Tuesday, 18 December 2012

'n Kerstyd oordenking

Ek is nie iemand wat glo aan Nuwejaarsvoornemens nie. Ek probeer om elke dag opnuut aan te pak, as ek die vorige dag gefaal het, begin ek vandag weer. Van voor af.

Maar hierdie tyd van die jaar is vir my ‘n tyd van oordenking. Oor die jaar wat verby is. Oor die goeie oomblikke, maar ook die minder goeies. Die tye van lag en feesvier, maar ook die tye van seerkry en baie trane. Vanoggend was my stil tydjie van oordenking. Alleen. Buite in die koel vroegoggend lug. By my Victoriaanse tafel en stoeltjies met ‘n beker koffie in die hand. Dit was doodstil buite, net die voëltjies se getjirp op die sinkdak van die stoor. En êrens ‘n lammetjie wat blêr vir bietjie melk.

Dit was ‘n jaar van baie opwinding. Meer as die hartseer tye. En ek weet. Deur elke oomblik, was Jesus langs my. Waar die pad soms vir my te klipperig was om self aan te gaan, het HY voor my uitgeloop. Ek het opnuut geleer om volkome te vertrou, op God. Met elke besluit, elke sekonde van elke dag. Dis die enigste sleutel tot ware vreugde en geluk.

“Faith in God, also means faith in HIS timing”, lees ek onlangs. Ek voel skuldig. Ai Here, hoekom wil ons soms dinge so vinnig laat gebeur, terwyl U reeds weet wanneer is die perfekte tyd daarvoor. Vergewe ons, en leer ons om elke saak in gebed aan U op te dra, en dit daar te los, by U. U het dan reeds vir ons die kruis gedra.

Ons is deur droogte, soms was ons geloof net te min, maar weereens Here, het U ons gewys dat ons net moet vertrou. Ek kyk uit op die lowergroen veld. Dis 3 weke later vandat die eerste reëntjies geval het. Dit kan NET God se handewerk wees. Dankie Here, dankie vir hierdie groot groot seën. Ek dink U trek ons voor in die Boesmanland, omdat dit so warm en plat is hier. Ons is geseënd met DIE mooiste sonsondergange. As die Boesmanland reën kry, is daar geen mooier plek as hier nie. Alles is groen en vol in blom. Net ‘n Boesmanlander sal verstaan as mens trane agter jou oë voel brand van dankbaarheid, omdat die ooi met haar tweeling lammertjies loop in groen veld. Knippelpensie gedrink aan genoeg melk. En die bakkie nie elke oggend swaar is van al die leksakke nie.

Kersfees is hierdie jaar by ons op Opdamkolk. Dit sal seker ‘n warm een wees. My Kersboompie is opgemaak. Vol liggies. In ‘n ou melkemmer vol witklippies. Hierdie jaar gaan ek nie persente onder hom pak nie. Ons het klaar ons grootste persent ontvang. Dat Jesus vir ons aan die kruis gesterf het. Om al ons sondes te vergewe. Is dit nie genoeg nie? Ons gaan die tyd deurbring saam met familie. Die Kersete is klaar beplan. Die mooigoed vir die tafel uitgehaal en afgestof. En hierdie jaar wil ek graag op Ou Kersaand hê dat elkeen moet vertel wat hom/haar elke dag dankbaar maak.


Doen vandag nog, of wanneer jy tyd het, jou oordenking oor die jaar. En wees dankbaar.
Mag jy ook hierdie Kerstyd ‘n vreugdevolle tyd saam met jou familie ervaar, en mag Jesus jou oorvloedig seën in die komende jaar. En mag ons NOOIT ooit vergeet waaroor Kersfees regtig gaan nie.

Wednesday, 12 December 2012

My geveerde vriende

Vandat ek op die plaas gekom het drie jaar gelede, het ek nog net Kapok hoendertjies geken en gehad. Vreeslike oulike goedjies, maar as jy belangstel in eiers, is hulle nie juis die regte keuse nie.

So kom ek en manlief toe ook onlangs tot ‘n gesamentlike besluit (of, eintlik het hy ook maar net ja gesê), dat ek vir my lê henne kan aanskaf. Soos in Koekoek hoenders. Ek het ‘n oulike hoenderhok wat hy lank terug reeds vir my gebou het, maar die hokkie is nie regtig nodig vir die kapokkies nie, so, ‘n blyplek vir die nuwe hoenders is “sorted”. Want normaalweg is dit die eerste verweer as ek ‘n gier kry vir ‘n nuwe ou troeteldiertjie. “Waar gaan die goed bly?”

