Sunday, 24 February 2013

My melkbok se afsterwe

So rukkie gelede al. My hart was aan skerwe, seer, eina. Dit was my heel heel eerste melkbok. ‘n Saanen. Ek het haar nog by oom Maans present gekry. Al die pad van Ses Brue af. ‘n Bielie van ‘n bok. Melk kon sy gee. Sy het tientalle hanslammers in haar kort leeftyd op Opdamkolk grootgemaak. GOED grootgemaak. En sy was mak. Ek hoef haar nooit vas te gemaak het nie. As ‘n hansie so dorstig begin te skree vir melk, dan staan sy doodstil, tot sy magie vol is.
Ek het haar altyd, na melkgee tyd, op haar kop gevryf en haar my ou staatmaker genoem. Snaaks, ek het nog drie ander melkbokke ook, maar ek dink sy was die hansies se “favourite” ma ook, hulle het altyd eerste vir haar gestorm opsoek na melk. Nou moet hulle maar tevrede wees met die ander minder goeie melkspene.
Anyway, sy is toe oorlede. So wyle na my twee weke Karoo uitstappie. Ek het die spesifieke Donderdag oggend opgemerk dat sy nie haarself is nie. Sy was altyd so opgewonde oor ‘n ou stukkie lusern. Nie daardie oggend nie, sy het my net met sulke leep ogies aangestaar. Seker maar net geite en grille, het ek gedink. Die aand lê sy lusteloos in die kraal. Die lammers wil ook nie drink aan haar nie. Met naderende ondersoek maak ek toe sommer self ‘n “diagnose”. Mastitus, sê ek vir manlief. Ek is doodseker daarvan. Hy loop kraal toe om ook te gaan ondersoek instel, en bevestig my vermoede. Toemaar, sê hy, dis nie so erg nie. Onthou jy die melkkoei het dit mos ook laasjaar gehad, en sy het mooi gesond geword. Ek twyfel maar so bietjie, maar hoop tog maar in my binneste dis waar.
Manlief spuit haar antibiotika vir die koors en sulke blou goed wat in haar spene gespuit word. Elke oggend en elke aand moet ek die speen wat aangetas is uitmelk. (Mens doen dit nie op ‘n leë maag nie.)
Ek doen verslag dat sy vir my beter lyk. Saterdag middag egter nie meer nie. Ek vra vir manlief of ons nie maar nog antibiotika kan gee nie, sy het koors. Nee, sê hy, net elke 72 uur. Ek lawe haar met yskoue kripwater. Breek vir haar die lusern fyn, maak haar gemaklik in die skaduwee.
Sondag middag ry ek ‘n draai saam met Johnny af kraal toe. Toe ons terugkom by die huis en by die klein kraaltjie verby ry sien hy dit eerste. Sy het dit nie gemaak nie my liefie, sê hy so half saggies. Nou ek en my ou melkbok het ‘n mooi verhouding gehad. Ek was die een wat heeloggend by haar gesit het einde van laasjaar toe sy gelam het. ‘n Tweeling nogal. Ek het vir haar water aangedra en haar gevryf toe sy deur die pynlike proses is. (Tot vermaak van my man natuurlik.) Want die lamproses is nou regtig nie vir hom iets snaaks nie, dis deel van sy elke dag se lewe. Maar my bok is mos anders, het ek gese. Sy is deel van die GESIN.
My  hartseer was groot. Ek kon nie die trane keer nie. Sy kan nie weggesleep word nie, het ek protes gemaak, sy verdien beter. Sy moet opgetel word en opgelaai word agterop die bakkie. My arme man het gemaak soos ek sê, hy het nie eenkeer gesê ek is simpel nie. Ek dink in sy hart het hy seker gehoop ek eis nie dalk dat sy ‘n graf ook nog moet kry nie.
Sy word  gemis, my ou staatmaker. Die werf is net nie meer dieselfde sonder haar nie. Sy is nie meer daar om saans met melkgee tyd teen my te kom skuur vir ‘n stukkie lusern nie. Al die ander bokke is ook sommer “willer” vandat sy nie meer hier is nie (of dalk verbeel ek my maar net.) Die hanslammers is stout, hulle mis haar ook dink ek. Sy was die moeder van melkgee.
Ek kan nie anders nie, sê ek vir manlief, ek raak nou maar eenmaal te geheg aan my diere. Nou die oggend lyk Hitler  ook so mistroostig. Hitler, sê ek, ruk jou reg. Nie jy ook nie. Ek aanvaar hy het geluister. Want hy vreet weer klippe en jaag alles wat beweeg.

