Sunday, 25 November 2012

Loeriesfontein

Toe ons onlangs weer ‘n draai maak op Loeriesfontein vir ‘n veiling, het die heimweë rondom hierdie klein en vervalle dorpie my hart ‘n harde pluk gegee. Almal deel seker nie my kop vol drome en nostalgie nie, maar ek het vir hierdie tipe klein dorpies ‘n spesiale plekkie. Hier is geslagte se stories om te vertel. Al hierdie plekkies was in vervloe dae ‘n miernes van bedrywighede. Met ‘n groot boeregemeenskap. Daar is sekere dinge wat eie is aan so klein dorpie. En ek se dit nie met minagting nie, ek deel dit met nostalgie, soos ek dit beleef.

Die Kafee is meestal ook die plek waar die inwoners maar tevrede moet wees om hulle kruideniersware ook te koop. Teen pryse wat jou laat ril.

‘n Dakwaaier wat lankal sy glorie verloor het waai die reeds warm luggie rond met ‘n moedelose geluid. Die lekkerste slaptjips word gewoonlik hier verkoop, met baie sout en asyn, in ‘n papiersakkie. Loslekkers soos ons dit nog as kinders geken het, in glaspotte op die toonbank uitgestal. Dis net die prys wat drasties verander het. En ‘n enkele petrolpomp wat net een keer per week voorraad kry. Hulle het nog die kaartmasjien ontdek nie. Slegs kontant. Die Landbouweekblad wat twee weke nadat dit gedruk is eers op die rak lê.

‘n Polisiestasie waar die amptenare meestal op die stoep in die sonnetjie sit en bak. En altyd, maar altyd, ‘n Pepstores. Was jy al ooit in ‘n dorp waar jy NIE verby ‘n PEP gery het nie?

Ek kry ‘n mengelmoes van gevoelens as ons deur Loeriesfontein ry oppad skougronde toe. Soos altyd wanneer ek my in soortgelyke dorpies bevind. Daar loop ‘n volstruis met ‘n swetterjoel kleintjies wat agter haar aan trippel op die sypaadjie. Stel jou so iets voor in die stad? By een van die huise met ‘n groen gewel dak en hortjies voor die venster, hardloop die skaaphond ‘n voetpad teen die heining. Seker sy enigste opwinding vir die dag, om nou en dan ‘n kar te jaag wat verby ry.

Ons is nie presies seker waar die skougronde is nie, die veiling bordjies is nie juis duidelik opgesit nie. In die enigste teerstraat, dis natuurlik die hoofstraat, stop ons voor die mooi en imposante kerk. Die netjiese grasperk val my dadelik op. Die kerk is ook onlangs oor geverf. ‘n Ou verimpelde man is besig om die straat te vee, hy doen dit met soveel passie dat ek wonder of hy dalk hulle huisie ook vir sy vrou skoonmaak. Hy verduidelik graag vir ons. “Meneergoed draai nou weer om, dan draai Meneergoed af in l-l-l-langstraat.” Ek wil-wil begin giggel, maar luister aandagtig verder. “Dan hou Meneergoed reguit aan met die pad, die pad hy maak so l-l-l-lang draai daar voor. Meneergoed draai weer af (ek wonder of dit nou links of regs is). Meneergoed sal dan sommer d-d-d-dadelik sien.” Toe Johnny klaar die man bedank het, en vir my kyk toe weet ek nie een van ons twee weet nou eintlik waantoe nie. Maar wat my veral opgeval het, is die vriendelikheid waarmee hy ons gehelp het. Hy was trots daarop om ons te help.

Ons kry slegs ‘n DF Malan straat en wonder of dit nie eintlik is wat hy bedoel het nie. Ek mompel onderlangs hoe dit nou ook moontlik is om in Loeriesfontein van alle plekke te VERDWAAL?! Die plek is ook net SO groot.

