Een van die
werksmense wat vir Johnny werk, is besonders bang. BESONDERS. Vir alles. Hy glo
ook aan spoke (hulle praat van die tokkelos). Sy naam is Daantjie. (Eintlik
Danwill, maar Johnny het besluit dat so volksvreemde naam nie gaan “tol” nie,
hy is herdoop na Daantjie.)
Nou Johnny
maak misbruik van Daantjie se vrese vir ALLES. Hier is permanent 'n geskrou en gehardloop op die werf. NIEMAND wil meer saam met hom op die motorfiets lift vang nie. Wat ek 100% verstaan ook. (Ek moet darem bysê dat hier nog nooit 'n ongeval was nie.)
So 2 weke
gelede gee hy hulle een middag met uitvaltyd opdrag om wanneer dit nou lekker
sterk skemer is, op huis toe te kom. Hier is ‘n klomp kapok hoender haantjies
wat moet uitgevang word. Hulle verniel die henne en bemors net alles. Maar,
hulle moet sorg dat dit STERK skemer is, dat die hoenders al op hulle neste
sit. Anders word hoender se kind nie sommer net gevang nie.
Toevallig is
dit ook donker maan. Ek het sommer geweet hierdie is ‘n lang plan. Johnny is
ondeund gebore, en sy planne sal tot op sy oudag nie opraak nie.
Hy het ‘n
jakkalsroep deuntjie op sy selfoon wat selfs my hare laat regop staan, dit
klink soos iets uit ‘n spookstorie. En Daantjie is ook baie bang vir vir geluid
wat jakkalse maak. Dis mos maar ‘n aardige geskreeu daai. Hy vat een van my WIT
gastelakens uit die linnekas en drapeer sy 1.94 meter liggaam daarin. Met 'n paar tekkies sonder sokkies. Toe vou
ek al klaar dubbeld van die lag.
Presies 10
voor 7 toe neem hy posisie in agter een van die bome naby die bokke se kraal.
Langs die pad waar Daantjie moet verby kom. Ek neem stelling in by die stoor
daar naby. Hierdie aksie mis ek beslis nie. Hy het vooraf gereel met een van
die ander wat saam Daantjie moet kom, dat hy halfpad moet omdraai en vir
Daantjie alleen los. Sy verskoning was dat hy gou ‘n flits loop haal.
Dis piknag
donker en die wind begin so liggies opkom.
Daantjie was
so 20 meter weg, toe sit Johnny die selfoon op HOOGSTE volume, daai jakkalsroep
weergalm eintlik oor die vlak. Hy STOL letterlik in sy spore en gaan sit op sy
hurke. “Lanie??” “Lanie??” Met ‘n bitterlike benoude stem. Johnny bly DOODSTIL.
Toe begin Daantjie skree: “JOHAAAAAAAN (die ander een wat saam met hom moes
kom), o #$%$%$ julle moet kom, hier is GROOT #@#. “Johaaaaaaaaaaan, jy moet
KOM!!!!!” Ek kruip omtrent op die grond rond langs die stoor soos ek my lag
moet inhou.
En die
volgende oomblik begin Johnny vir Daantjie jaag. Met sy wit laken al wapperend
in die wind. En Daantjie stel ‘n nuwe 100 meter record op hierdie plaas op. En
Johnny hardloop. Nou teen daardie tyd toe kan ek nie meer nie. Ek het alles
weggegee, want ek het begin skree soos ek lag.
Daantjie was
baie verleë toe hy besef hier word nou groot gat gevat met hom.
Nodeloos om
te sê, nadese wil hy nie later as 6 uur saans alleen buite wees nie.
No comments:
Post a Comment