Almal kry
soms hierdie klein duwweltjie in die pad. En ALMAL raak soms kwaad vir hierdie
goed, maak nie saak of jy die rustigheid van self is en dalk ‘n oer
agterkleinkind van Moeder Teresa is nie. Dis menslik om nou en dan in die lewe
jou cool te verloor. Dis egter
belangrik om dit so waardig as wat moontlik is te doen.
Onlangs moes
ek, nie uit vrye wil nie, myself martel deur die MUNISIPALITEIT te skakel.
Goed. Nadat daar vir die 3de keer nie antwoord is nie, maak jy doodseker in die
Geel Bladsye dat die nommer wel korrek is. Dit is. Bel weer. “HALLO!”, skree ‘n
chappie kouende persoon in my oor.
Middag, sê ek, verstom, maar vriendelik. Onthou, ek is die verleë een. Kan ek asseblief
met (kom ons noem haar maar vir die oomblik eers net Elsie.) praat. “WIE??”
skree sy weer, ek wil my vererg en haar daarop attent maak dat ek regtig nie
doof is nie. Elsie asseblief. “Jammer, hier werk nie so iemand nie.” Maar my,
sê ek, ek het dan nou NET met haar gepraat. “Nee, jammer, hier werk nie so
iemand nie.” Ek wou nog iets sê toe hoor ek die piep in my oor wanneer iemand
die telefoon summier in jou oor neergesit het.
My hand
begin liggies bewe, en skielik gaan daar vir my ‘n nuwe wêreld oop oor alkohol
misbruik. Ek’s seker daarvan, daardie arme mense het seker maar genoeg gehad
van dit waarmee ek nou besig is. Ek bel weer, en vra met ‘n rustige stemtoon of
ek asb met Elsie kan praat, tensy sy binne die laaste halfuur oorlede is, moet
sy seker nog daar werk? Die kort en lank is, ek het gelukkig by Elsie uitgekom.
Ten einde laaste. En ek was nie een keer ongeskik nie, inelkgeval nie hardop
nie. Mens kan dink wat jy wil.
As jy slegs
5 minute nadat jy jou hoendertjie vir vanaand se braai gekoop het, kan huistoe
ry en dit in die yskas pak, dan gaan hierdie nou vir jou belaglik klink.
As jy nou na
4 jaar se probeer nog nie vir die mense wat die sakke by die betaalpunt pak kan
laat verstaan dat die KOUE goed asseblief in die COLEMAN moet kom nie, dan
bereik jy ‘n punt waar jy ook ‘n sekere mate van die beskaafdheids grens
oorsteek. En as jy nou al ‘n paar keer by die huis aangekom het, met ‘n blaarslaai
wat so verlep is dat die hoenders dit nie eers wil vreet nie, ‘n brood wat nie
die aanslae van ‘n spaarwiel en ‘n dieselkan oorleef het nie en soos die Toyota
se gat lyk nadat dit in die ongeluk was, en ‘n sakkie tamaties wat in sap vorm
verander het tussen die blikkies tuna, dan vererg jy jou. Dit het laasweek met
my gebeur. Ek het vir die hoeveelste keer die “pakker” gevra om die koue goed
en brood eenkant te sit, ek sal dit sommer self in die Coleman tussen die ys
inpak. Sal hy nie waaragtig weet ‘n blok kaas en ‘n sakkie tamaties, in ‘n
gewone sak, tussen die aartappels en uie inpak nie. Ek het hom EFFENS
geirriteerd, dog beskaafd, so vriendelik soos wat ek op daardie stadium my
stemtoon kon laat klink, gevra of hy gedink het ‘n stuk KAAS sal in bietjie
langer as ‘n uur in amper 50 grade VARS IN MY YSKAS BELAND?? Nee, dit sal nie.
Dit sal in ‘n tuisgemaakte (songedroogde) stuk BLOUKAAS verander. Hy het my met
sulke glaserige oë aangestaar, seker gedink ek is besig om dit te lose in die hitte. Ek het toe vriendelik
geglimlag, my handsak opgetel, my stuk kaas gevat en dit ferm in die Coleman gedruk.
Anderdag op ‘n
klein dorpie, ook in die Noord Kaap, het ons laat die middag daar deurgery.
Johnny het besluit om gou by die Kooperasie te stop en sommer ‘n paar sakke lek
te laai. “Nee meneer, ons is ongelukkig uit voorraad, maar wat van hierdie lek,
en hy noem die naam, dis amper dieselfde. Eintlik baie beter.” Ja sê Johnny,
laai maar vir my so 10 sakke. Eintlik wil hy net vrag op die bakkie hê vir die
grondpad. En nou sal jy my dalk nie glo nie, want ek het ook amper tot ons op
die plaas gekom het gelag, eintlik die meeste vir Johnny se gesig toe hy die
volgende hoor: ”Nee meneer, jammer, maar dis ook uit voorraad.” Ordentlik
genoeg, het hy nie ‘n woord gesê nie, terug in die bakkie geklim en gesê: “Nou
hoekom de d?@#$% vertel hy my van die wonderlike lek as hulle nou DIT ook nie
in voorraad het nie.”
Dis maar net
‘n paar, maar soms gebeur daar dinge in jou elke dag lewe, wat nie eintlik so
erg is nie, maar wat jou mond laat oophang en dink, you MUST be joking.
No comments:
Post a Comment