Thursday, 14 February 2013

'n Valentynsdag saam met my boer

My man is nie een vir teddiebere en hartjie “chocolates” nie. Hy is meer die “ek is lief vir jou en kan nie sonder jou nie” tipe. Na die 8 jaar wat ons mekaar nou al ken waarvan 3 getroude jare is, pla dit my glad nie meer nie. Die feit dat hy elke dag vir my sê dat hy my bitter liefhet, is genoeg. Inteendeel, as hy nou met sulke snaakse goedjies moet begin, sal ek snuf in die neus begin kry. Kortom, my man is ‘n regte boer, en nie die romantiese tipe nie.
So breek 14 Februarie aan. Ek verwag niks. Hy is immers vir die dag op Brandvlei. Vir ‘n ramveiling. Ek besluit vir ‘n verandering om nie saam te ry nie, dit gaan tog net heeldag warm wees, en alle veilings is ook maar net dieselfde. “Happy Valentines” liefie, sê hy vroegoggend toe ons groet voor hy ry. Mmmm, sê ek, vir jou ook. Geniet dit.
Soos die dag aangaan, en ek al die bosse blomme, “date nights” en liefdeswoordjies op Facebook sien, voel ek tog so half eensaam. En spyt dat ek nie maar saam veiling toe is nie. Ai, my man is darem ook regtig maar onromanties. Ek eintlik ook, dink ek skuldig. Nie asof ek nou iets vreesliks romanties beplan het vir die dag nie. Maar, troos ek myself, sulke dinge maak nie vir hom saak nie, hy sê immers altyd hy wys elke dag sy liefde aan my, nie net op Valentysdag nie. Seker ook so, maaaaar….’n vrou wil tog soms gekoester word. Wanneer ek gewoonlik daardie woorde vir hom sê, dan gee hy my so lekker lang stywe drukkie. Sy manier van koester. Nou Johnny staan ‘n stewige 1,94 m op die aarde, so dit is VREK lekker – die drukkies van hom.
Ek moet hom ook gewoonlik so week voor ons huweliksherdenking daaraan herinner. Op 12 Desember 2012, die dag waarop ons 3 gelukkige jare getroud is, sê ek die dag voor die tyd. “Liefie, jy onthou mos hierdie keer ne?” Wat? Vra hy. Ons HUWELIKSHERDENKING sê ek verontwaardig. “O ja, DIT, ek wou sê daar is êrens in die tyd ‘n belangrike datum, ja NATUURLIK!” Hy het, gelukkig vir hom, dit die volgende oggend onthou. Ek het vir ons lekker boerekos gemaak vir middagete.
Inelkgeval, om terug te kom na Valentynsdag. Ek maak later deur die oggend vir my ‘n lekker koppie koffie. Sonder my valentyn. En stuur vir hom ‘n mooi sms’ie. Om te sê hoe baie ek verlang, en dankie te sê vir die ongelooflike man wat hy vir my is. Hy bel later om opgewonde te vertel van die twee “ongelooflike” mooi ramme wat hy toe gekoop het. Dis sommer ons Valentynsdag present. Regtig? Nou toe nou, dis nou romanties. “Het jy my sms gekry, vra ek verontwaardig.” Mmmm, ja dankie liefie, sal laat weet as ons ry.
Ek gaan aan met my daaglike takies, en vergeet toe maar later van die hele “Valentyns” ding.  Ja, ek vergeet, toe ek so by 2 uur se kant die sonpanele draai, voel ek dat een van die panele so bietjie stram is. Maar draai, draai ek. En daar DRAAI ek die rooi draad af. Ek weet nie eintlik wat sy doel is nie, maar ek weet as hy af is, gee daardie spesifieke paneel nie krag vir die batterye nie. Great, dink ek. Dis nou great. OP valentynsdag. Darem net die een paneel s’n.
Toe manlief by die huis kom is hy opgewonde. Kom kyk gou die ramme agterop die bakkie. Uhmmm, daar is eers iets wat ek jou moet vertel. En ek gaan wys toe maar sommer die skade. “Ag neewat liefie, dis nie die ergste nie, net ‘n nuwe draad wat ek sommer vanaand sal insit.”  O ja, ek het vir jou toe ietsie saamgebring uit Brandvlei uit. 2 Kit Kats en ‘n 500 ml Coke. Dis vir Valentysdag liefie, sê hy. Ek is nogsteeeds stomgeslaan oor hy so kalm is oor die stukkende af draad. (Van let wel, nuwe panele wat 2 weke terug opgesit is.) Toe ruk hy 2 amper gesmelte chocolates en ‘n warm botteltjie Coke uit. En daar smelt my hart. Hy het dit by Brandvlei se Kafee gekoop. Die prys  is met Coki opgeskryf.
En daar sit en eet ons 2tjies sommer net daar die Kit Kats. Vir Valentysdag. Die Coke sit ek toe in die yskas vir later die aand. Wat ek toe vir ons gedeel het. Saam met dit maak ons toe sommer vir ons hamburgers ook vir aandete.
Is dit nie romanties nie. My boer wat vir my ‘n Kit Kat in Brandvlei by die enigste kafee uitgesoek het. En ‘n Coke. Ek is van voor af dolverlief. Oordat hy op sy manier, nogsteeds my hart so vinnig laat klop soos 8 jaar gelede.

