Sunday, 25 November 2012

Loeriesfontein

Toe ons onlangs weer ‘n draai maak op Loeriesfontein vir ‘n veiling, het die heimweë rondom hierdie klein en vervalle dorpie my hart ‘n harde pluk gegee. Almal deel seker nie my kop vol drome en nostalgie nie, maar ek het vir hierdie tipe klein dorpies ‘n spesiale plekkie. Hier is geslagte se stories om te vertel. Al hierdie plekkies was in vervloe dae ‘n miernes van bedrywighede. Met ‘n groot boeregemeenskap. Daar is sekere dinge wat eie is aan so klein dorpie. En ek se dit nie met minagting nie, ek deel dit met nostalgie, soos ek dit beleef.

Die Kafee is meestal ook die plek waar die inwoners maar tevrede moet wees om hulle kruideniersware ook te koop. Teen pryse wat jou laat ril.

‘n Dakwaaier wat lankal sy glorie verloor het waai die reeds warm luggie rond met ‘n moedelose geluid. Die lekkerste slaptjips word gewoonlik hier verkoop, met baie sout en asyn, in ‘n papiersakkie. Loslekkers soos ons dit nog as kinders geken het, in glaspotte op die toonbank uitgestal. Dis net die prys wat drasties verander het. En ‘n enkele petrolpomp wat net een keer per week voorraad kry. Hulle het nog die kaartmasjien ontdek nie. Slegs kontant. Die Landbouweekblad wat twee weke nadat dit gedruk is eers op die rak lê.

‘n Polisiestasie waar die amptenare meestal op die stoep in die sonnetjie sit en bak. En altyd, maar altyd, ‘n Pepstores. Was jy al ooit in ‘n dorp waar jy NIE verby ‘n PEP gery het nie?

Ek kry ‘n mengelmoes van gevoelens as ons deur Loeriesfontein ry oppad skougronde toe. Soos altyd wanneer ek my in soortgelyke dorpies bevind. Daar loop ‘n volstruis met ‘n swetterjoel kleintjies wat agter haar aan trippel op die sypaadjie. Stel jou so iets voor in die stad? By een van die huise met ‘n groen gewel dak en hortjies voor die venster, hardloop die skaaphond ‘n voetpad teen die heining. Seker sy enigste opwinding vir die dag, om nou en dan ‘n kar te jaag wat verby ry.

Ons is nie presies seker waar die skougronde is nie, die veiling bordjies is nie juis duidelik opgesit nie. In die enigste teerstraat, dis natuurlik die hoofstraat, stop ons voor die mooi en imposante kerk. Die netjiese grasperk val my dadelik op. Die kerk is ook onlangs oor geverf. ‘n Ou verimpelde man is besig om die straat te vee, hy doen dit met soveel passie dat ek wonder of hy dalk hulle huisie ook vir sy vrou skoonmaak. Hy verduidelik graag vir ons. “Meneergoed draai nou weer om, dan draai Meneergoed af in l-l-l-langstraat.” Ek wil-wil begin giggel, maar luister aandagtig verder. “Dan hou Meneergoed reguit aan met die pad, die pad hy maak so l-l-l-lang draai daar voor. Meneergoed draai weer af (ek wonder of dit nou links of regs is). Meneergoed sal dan sommer d-d-d-dadelik sien.” Toe Johnny klaar die man bedank het, en vir my kyk toe weet ek nie een van ons twee weet nou eintlik waantoe nie. Maar wat my veral opgeval het, is die vriendelikheid waarmee hy ons gehelp het. Hy was trots daarop om ons te help.

Ons kry slegs ‘n DF Malan straat en wonder of dit nie eintlik is wat hy bedoel het nie. Ek mompel onderlangs hoe dit nou ook moontlik is om in Loeriesfontein van alle plekke te VERDWAAL?! Die plek is ook net SO groot.

By DF Malan afgedraai ry ons verby die skool. My gedagtes loop op paaie waar ek self nie eers was nie. Dalk die generasie so oud soos my grootouers? Die skool is verwaarloos. Dis ‘n groot dubbelverdieping gebou, die koshuis ook langsaan. Die verf dop af, die tennisbane het nie meer nette nie. Die Bloekombome hou wag oor alles, groot bome wat al vir jare en jare daar staan. Ek wonder hoeveel kinders, wat vandag al oumense is, het onder daardie bome gesit en broodjies eet pouses. Hoeveel tennis toernooie is teen die buurdorp op hierdie einste bane gespeel. Ek sien in my geestesoog die bakkies wat Vrydag middag onder die wye skaduwee van die Bloekoms staan en wag vir koshuiskinders. Hoeveel kattekwaad, pret en eksamens was in hierdie ou gebou. Dis voor die dae van selfone, internet en ipads. Woensdae aande is seker op die plaaslyn gebel om te hoor of alles nog wel is. Daar was nog “Koffer kamers” waar jou tasse gepak is vir die week. Die weeklikse proviant was sekerlik beslis nie blikkies coke en pakkies chips nie. Dalk ‘n houertjies kaiings, lekker groot stukke boerbeskuit en biltong met ‘n ordentlike vetlagie om.

My hart is seer. Ek probeer kyk verby die stukkende vensters en probeer dit sien soos dit 50 jaar terug moes lyk.

Hierdie dorpies was eens op ‘n tyd ‘n bymekaarkom plek vir ‘n hele streek boere. Met ‘n ordentlike Kooperasie waar ek myself kan indink hoe daar op die stoep nuusies uitgeruil is. Waar daar groot Kerkbasaar gehou is en die tannies gewedywer het wie se koeksisters is die beste. Waar daar yslike sport byeenkomste gehou is en pannekoek en jaffles by dosyne gebak is.

Namiddag toe ons oppad terug is huistoe, bak die sonnetjie warm oor Loeriesfontein. Dit stilte wat hang oor hierdie dorpie is tasbaar. Die man op die donkiekar wat verbykom groet vriendelik. Wat het geword van hierdie plekkie, kan ek nie help om te wonder nie. Wat het geword van al die mense. Hoekom kan dit nooit weer dieselfde wees nie.

Dalk omdat almal se lewens ‘n gejaag na geld en sukses geword het?

No comments:

Post a Comment