By DF Malan afgedraai ry ons verby die skool. My gedagtes loop op paaie waar ek self nie eers was nie. Dalk die generasie so oud soos my grootouers? Die skool is verwaarloos. Dis ‘n groot dubbelverdieping gebou, die koshuis ook langsaan. Die verf dop af, die tennisbane het nie meer nette nie. Die Bloekombome hou wag oor alles, groot bome wat al vir jare en jare daar staan. Ek wonder hoeveel kinders, wat vandag al oumense is, het onder daardie bome gesit en broodjies eet pouses. Hoeveel tennis toernooie is teen die buurdorp op hierdie einste bane gespeel. Ek sien in my geestesoog die bakkies wat Vrydag middag onder die wye skaduwee van die Bloekoms staan en wag vir koshuiskinders. Hoeveel kattekwaad, pret en eksamens was in hierdie ou gebou. Dis voor die dae van selfone, internet en ipads. Woensdae aande is seker op die plaaslyn gebel om te hoor of alles nog wel is. Daar was nog “Koffer kamers” waar jou tasse gepak is vir die week. Die weeklikse proviant was sekerlik beslis nie blikkies coke en pakkies chips nie. Dalk ‘n houertjies kaiings, lekker groot stukke boerbeskuit en biltong met ‘n ordentlike vetlagie om.

My hart is seer. Ek probeer kyk verby die stukkende vensters en probeer dit sien soos dit 50 jaar terug moes lyk.

Hierdie dorpies was eens op ‘n tyd ‘n bymekaarkom plek vir ‘n hele streek boere. Met ‘n ordentlike Kooperasie waar ek myself kan indink hoe daar op die stoep nuusies uitgeruil is. Waar daar groot Kerkbasaar gehou is en die tannies gewedywer het wie se koeksisters is die beste. Waar daar yslike sport byeenkomste gehou is en pannekoek en jaffles by dosyne gebak is.

Namiddag toe ons oppad terug is huistoe, bak die sonnetjie warm oor Loeriesfontein. Dit stilte wat hang oor hierdie dorpie is tasbaar. Die man op die donkiekar wat verbykom groet vriendelik. Wat het geword van hierdie plekkie, kan ek nie help om te wonder nie. Wat het geword van al die mense. Hoekom kan dit nooit weer dieselfde wees nie.

Dalk omdat almal se lewens ‘n gejaag na geld en sukses geword het?

Wednesday, 14 November 2012

'n Windpomp is 'n wonderlike ding



Daar is iets nostalgies aan ‘n windpomp. ‘n Regte ou Climax pomp. Wat as hy bietjie olie nodig het, so “tjier-tjier” geluid maak. Vir my het dit nog altyd ‘n bekoring ingehou. Vir my man, aan die ander kant, boesem dit ‘n gevoel van vrees in. Want, reken hy, as ‘n windpomp so “tjier-tjier” geluid volgens my maak, moet hy binnekort gewerk word. Hy deel dus nie my gevoel van heimwee nie.

Daar is ‘n gesegde wat lui: “Solank die Bul en die Windpomp werk, is alles in orde op die plaas.”

Ek ry nooit by ‘n windpomp verby sonder om met opregte waardering daarna te kyk nie. Dis net ‘n stuk blik en plaat met klomp pype, maar dit verrig ‘n edele taak. Sonder ‘n windpomp het ons nie water op die plaas nie. En sonder water het ons nie lewe nie.

Alles rondom die windpomp het ongelukkig nie ook net ‘n rose geurtjie nie. Wanneer hy die dag breek, is dit nie ‘n takie wat kan oorstaan tot more nie. Dit beteken die skape staan sonder water.
 Nou as manlief met so frons op sy voorkop by die agterdeur inkom die middag, en net so onderlangs groet. Dan weet ek. Dis sulke tyd, pomp werk tyd. ‘n Sieldodende en bitter harde werk in die geweste se genadelose son.

So kom dit toe ook onlangs dat ons beplan om vir die naweek weg te gaan. Manlief skuif net gou vroegoggend die draadwerkers na ‘n ander kamp. Ons wil probeer om so teen 9 uur se kant in die pad te val. Half 9 is ek reeds klaar, alles staan reg. Padkos is gepak. Geen teken van hom nie.
Tienuur kom hy met daardie Van Wyk frons by die agterdeur in. Jy sal dit nie glo nie, grom hy. Daai pomp in die Stootpomp se kamp op Barsvley het nou meer as ‘n jaar lank tyd gehad om te breek. Maar nee, hy moes wag tot vanoggend. Hy is die josie in, om die minste daarvan te sê. O en om die kersie op die koek te sit, die jong N’guni bul is dood. Oor die draad gespring en toe vasgesit. So, dinge is nie reg nie. Die Bul werk nie en die windpomp werk nie.