Sunday, 10 February 2013

My "boervrou" ontnugtering

Onlangs bevind ek my weer vir 2 weke in die Karoo, hoofsaaklik vir werk, maar darem bietjie kuier ook so tussendeur.
En soos wat die dae omgaan, kom ek tot die besef dat ek al hoe meer “boervrou” begin raak. Goed wat my normaalweg van ander mense sou irriteer, begin nou ook eie raak aan my.
Eerstens moet ek bieg dat ek die weer baie geniet het. As die termometer op 32 grade gaan stilstaan vir die dag, kla almal dat die somer darem verskriklik is. Watwou, dink ek so ewe taai, dis winter weer die man. Regtig, ek het die weer geniet. Geen “waaier en nat handoekie” geslapery saans nie. Geen siwwe voor die vensters nie. Die kantgordyntjie wat so wapper met ‘n heerlike koel luggie, laat slaap toe hierdie Boesmanlander soos ‘n baba. Okei wel, as ek nou moet kla oor die slaap, sal dit wees die geraas. Ek is mos gewoond aan plaasstilte. Nie elke nou en dan ‘n kar of bakkie wat op die stopstraat afstorm met skreeuende remme nie. Ek wil nou nie snobisties klink nie, maar ek is gewoond aan die geratel van die sif soos die suidewind deur hom suis snags. En soggens vroeg die hoenderhaan se kraai wat die nuwe dag aankondig. Nie ‘n geblaf van honde en karre wat jaag om by die werk uit te kom nie.
Dit daar gelaat.
Op die plaas bestaan daar mos nie iets soos skille en oorskiet kos in die asdrom gooi nie. Dit wat die hoenders en honde nie kan eet nie, gaan kompos hoop toe. Nou daar het ek gesien dat hoendertjies se hok met ‘n slot gesluit moet word. Anders word hulle gesteel. Die arme bloedjies dink ek, en verlang sommer ekstra erg na my Koekoeke wat bedags buite op die werf loop en skrop, en net saans hok toe gelok word met ‘n paar mielies, want die enigste gevaar vir hulle is die muishonde snags. Hulle ken van waatlemoen skille uitvreet tot net die groen skilletjie oor is. En hulle ken van rondskrop in die voerkraal, dis waar meeste van hulle kossies vandaan kom. Dan is hoender op sy gelukkigste.
Sommer aan die begin van die 2 weke al begin my hart (en oe) ‘n swaar verlange kry na my middagslapies op die plaas. Nou op die plaas begin ons dae vroeg, as dit lig raak (lank voor die son sy kop uitsteek) woel dit al op ‘n plaaswerf. Maar hier teen 12 uur in die middag as die Boesmanland son so teen 40 grade op jou lyf begin skroei, dan is jy binne in die lekker koel plaashuis. Onder die waaier. Skuinsle, dis wat ons dit noem. Niemand pla mekaar daai tyd nie, die 2 rigting radios is stil, die telefone ook.
