê sy, hier is nou nog so 7 van hulle trouprogramme (wat dateer uit 11 Desember 2004). En dit kan sy mos nou nie weggooi nie. Nee sê ek, hou een en gooi die res weg. Nee sê sy, sy het mos reeds een van alles gehou van hul troudag, en dit geraam. Maar wat nou van hierdie. Mens kan dit mos nie net WEGGOOI nie….Ek sê, GOOI WEG SUSTER. Jy kan wragtag nie al hierdie opgaarsels saamtrek Kudung toe nie. Dis belangrik om te noem dat ek vanoggend verneem sy het dit toe maar ingepak. Sy kon dit toe nie oor haar hart kry nie…. I rest my case.

(Ek dink ek moet gaan kuier met die uitpakkery einde April, dalk kan ek sommer namens haar uitsorteer, en wel ‘n plan maak met die 7 programme. Ek sidder om te dink hoeveel trou uitnodigings van 10 jaar gelede en koek versierings van Naomi se eerste verjaarsdag partytjie gaan skuil tussen al die bokse…!)

Thursday, 20 February 2014

Mense en hul voete


Nie te lank gelede nie, staan ek een oggend ongeduldig in ‘n ry in ‘n besige en warm Upington.

Voor my staan ‘n mooi vrou. Blonde hare, bruingebrand, stylvol aangetrek. Mooiste juwele wat klingel om die arms. Perfek, dink ek. Skielik, soos nog altyd die gewoonte van my, kyk ek na die voete. Ek ril effens. Hoe is dit moontlik. Dat iemand, met so ooglopend perfekte voorkoms, se voete SO kan lyk. Mense, ek het in my hele lewe nog nie iemand met sulke gebarste hakke gesien nie. En droë voete. En, die kersie op die geflopte koek, ‘n paar uitgetrapte Crocs plakkies. En daar verander my opine oor mevrou soos in DA-DE-LIK. Net daar. Want, voete wat nie versorg is nie, lyk vuil. Dit sê gelukkig, of ongelukkig, nogals baie van ‘n persoon.

En net voor ek gestenig word, jy hoef nie een maal per week ‘n spa te besoek om mooi versorgde voete te hê nie. ‘n Ordentlike vyl en goeie voetsalf. ELKE dag. Melksalf, te koop by die kooperasie, werk soos ‘n bom. En as jy ook die moeite ontsien om ‘n voetskuurder te koop, ek is seker skuurpapier sal ook die ding doen. Ek self ken iemand wat al ‘n grinder of nog erger, ‘n lekker skerp Victorionox mes gebruik het. Maar dalk is dit wys om dit nie so ver te laat gaan voor jy plan maak nie.

‘n Nuwe tendens is naels in enige kleur van die reënboog. Dis pragtig, en ek hou self van rooi of oranje naels. Maar as jy dit nie ordentlik kan doen nie, LOS DIT NET SO, sonder cutex. Want rooi, of oranje, of nog erger, blou cutex wat afdop, is leliker as ‘n vrou wat te veel gedrink het. Dit geld ook vir hande. Dit help nie mevrou die uwe het ‘n Michel Herbelin horlosie en 2 karaat diamant trouring aan, en die naels is in die lewe afgekou met so hier en daar ‘n oorblyfsel van 7 weke terug se akriel nie. Of lank, ongevyl en met gister se tuinwerk grondjies onder. Glo my, daai deel sien jy ongelukkig eerste raak voor jy sien hoe pappa se beursie gekreun het onder daai juwele aan die hande.

Dan is daar die skoene deel.