Ek “google” die internet plat, opsoek na opregte koekoek lê henne. Toe ek uiteindelik op die regte webwerf afkom wat belowe dat my nuwe troeteldiertjies tot 240 eiers per hen per jaar sal produseer, is daar geen einde aan my opgewondenheid nie. Die feit dat hulle in Pretoria geleë is, is ook vir my geen probleem nie. Hier in die Noord-Kaap ken ons darem ook al die woord “lugvrag”. Afgespreek. Ons landlyn telefoon werk nie tydens my hoender reëlings nie, maar terwyl ek myself met selfoon teen die oor onder die DSTV skottel balanseer, reel ek dat my 5 weke oue kuikens die Woensdag middag om presies kwart oor vyf op Upington se lughawe sal arriveer. Die vrou verseker my die “krat” sal maklik op die bakkie se agterste sitplek pas. Toe ek dit aan Johnny noem, het sy gesig verskillende emosies getoon, maar die een wat die duidelikste gewys het, was verbasing. “Hoenders? BINNE in die bakkie? WEET jy hoe RUIK hoendermis??” “Daar is nie ‘n MANIER dat jy HOENDERS in MY bakkie vir 200 km plaas toe vervoer nie.” Met sy stemtoon in ag geneem, moes alles eintlik in hoofletters en ook ‘n paar ander woorde wees. Wel, okei, kalmeer, sê ek toe, hulle kan dan seker maar agterop ry. Dis nou wat ek gesê het voordat ek die “hoenders” en hulle “krat” gesien het.

Manlief het besluit om maar liewers nie die trippie mee te maak nie, jammer, hy is ongelukkig te besig. (Ter nabetragting is ek dankbaar daaroor, want ek dink ons huwelik sou ‘n knou gekry het.)

Na ‘n warm en besige dag in Upington sit ek om presies vyfuur op die harde lughawe bankie voor die “Cargo” deur en wag vir my vraggie troeteldiertjies. Langs my kom neem ‘n vrou plaas wat haar hele lewe aan my binne ‘n bestek van 10 minute uitlê. Sy wag vir haar baba hondjie. Die vakansie het skaars begin en haar kinders dryf haar teen die mure uit. Ek wou “shame” sê, maar sy het my nie regtig kans gegee nie.

Ek sit en wonder heimlik of my kuikens wel op hierdie vlug is, sê nou ek het die vrou verkeerd verstaan. Toe die Cargo deur uiteindelik oopgaan, wonder ek nie meer nie, ek ruik dat hulle wel op hierdie vlug was. Goeie genugtig dink ek, kan ‘n krat vol 5 weke oue kuikens sulke reuke veroorsaak?

“Mevrou kan maar net hier teken.” Ek vryf eers die klein hondjie en trotseer toe die kuikens. Die “krat” vol “kuikens” is toe ‘n BOKS vol HOENDERS. ‘n Gehawende boks. Wat duidelik weerspieel dat die kuikens effens ontsteld was met die vlug. Wat ek vergeet (of nie geweet het nie) is dat daar ‘n effense grootte verskil tussen 5 weke ou Kapok kuikens en 5 weke oue Koekoek kuikens is. Hier en daar steek ‘n kuiken sy kop uit, opsoek na vars lug. Dis drukkend warm buite. Ek besef dadelik dat hierdie groepie beslis nie die 200km terug Opdamkolk toe agter op die Hilux gaan oorleef nie. Hulle het ‘n “aricon” nodig, dringend. Die “krat” is inelkgeval van so aard dat die eerste rukwind my geveerde vriende oor die Noord Kaap gaan versprei.

Met my handsak onder die een arm vasgeklou, en die boks met piepende kuikens strompel ek bakkie toe, ‘n hele paar starende oe op my. Het niemand nog ook ‘n boks vol kuikens gesien nie, wonder ek. Dalk is dit die reuk.

Ek ruk die kombers van die agterste bank af en drapeer dit so op die voorste sitplek dat daar NERENS enige iets kan uit mors nie. Ek sal NOOIT die einde daarvan hoor nie. Ek lig die boks se deksel so effens en sit die aircon op sy hoogste en stel dit reg op die boks. My planne is agtermekaar. Ek gaan niks vir manlief se dat die hoenders voorin gery het nie, ek gaan net by die laaste hek voor die huis hulle vinnig agterop sit. Hy sal niks agterkom nie. Fout. Moet nooit planne maak om te lieg nie, dit haal jou in.