Tuin natmaak was ook vir my iets ongewoon. Op die plaas draai ons nie spreiers oop en vergeet daarvan nie. Hier kom die water uit ‘n boorgat wat as dit nie genoeg kom reen nie, kan opdroog. Ons werk spaarsamig met water. Tuin natmaak op die plaas is ‘n lekker gedoente. Gewoonlik eenmaal per week word die bome uit die sementdam natgelei. Die gras so twee maal per week. Die res van my tuin bestaan uit potte wat ek met varswater aan die lewe hou en aalwyne en kokerbome wat water kry wanneer dit kom reen.
Wasgoed was is ook vir my iets anders. Ek weet nie van ander boervrouens se gewoontes nie, maar ek het ‘n “wasdag”. Gewoonlik maak ek die vorige dag by manlief seker of die huistenk vol genoeg is vir was. Dit het al ‘n paar keer gebeur dat ek net mooi aan die gang is, net om agter te kom daar loop so dun piepie straaltjie water by die kraan uit. Tenk is leeg. Bid dat die wind asb so gou as moontlik moet begin waai. As ek klaar alles gewas het, hang ek die wasgoedjies in die warm son op die draad. Niks so lekker vars soos ‘n handoek wat heeloggend in die son gehang het nie. Daarna pak ek alles mooi netjies weg. My waswater loop ook uit op die “Beefwood” bome agter die braaiplek. Dis die enigste water wat hulle kry en hulle floreer. In die dorp word daar vinnig en gerieflik ‘n bondel ingegooi en daarna direk in die tuimeldroer. Opgevou en in die kas. Water weg in die drein. Dis lekker, maar ek verkies my was metode, dis op ‘n manier bevredigend. Ek gebruik nie “Varnish” vir vetkolle nie, sommer regte ou boerseep. Waarvan ek die waarde anderdag eers ontdek het. Veral vir plaasklere waarvan ‘n mense enige iets van bloedkolle tot ghries moet uitkry.

Die lekkerste deel was wel, as jy lus kry vir roomys, ry jy gou kafee toe. Op die plaas is dit ongelukkig ‘n geval van skryf maar op die lysie op die yskas. Vir volgende keer. Want niemand ry 90 km grondpad om roomys te loop koop nie.

Dit was lekker, en soms baie meer gerieflik as op die plaas. Maar die kwaliteit van ons lewens verskil. Vergewe my vir hierdie stelling, maak ek dink ons plaasmense het ‘n beter kwaliteit lewe. Ek weet dis ‘n voorreg, en ek se regtig elke dag daarvoor dankie. En ek hoop dat as die liewe Vader ons op ‘n dag seen met kinders, dat hulle sommer hier onder die peperboom by die agterdeur kan speel, en dat niemand hulle hoef op te pas nie. DIS die voorreg van plaaslewe.