“Moet jy dit NOU doen, vra ek so half verontwaardig?” Natuurlik, antwoord hy, ons kan mos nie wegry vir die naweek as daar nie water in die kamp is nie. Die dam is klaar vêr onder half. Rerig, dink ek by myself, is dit nou nodig, vandag van alle dae.

Ek besluit om maar saam te ry, hier is inelkgeval niks by die huis om te doen nie. Dalk kan ek bydra tot die verligting van sy gemoed.

Een van die werkers haal ‘n nessie bo uit die wiel uit wat in die pad is vir die werkery. Ek wag vol afwagting dat hulle hom afbring. Twee piepklein Witbors kraai babas. As ek my vinger by hulle bloedrooi bekkies hou, maak hulle ‘n skril geluidjie. Honger vir kossies. Manlief gee opdrag dat hulle met nessie en al in die brosdoring bos digby die windpomp moet neergesit word.  Hy verseker my vir die hoeveelste keer dat hulle ma hulle weer sal kry. Ek kan net eenvoudig nie die versoeking weerstaan nie. “Kan ek hulle nie groot groooot asseblief tog huistoe vat en grootmaak nie?” Die kyk op sy gesig 5 meter bo my waar hy op die dwarspyp staan, laat my moederlike instink om hulle groot te maak, gou verdwyn.

My gemoed voel ook sommer skielik soos syne. Droewig. Met die katrolle gehak, wiel vasgemaak en blokke vasgemaak begin hulle die pype uittrek. Ek stuur ‘n skietgebedjie op dat dit asseblief tog net die eerste of tweede pyp moet wees waar die probleem is. Toe nie, pyp nommer 14. Deurgeroes.

2 ure later wag ons in afwagting vir die water om weer deur te kom.
Ek het nie die geduld hiervoor nie. Uiteindelik. Ek was nog nooit so bly om ‘n straaltjie water by ‘n windpomp pyp te sien uitkom nie.

Ons kom half 2 eers weg by die huis. Manlief se hy gaan nie nou links of regs kyk tot ons by die grootpad is nie. Te bang vir nog ‘n probleem.

Dis Boerdery. Daar is uitdagings, maar die vreugdes is soveel meer. Soos wanneer die laaste oranje sonstrale van die dag uit die Weste oor die grasbulte skyn. Met ‘n windpomp se kop afgeets daarteen. “Priceless”.

Saturday, 10 November 2012

My Karoo kuier

Die lewensreis gee ons herinneringe om te koester.”

 Die woorde op die hartjie wat teen die muur hang in die spaarkamer waar ek slaap by my sussie hul se huis.

Ons ry vir die naweek Middelburg toe vir pappa se verjaarsdag. Al ons kinders weer vir ‘n slag bymekaar. Ons kuier die naweek in die Bergkwagga park. My ouers waardeer dit so baie, ons hele gesin bymekaar, altesaam 10 met kinders en al. Ons het ook die vooreg om vir ouma Driekie, wat as die Here haar spaar Januarie 90 jaar oud word, vir die naweek saam met ons daar te hê. Ons kuier en lag, Saterdag maak my boetie Arnold vir ons die lekkerste skenkelpot. Ons bly in die mooiste huisies. Die kinders voer oorskiet brood vir die voëltjies wat op die klipstoep kom kos bedel. Hulle soek kort kort ‘n “maatjie” wat saam met hulle die klipkoppie voor die huis kan uitklim, dit het gewissel tussen oupa en oom Johnny!

Hoe nader dit aan die einde van die naweek kom, hoe meer besef ek dat ek nie genoeg tyd saam met my familie het nie. Ek vra vir Johnny baie mooi of ek asseblief bietjie kan agterbly as hy Sondag teruggaan huistoe. Sonder om te huiwer sê hy dis reg, hy weet ek het die tyd broodnodig. Ek belowe dat dit net vir ‘n week sal wees, my pa sal my halfpad terugvat Vrydag. Tot by Marydale.

Ek besluit toe dus om bietjie agter te bly en te kuier by my ousus en haar man. ‘n Karoo kuier. My hartsplek. My grootwordplek. .

Toe Johnny Sondag oggend 10 uur begin pak om te ry het ek gemengde gevoelens, hartseer om my sielsgenoot alleen te laat huistoe gaan, maar ook baie opgewonde oor die tydjie wat ek gegun word om saam my familie te kuier.