Ek is gebless met ‘n paar stewige nommer 8 voete. Ek is lankal nie meer skaam daaroor soos op skool nie. Hulle is gesond. En geskuur, geverf en geroom. Wat wel soms die ding is, mense met hierdie grootte voet, se skoen verskeidenheid is ongelukkig nie so geredelik beskikbaar soos iemand met die 5 en 6 voetjies nie. So die dag as ek in ‘n winkel kom waar die mooi nommer 8’s orals rondstaan, pak ek soveel pare in my trollie soos wat my beursie op daardie stadium toelaat. Ek is MAL oor skoene, behalwe die met hemelhoë hakke. Dit het sy plek, maar beslis nie as jy 5 hekke moet oop en toemaak om in die dorp te kom nie. En soms, as ek so in die mall rondstap, en ek sien iemand met so paar stillettos, kan ek ook nie help om die gepynigde uitdrukking op die gesig te sien nie. G’n wonder daai girls het altyd sulke paar KUITE nie. Ek salueer jou. Om te balanseer en stylvol te lyk op daardie outjies. Dit vat oefening. Maar ek het nie hoogte nodig nie, met lengte het ek ook voor in die ry gestaan.

En o ja, so vir oulaas. Crocs en tekkies mag dalk gemaklik wees, maar dit het OOK sy plek. Tuinwerk en gym. Net daar. Nie ‘n treë verder nie.

Monday, 20 January 2014

Dis daai klein jakkalsies...


Almal kry soms hierdie klein duwweltjie in die pad. En ALMAL raak soms kwaad vir hierdie goed, maak nie saak of jy die rustigheid van self is en dalk ‘n oer agterkleinkind van Moeder Teresa is nie. Dis menslik om nou en dan in die lewe jou cool te verloor. Dis egter belangrik om dit so waardig as wat moontlik is te doen.

Onlangs moes ek, nie uit vrye wil nie, myself martel deur die MUNISIPALITEIT te skakel. Goed. Nadat daar vir die 3de keer nie antwoord is nie, maak jy doodseker in die Geel Bladsye dat die nommer wel korrek is. Dit is. Bel weer. “HALLO!”, skree ‘n chappie kouende persoon in my oor.

 Middag, sê ek, verstom, maar vriendelik.  Onthou, ek is die verleë een. Kan ek asseblief met (kom ons noem haar maar vir die oomblik eers net Elsie.) praat. “WIE??” skree sy weer, ek wil my vererg en haar daarop attent maak dat ek regtig nie doof is nie. Elsie asseblief. “Jammer, hier werk nie so iemand nie.” Maar my, sê ek, ek het dan nou NET met haar gepraat. “Nee, jammer, hier werk nie so iemand nie.” Ek wou nog iets sê toe hoor ek die piep in my oor wanneer iemand die telefoon summier in jou oor neergesit het.

My hand begin liggies bewe, en skielik gaan daar vir my ‘n nuwe wêreld oop oor alkohol misbruik. Ek’s seker daarvan, daardie arme mense het seker maar genoeg gehad van dit waarmee ek nou besig is. Ek bel weer, en vra met ‘n rustige stemtoon of ek asb met Elsie kan praat, tensy sy binne die laaste halfuur oorlede is, moet sy seker nog daar werk? Die kort en lank is, ek het gelukkig by Elsie uitgekom. Ten einde laaste. En ek was nie een keer ongeskik nie, inelkgeval nie hardop nie. Mens kan dink wat jy wil.

As jy slegs 5 minute nadat jy jou hoendertjie vir vanaand se braai gekoop het, kan huistoe ry en dit in die yskas pak, dan gaan hierdie nou vir jou belaglik klink.

As jy nou na 4 jaar se probeer nog nie vir die mense wat die sakke by die betaalpunt pak kan laat verstaan dat die KOUE goed asseblief in die COLEMAN moet kom nie, dan bereik jy ‘n punt waar jy ook ‘n sekere mate van die beskaafdheids grens oorsteek. En as jy nou al ‘n paar keer by die huis aangekom het, met ‘n blaarslaai wat so verlep is dat die hoenders dit nie eers wil vreet nie, ‘n brood wat nie die aanslae van ‘n spaarwiel en ‘n dieselkan oorleef het nie en soos die Toyota se gat lyk nadat dit in die ongeluk was, en ‘n sakkie tamaties wat in sap vorm verander het tussen die blikkies tuna, dan vererg jy jou. Dit het laasweek met my gebeur. Ek het vir die hoeveelste keer die “pakker” gevra om die koue goed en brood eenkant te sit, ek sal dit sommer self in die Coleman tussen die ys inpak. Sal hy nie waaragtig weet ‘n blok kaas en ‘n sakkie tamaties, in ‘n gewone sak, tussen die aartappels en uie inpak nie. Ek het hom EFFENS geirriteerd, dog beskaafd, so vriendelik soos wat ek op daardie stadium my stemtoon kon laat klink, gevra of hy gedink het ‘n stuk KAAS sal in bietjie langer as ‘n uur in amper 50 grade VARS IN MY YSKAS BELAND?? Nee, dit sal nie. Dit sal in ‘n tuisgemaakte (songedroogde) stuk BLOUKAAS verander. Hy het my met sulke glaserige oë aangestaar, seker gedink ek is besig om dit te lose in die hitte. Ek het toe vriendelik geglimlag, my handsak opgetel, my stuk kaas gevat en dit ferm in die Coleman gedruk.