 Ek stop vinnig by die Engen garage om vir my ‘n bottel water te koop. Toe ek egter terugkom by die bakkie en die deur oopmaak tref die walm my, en een van die kuikens sit al boonop op die boks se rand. Toe weet ek, die feit dat die hoenders voor in gery het, gaan ek NIE vir my man kan wegsteek nie. Beste is om sommer nou al die nuus te breek. Ek druk die kuiken se kop hardhandig terug in die boks, teen die tyd al moeg van al die gesukkel, en maak die boks deeglik toe. Kyk as die bakkie nou nie lekker ruik nie, is een ding, maar as die kuiken op die “dash” sit en sy ding doen, slaap ek vanaand saam met hierdie hoenders in hulle hok. Ek bel plaastoe. “Hoe lyk die kuikens, sal hulle oorleef tot op die plaas, vra my man.” Uhm, ja, hulle sal, voorin. “Soos in VOOR in?” “JA Johnny, soos in VOOR in, anders kan jy maar solank vir hulle ‘n graffie grawe, dis warm en hulle lyk oes, se ek.”

Op Kakamas gekom maak ek seker hulle is lewend, terwyl ek self nie meer so lewendig voel nie. Effens bedwelmd om die waarheid te se.

By die plaas se afdraai maak ek solank vensters oop, dis nog 10 km, genoeg tyd vir die reuk om effens te verdwyn. Toe ek voor die huis stop is die eerste wat Johnny doen toe hy by die bakkie kom, om te ruik hoe ruik dit binne in. Voor hy iets kan sê, val ek hom in die rede. “EK moes met hierdie reuk al die pad van Upington tot hier ry, moet NIKS sê nie.” “Nee, sê hy toe hy die koue boks uit die bakkie haal, ek wil maar net sê dat as hulle nie van die "aircon" dood is nie, hulle beslis nie van die hitte agterop sou sterf nie!”

Die reuk het intussen verdwyn, die kuikens is besig om hoenders te raak, en het aangepas in die Boesmanland. In hulle hok, waar ek elke middag saam met hulle hoenderkos vir hulle vars vrugte skille gee. Gister het hulle ‘n halwe waatlemoen geeet. Dit alles was die moeite werd. Ek kan nie wag as hulle op 22 weke begin eiers lê nie.   

Wednesday, 5 December 2012

'n Brief aan my ouers



Hulle is vandag 37 jaar getroud. ‘n Leeftyd. Een vol gelukkige tye asook hartseer tye. Swaarkry en goeie tye.

Pappa en Mamma, baie geluk met hierdie mylpaal. En dankie vir die voorbeeld wat julle oor al die jare vir ons kinders gestel het. Hoe ‘n huwelik moet wees. En hoe ware liefde lyk. Ek glo dit is, met genade van BO, hoekom elkeen van ons 3 vandag gelukkige huwelikke het.

Die lewenslesse wat ons by julle geleer het, is meer as wat geld ooit sou kon koop. Of meer as wat in woorde omgesit kan word. Die vooreg om altwee ons ouers nog te kan hê besef ek vandag is DIE grootste vooreg van almal. Want ek het nie meer skoonouers nie. Die Here weet wie is sterk genoeg om sonder hulle pappa & mamma te wees, en wie nie.

Pappa, dankie dat jy ons geleer het maak nie saak wat jou omstandighede is nie, geluk kom van binne, uit jou hart. Dit is ‘n lewensles wat my tot my oudag sal bybly en wat ook by my eie kinders eendag sal inskerp. Ook dat jou oë altyd op Jesus moet wees, en AL jou vertroue op HOM, dan sal dit met jou goedgaan. Pappa het ons geleer hoe om fiets te ry en te swem. Ek onthou vandag die swemlesse, pappa het ons vir ‘n rukkie in die swembad vasgehou op ons maag en dan laat los, ons moes net swem. Pappa het ook altyd vir ons geleer om ons eie probleme uit te sorteer, as ons dit veroorsaak het, moet ons dit self oplos. Dit het ons selfstandig gemaak. Dankie. Pappa jy het ons geleer om altyd eers met ‘n besluit na Jesus toe te gaan, en te wag vir die regte antwoord. Dit het ons al gered van baie verkeerde besluite. Dankie vir daardie lewensles. Ons het ALTYD eerste in Pa se lewe gekom, maak nie saak hoe besig jy by die werk of met ‘n klient was nie. Ek was in die laerskool en het vakansies liaseerwerk by die kantoor gedoen vir sakgeldjies. As die personeel kwaad geword het omdat ek verkeerd geliaseer het, het pappa altyd vir my opgekom. En toe ek vir ‘n verhoging vra, het pa vir tannie Martie gesê om vir my ‘n ekstra geldjie in die koevert te sit. En die grootste geskenk wat pappa ooit vir ons kon gee, is om lief te wees vir mamma.

