Daar is iets nostalgies aan ‘n windpomp. ‘n Regte ou Climax pomp. Wat as hy bietjie olie nodig het, so “tjier-tjier” geluid maak. Vir my het dit nog altyd ‘n bekoring ingehou. Vir my man, aan die ander kant, boesem dit ‘n gevoel van vrees in. Want, reken hy, as ‘n windpomp so “tjier-tjier” geluid volgens my maak, moet hy binnekort gewerk word. Hy deel dus nie my gevoel van heimwee nie.
Daar is ‘n gesegde wat lui: “Solank die Bul en die Windpomp werk, is alles in orde op die plaas.”
Ek ry nooit by ‘n windpomp verby sonder om met opregte waardering daarna te kyk nie. Dis net ‘n stuk blik en plaat met klomp pype, maar dit verrig ‘n edele taak. Sonder ‘n windpomp het ons nie water op die plaas nie. En sonder water het ons nie lewe nie.
Alles rondom die windpomp het ongelukkig nie ook net ‘n rose geurtjie nie. Wanneer hy die dag breek, is dit nie ‘n takie wat kan oorstaan tot more nie. Dit beteken die skape staan sonder water.
Nou as manlief met so frons op sy voorkop by die agterdeur inkom die middag, en net so onderlangs groet. Dan weet ek. Dis sulke tyd, pomp werk tyd. ‘n Sieldodende en bitter harde werk in die geweste se genadelose son.
So kom dit toe ook onlangs dat ons beplan om vir die naweek weg te gaan. Manlief skuif net gou vroegoggend die draadwerkers na ‘n ander kamp. Ons wil probeer om so teen 9 uur se kant in die pad te val. Half 9 is ek reeds klaar, alles staan reg. Padkos is gepak. Geen teken van hom nie.
Tienuur kom hy met daardie Van Wyk frons by die agterdeur in. Jy sal dit nie glo nie, grom hy. Daai pomp in die Stootpomp se kamp op Barsvley het nou meer as ‘n jaar lank tyd gehad om te breek. Maar nee, hy moes wag tot vanoggend. Hy is die josie in, om die minste daarvan te sê. O en om die kersie op die koek te sit, die jong N’guni bul is dood. Oor die draad gespring en toe vasgesit. So, dinge is nie reg nie. Die Bul werk nie en die windpomp werk nie.
“Moet jy dit NOU doen, vra ek so half verontwaardig?” Natuurlik, antwoord hy, ons kan mos nie wegry vir die naweek as daar nie water in die kamp is nie. Die dam is klaar vêr onder half. Rerig, dink ek by myself, is dit nou nodig, vandag van alle dae.
Ek besluit om maar saam te ry, hier is inelkgeval niks by die huis om te doen nie. Dalk kan ek bydra tot die verligting van sy gemoed.
Een van die werkers haal ‘n nessie bo uit die wiel uit wat in die pad is vir die werkery. Ek wag vol afwagting dat hulle hom afbring. Twee piepklein Witbors kraai babas. As ek my vinger by hulle bloedrooi bekkies hou, maak hulle ‘n skril geluidjie. Honger vir kossies. Manlief gee opdrag dat hulle met nessie en al in die brosdoring bos digby die windpomp moet neergesit word. Hy verseker my vir die hoeveelste keer dat hulle ma hulle weer sal kry. Ek kan net eenvoudig nie die versoeking weerstaan nie. “Kan ek hulle nie groot groooot asseblief tog huistoe vat en grootmaak nie?” Die kyk op sy gesig 5 meter bo my waar hy op die dwarspyp staan, laat my moederlike instink om hulle groot te maak, gou verdwyn.
My gemoed voel ook sommer skielik soos syne. Droewig. Met die katrolle gehak, wiel vasgemaak en blokke vasgemaak begin hulle die pype uittrek. Ek stuur ‘n skietgebedjie op dat dit asseblief tog net die eerste of tweede pyp moet wees waar die probleem is. Toe nie, pyp nommer 14. Deurgeroes.
2 ure later wag ons in afwagting vir die water om weer deur te kom.
Ek het nie die geduld hiervoor nie. Uiteindelik. Ek was nog nooit so bly om ‘n straaltjie water by ‘n windpomp pyp te sien uitkom nie.
Ons kom half 2 eers weg by die huis. Manlief se hy gaan nie nou links of regs kyk tot ons by die grootpad is nie. Te bang vir nog ‘n probleem.
Dis Boerdery. Daar is uitdagings, maar die vreugdes is soveel meer. Soos wanneer die laaste oranje sonstrale van die dag uit die Weste oor die grasbulte skyn. Met ‘n windpomp se kop afgeets daarteen. “Priceless”.
No comments:
Post a Comment