Anderdag op ‘n klein dorpie, ook in die Noord Kaap, het ons laat die middag daar deurgery. Johnny het besluit om gou by die Kooperasie te stop en sommer ‘n paar sakke lek te laai. “Nee meneer, ons is ongelukkig uit voorraad, maar wat van hierdie lek, en hy noem die naam, dis amper dieselfde. Eintlik baie beter.” Ja sê Johnny, laai maar vir my so 10 sakke. Eintlik wil hy net vrag op die bakkie hê vir die grondpad. En nou sal jy my dalk nie glo nie, want ek het ook amper tot ons op die plaas gekom het gelag, eintlik die meeste vir Johnny se gesig toe hy die volgende hoor: ”Nee meneer, jammer, maar dis ook uit voorraad.” Ordentlik genoeg, het hy nie ‘n woord gesê nie, terug in die bakkie geklim en gesê: “Nou hoekom de d?@#$% vertel hy my van die wonderlike lek as hulle nou DIT ook nie in voorraad het nie.”

Dis maar net ‘n paar, maar soms gebeur daar dinge in jou elke dag lewe, wat nie eintlik so erg is nie, maar wat jou mond laat oophang en dink, you MUST be joking.

Tuesday, 14 January 2014

Neus in die lug. . .


Ek struggle al vir ‘n geruime tydjie met die ding. Wat is dit aan party mense wat maak dat hulle net eenvoudig altyd met ‘n air rondom hulle rondloop. Kyk, ek wil nou glad nie vandag op tone trap nie, maar wragtig, dis darem maar irriterend.

En toe ek vanoggend hierdie raaklees, kry ek baie van my antwoorde, en besluit om dit met jou te deel.

Die skrywer is onbekend.

“Rede hoekom ek nie ryk mense wil besoek nie:

Vraag: “Wat wil jy drink…vrugtesap, koeldrank, tee, milo, hot chocolate, of koffie?”

Antwoord: “Tee asseblief”

 Ceylon tee, kruie tee, rooibos tee, heuningbos tee, ystee of groen tee? Ceylon tee asseblief. Wit of swart? Wit asseblief. Melk, cremora of kondensmelk. Melk asseblief.  Bokmelk, kameelmelk of beesmelk.  Uhm, ek dink ek sal dit eerder swart neem dankie.  Verkies jy dit met versoeter, suiker of heuning? Met suiker asseblief. Beetsuiker of rietsuiker? Rietsuiker asseblief. Wit, bruin of geel suiker? Vergeet maar net van die tee, ek sal sommer ‘n glas water neem dankie. Mineraal of stil water? Mineraal asb. Gegeur of ongegeur? F*&^, los dit net… ek vrek liewer van die dors.

 Ek het heel onlangs, met ‘n persoon te doen gehad, of erger nog, ‘n paar uur in die einste se geselskap deurgebring, wat die HELE liewe aand nie vir ‘n sekonde kon ophou praat oor haar ryk seun, haar man se vliegtuig, haar dogter se status in (ek kan nie meer onthou watse werk of hogere pos nie), haar grênd huis, die brand van haar potte in die kombuis en, wag vir die een, haar SKOTTELGOEDWASSER. Julle, toe sy oor haar skottelgoedwasser begin brag toe sukkel ek om my goeie maniere wat my dierbare ouers my geleer het, te gebruik. Kom nou rerig?