Mamma, jy was altyd en sal altyd die anker van ons ouerhuis wees. Die een waarop almal maar net altyd staatmaak. Die een van ons altyd kan bel as ons hartseer is, of nie weet hoe om ‘n sitsuasie te hanteer nie. Mamma het ons geleer om altyd waardig om te tree, al is jy HOE kwaad en seergemaak. Mamma het ons geleer om altyd netjies aan te trek. Eerder “overdressed” as andersom! Mamma het goeie vrouens van my en Anneen gemaak. Toe ek Hoërskool koshuis toe is het mamma altyd vir my ‘n pakkie Mini Eggs ekstra ingepak vir die week saam met my kos, my bederfie vir die week. En Vrydae as mamma my kom haal, het ek altyd uitgesien na die kossies wat in die kar vir my wag.
Ek kon enige tyd in die week vir ma ‘n “Please Call Me” stuur, mamma het DADELIK gebel, vir as dit ‘n krisis was. As ‘n kêrel my gelos het, en ek my oë uitgehuil het, het mamma altyd gesê: “My kind, jy verdien beter!”. Toe ek tot op ‘n laat ouderdom nogsteeds bang was vir die donker, het mamma altyd gesê ek kan maar die lig aanlos as ek gaan slaap, jy sal hom kom afsit as jy gaan slaap. Elke aand. Tot ek my vrees vir die donker oorwin het.

Ons onthou elke jaar se vakansie. Kruger Wildtuin. ELKE jaar, daarvoor het pappa gesorg. Met die linnesak vol beesbiltong onder die rooi kombi se sitplek. En die vragte vol vrugte wat ons altyd gekoop het net voor ons ingaan by die Wildtuin se hek. Vandag koester ons daardie spesiale gesinstye saam. En vandag steeds is ons ‘n hegte gesin wat gereeld saam vakansie hou. Omdat julle ons so grootgemaak het, om lief te wees vir mekaar. As ons baklei het, het almal pakslae gekry, maak nie saak wie was die oorsaak van die baklei nie. Want ordentlike kinders baklei nie met mekaar nie het pappa altyd gesê. Ons moes leer om te deel met mekaar.

Vandag is ons almal groot en uit die huis. Maar ons ouerhuis bly ‘n veilige hawe. As ons gaan kuier, is daar altyd vir ons elkeen ‘n bak vars beskuit. En ‘n pot sousboontjies en appelkooskonfyt wat ma met liefde vir ons gekook het.

Dankie vir die voorbeeld wat julle oor die jare vir ons gestel het, en steeds doen. Om onvoorwaardelik lief te wees vir mekaar. Ten alle tye. En dat respek vir mekaar die grootste sleutel tot sukses in ‘n huwelik is. DIT is ons grootste lewensles.

Monday, 3 December 2012

Reëndans in die Boesmanland

Ons reel al vir weke aan ons Soutrivier Boerevereniging se dans en steak ete op 1 Desember. Dis ‘n groot storie die. Ons haal alles uit, ons gaan groot! En ons kry baie aftrek, almal wil kom saam kuier in plaasstyl. Ons DJ moet 120km grondpad ry, maar dit kry haar nie onder nie. Dalene is immers LIEF vir kuier, en vir die Boesmanlanders.

Tannie Alba bel laasweek en se sy dink ons gaan die reëndans kan doen. Die weervoorspelling wys GROOT reen vir 1 Desember. Sjoe, dink ek, sal dit nou nie alles perfek maak nie. Dit gons oor die 2 rigtings radios die week, hier is reën oppad se die manne.  Dis warm, die grond is dor en uitgedroog. Die veld is op. Die voergee baie. Die gemoedere nie aldag positief nie.

Vrydag kom klomp van ons Boerevereniging se lede bymekaar op Loogkolk, waar die dans gehou is, om die stoor skoon te maak en alles reg te kry vir die groot aand Saterdag. Dis drukkend warm, die wolkies pak saam. Ons werk met ywer, daar is baie beloftes in die lug. In boeretaal is die wind van die regte rigting af, die wolke lyk goed.