Ons ry ook so rukkie later terug Middelburg toe. By Anneen hul se huis gekom is my heimwee gou iets van die verlede. Ons pak af en uit. En ons drink ‘n lekker koffietjie op die agterstoep. Swaer Chris se spesialiteit.

Maandag “shop” ons in Middelburg se winkels, ons pas klere aan en oe en aa oor Pep Stores se mooi skoene. Ons eet middagete by my ma hulle.
Dinsdag is Naomi se 3de verjaarsdag partytjie. Madagascar. Ek leer wie is Gloria die seekoei, en Mati die sebra. Ek sien dinge uit die oë van ‘n kind. Haar tannie se hart se punt. Sy is so spesiaal. En so opgewonde oor al haar persente. Ek gee vir haar ‘n porselein tee stelletjie. En ek weet eendag as sy groot is, sal sy besef dat dit bitter kosbaar is. Ons blaas “bubbles”, ons speel en eet koek.


                                                              "Die verjaarsdag koek!"

                                                                                  "Naomi"

Dinsdag aand toe almal stokflou moeg is, kyk ek en Anneen tot ounag Mc’leods Daugters.
Woensdag gaan drink ons koffie en eet middagete by “Picadilli’s”, die mooiste plekkie met ‘n lekker gevoel. Geskenkies, polkadots, die lekkerste koffie en hoender “wraps”. Naomi bestel sommer vir haarself. “Tjippies en ‘n pienk melkie asseblief!”.

Ek besef die week gaan te vinnig verby. Ek maak haar tuin nat, dis so lekker om net die krane oop te draai en al die sprayers gaan gelyk aan. Ek bewonder haar mooi tuin. Ek wens ek kon ook so tuin hê. Sy gee vir my ‘n Hen-en-kuiken plantjie wat in ‘n groen Lyle’s stroopblik geplant is met ‘n bruinpapier sakkie om. Dis so mooi en spesiaal, sy is een van die kunstigste mense wat ek ken. Ek besluit daar en dan, kom wat wil, hierdie plantjie sal ek aan die lewe hou. Met varswater. Dis iets van haar.

Ons laat doen ons voete, ‘n lekker sussie bederf. Sy het vir Naomi belowe dat sy haar sal kom haal by ouma net voor ons klaar is, dan kan haar toonnaels ook gedoen word. Ursula verf dit mooi roomys pienk met ‘n skoenlapper op elke groottoontjie.

Donderdag aand braai swaer Chris vir oulaas vir ons ‘n steakie. Ons maak mengelslaai en gebakte aartappels. En ons kuier tot ounag. Ek weet dis ons laaste aand, ek wil dit so lank as moontlik uitrek.

Hierdie week het ek weereens besef hoe groot vooreg dit is om ‘n sussie te hê. Sy’s my ousus, maar ook my hartsvriendin. Ons het hartsdinge gedeel, ons kan saam lag en huil. Daar is niemand wat kan lag soos my sussie nie. Uit haar maag. Dat die trane loop. Ek kon my diepste bekommernisse met haar deel. Ek kon vir haar vertel dat ek soms, net soms, bitter alleen is op die plaas. En dat ek haar op sulke dae erg baie mis. Sy verstaan. Ons het immers saam grootgeword. Sy was die een wat my leer grimeer het. Sy het kleintyd vir my geduldig stories voorgelees toe ek nog nie kon lees nie. Ons het dieselfde liefde vir mooigoed. Hierdie sussie van my het ‘n baie spesiale plek in my hart.

Vrydag middag maak sy vir oulaas vir ons lekker boerekos. Met Roly Poly en roomys vir poeding. Sy gee vir my ‘n bottel van die lekkerste slaaisous wat van Graaff-Reinet af kom. Ek het dit so geniet die week.

My hart is seer toe ek moet groet. Naomi sê ek moenie huil nie, Oom Johnny sal my maatjie wees. Die trane sit maar vlak, maar Anneen sê ek moenie hartseer wees nie, as Jesus ons spaar sien ons mekaar oor 5 weke weer by die see. Ons “last touch” vir oulaas.

Ek besef hoe waar is die woorde op die hartjie, dat ons lewensreis beslis goeie herinnerige gee, wat ons altyd kan koester. Hierdie Karoo kuiertjie van my was een. Ek sal dit vir altyd koester. En ek dank Jesus vir ‘n ousus.