My ordentlike man, aan die anderkant, sal selde, indien ooit, iemand in die gesig vat deur geiiriteerd te begin lyk. Hy sal oe en aa net om ordentlik te wees, sonder om eintlik ‘n woord te luister. Die aand toe ons huis toe ry, se hy: “Liewe hemel, ek het nog NOOIT in my lewe so iemand ontmoet nie.” Net dit. EK, aan die anderkant, het amper ontplof van irritasie.

Ongelukkig, is dit deesdae deel van ons almal se elke dag lewe. Mense wat so hard probeer om ‘n beter kar as sy bure te ry, in ‘n groter huis te bly, duurder klere en juwele te dra, ‘n groter sonbril en rooier naels. En ongelukkig OOK, meeste van die tyd net te kry by vrouens, wat, hou jou asem in, brag met manlief of nog erger, pappa se geldjies. Dis moeilik, ek is self ‘n vrou, maar dis amper soos die ding dat sekere vroue bestuurders ongelukkig ALLE vrouens se naam gat maak as dit kom by die 4 x 4 parkeer voor Checkers.

Sekere mense, kan mos ook nie een enkele storie vertel sonder om die prys te noem nie. Sjoe, maar dis darem mooi glase hierdie, sal jy byvoorbeeld sê. Nou, gewoonlik verwag mens dan net, dankie. NET dit, mevrou, jy HOEF NIE uit te brei nie. Dankiieeeeeee, (met DAAI stemtoon), ek het dit bestel van (ek kan nie die plek se naam uitspreek nie.) en dit het R70 ‘n glas gekos. Ek het my doodgesukkel om dit hier te kry. O ja, en die posgeld was ook amper R400. Goeie *(*&^, , van wat is dit gemaak. Dalk moet jy dit in jou handsak druk. Grappie. Nou kyk julle, ek besit nie kristalglase nie, en om eerlik te wees, Mr Price Home se glase is piekfyn met my. Alle glase breek inelkgeval ewe maklik. Dis net ‘n voorbeeld, maar o wee, hoekom moet daar altyd ‘n naam aan alles gekoppel word. En ek bedoel, alles.

Eetgerei, kookgerei, steakmesse, plastiek, beddegoed, matrassa, banke, skilderye, voedselverwerker. En asseblief, moet my nie verkeerd verstaan nie, ek is ook lief vir my Tupper en Kenwood. Ek hou ook van ‘n goeie steakmes, en o die luukse van LEKKER beddegoed. Maar jy hoef dit nie alewig vir almal te VERTEL NIE. Om te brag is amper erger as om te steel. En al wat meer irriterend is as iemand wat se hele gesprek uit brag bestaan, is iemand wat nie kan spel nie. Of iemand, wat jy WEET ook maar net doodgewone mense soos ons almal is, wat dit laat klink of hulle huisvriende met Bill Gates is.

Toe ek in Kakamas gekom het, kon ek nie verstaan hoekom groet Johnny almal nie, toe besef ek, hier groet jy ALMAL, al is dit ‘n vakansieganger uit Hong Kong. Behalwe as jy dink jy is te belangrik, of jou man het genoeg geld. Dan kyk jy met jou sonbril wat die helfte van jou gesig toemaak, en rooi lippe wat vir Marilyn Monroe sal laat skaamkry, doodeenvoudig, anderpad.

So, mevrou, of meneer. As jy weer in jou nuwe SUV of wat ook al verby iemand ry, plak ‘n smile op jou gesig en lig jou hand, hy sal nie afval nie. En moet NOOIT ooit maak of jy nie iemand ken nie, dit SAL jou inhaal. Glo my.

Of jy nou kruidenierware by Woolies Food of sommer net gewone OK Foods koop, met ‘n Toyota of ‘n Audi ry, jou lakens by Mr Price of Harriets koop, Frisco of Arabiese koffie drink. En of jy nou ‘n overdraft het wat jou snags in koue sweet laat uitslaan, na ‘n nagmerrie oor die bankbestuurder of ‘n FNB Private Client is. Dit maak nie regtig saak nie, solank jou hart reg is, is ons almal maar eintlik dieselfde.