Saterdag oggend vroeg slaan die miswolke op uit die Ooste, Johnny spot (met ‘n mismoedige stemtoon) dat hy nog vir hom ‘n plaas in die “ooste” wil koop, want dit reën altyd in die ooste kant. Ek kan sien my man is nie meer so positief soos wat hy probeer voorgee nie. Here, bid ek vroegoggend, asseblief U weet hoe nodig ons hierdie water het. Hier is duisende honger ooie in die geweste. Asseblief wees ons genadig.

Terwyl ek besig is om nog die laaste “Trifle” vir die aand te maak, en wag vir ons Kakamas vriende wat oorslaap die aand, sien ek deur my kombuisvenster die weer is dik en blou in die Westekant. Die wind begin ook mooi opsteek. Asseblief Here, bid ek weer, asseblief.

WP & Danel arriveer. “Ons het vir julle reën saamgebring uit Kakamas, se WP opgewonde, dit gaan reen ou Jhonna, dit gaan reen!” Ek se vir Jesus stilletjies dankie vir sulke positiewe vriende. Ons begin klaarmaak vir die dans. Die weer begin dreun, ek skree in die gang af of ek maar my haardroër kan gebruik as die donderweer so klink?! Almal is opgewonde, meer oor die belofte van reën as die partytjie. My woorde was skaars koud toe die eerste druppels op die sinkdak begin val. Al harder. Ek staan by my spieeltafel in die kamer. Here, U is getrou. U voorsien ALTYD vir ons. Dankie dankie dankie.

Johnny skree dat ons moet ry, dit reen al harder. Ons ry 2 ure en 45 minute Loogkolk toe. (40 km). Ek ry saam met swaer Manie vir “company”. Hierdie opgewondenheid moet immers met mekaar gedeel word! Johnny, WP en Danel in ons bakkie vooruit. Die water loop en ons harte juig. Ek stop kort kort vir swaerie, ek wil fotos neem! Dis nie aldag dat ons hierdie tipe ding sien nie!


Op Loogkolk aangekom hoor ons daar is baie mense wat nie kans sien vir die pad nie, hulle het halfpad omgedraai. Ek verstaan, ons het immers ook maar gly-gly gekom. Ons kan maar net 40 mense vanaand ook wees, dit reën, en dis al wat saakmaak! Half 9 kom daar nogsteeds mense aan. Bakkies vol modder. Hulle laat hulle nie onder kry deur die reen nie. Dis immers vreugdevol om in die water te ry, al vat dit 2 ure langer as gewoonlik!

Oom Stollie doen vir ons die tafelgebed en se vooraf hy wil net eers vir ons Hemelse Vader dank vir hierdie groot genade van waters wat oor die pad stroom. Die boere se harte is vol. My man is gelukkig, en ek is gelukkig. Want ek weet sy hart voel ligter.

Die manne se geselsies gaan nie oor die voerprys en maer ooie nie. “Ek het al 34 mm gemeet toe ons weg is by die huis, se een.” “Ja nee wragtie, ‘n opvolgreentjie sal nou goed wees kom daar van ‘n ander kant af”. Die storie word vertel van die oom wat na ‘n goeie reënbui, toe die sonnetjie sy kop uitsteek, vir die tannie gesê het: “Sien jy ou vrou, daar kom die volgende droogte al weer.!”

Ons partytjie tot ounag. En ons dans dat die poeierwolke staan op die stoor se sementvloer. Die broodtafel kreun onder die boerbrood met kaings en skaapvet. Vyekonfyt en perskekonfyt loop oop op Tannie Alba se platbrode. Die steaks word met vreugde gebraai deur ons manne. Want die luggie is koel en die waters staan. Tannie Suna se broodslaai is ekstra lekker. Almal skep sommer ‘n tweede happie “Trifle”.

Toe tannie Alba die bedankings doen, blêr daar ‘n ooi in die kraaltjie langs die stoor. Die sterretjies flikker en die maan is helder. Die grond ruik vars na die mildelike reenbui. Watter tipe lewe het ons in hierdie wêreld vra mense dikwels? Dis dan so WARM en plat en droog!

 Watter lewe het ons? ‘n VOL en ryk lewe. Een vol genade en dankbaarheid. Waar ons opkyk na ons Hemelse Vader en elke dag weet dat SY genade vir ons genoeg is.