…is nie elke
liewe dag ‘n sprokie soos wat baie mense dink nie. Dit is MEESTE van die tyd ‘n
fees. Maar daar is sekere dinge wat jy moet leer, en aanvaar. Sekere van
hierdie dinge het ek van die begin af geweet, ander het ek padlangs agtergekom.
Ander het my amper 5 jaar gevat om te “verstaan”.
‘n Boer se
plaas en diere is sy eerste “liefde”. Aanvaar dit. Maak vrede en hê die plaas
net so lief soos hy, dan sal hy jou nog liewer kry. Dis waar hy grootgeword
het, waar hy sy liefde vir diere ontwikkel het, waar hy vir die eerste keer sy
knie oopgeval het. Al sy EERSTE in die lewe was hier. Op hierdie stuk aarde.
Natuurlik is sy hart hier. As jy dit nog nie verstaan nie, beweeg aan. Jy gaan
nie deel van sy lewe wees nie. Harde feite.
Nee, hy gaan
nie vanaand na ‘n harde dag in die son jou ‘kerslig ete-vonkelwyn-vertel my
meer oor jou gevoelens’ poging waardeer nie. Hy is moeg en sal ‘n lekker bord
kos waardeer, sonder om te hoor dat jy emosioneel afgeskeep voel, en dat jy
eintlik meer tyd saam met hom in gedagte gehad het. Jy gaan hom irriteer. Nie move nie. Die lewe is nie elke dag ‘n
piekniek nie, veral nie op ‘n plaas nie. Probeer Sondag weer.
Die wasbak
kraan wat al vir weke lek, en jou hoenderhok se sif wat stukkend is, is
ongelukkig minder belangrik as ooie wat gescan of lammers wat gemerk moet word.
Die 4 eiers wat jou hoenders per dag lê, gaan ongelukkig nie vir julle kos op
die tafel sit elke maand nie. Die lammers wel. Dit is nie elke week ewe besig
nie, so wees net geduldig. Maar moenie terwyl jy die donderwolk op sy gesig
sien, vra WANEER gaan jy nou eendag vir my die nuwe rak in die waskamer opsit
nie. Veral nie met DAAI stemtoon nie. Daar is ‘n tyd en plek vir alles. Nou is
nie die regte tyd nie. Hy respekteer jou emosies ook, doen dieselfde met syne.
‘n Windpomp
of sonpomp breek nooit gedurende ‘n normale, rustige week nie. Dit gebeur die
oggend voor jy met vakansie/naweek weg ry. Vra enige boer. En GEEN boer gaan
weg ry met vakansie terwyl hy weet van ‘n stukkende pomp nie. Die diere moet
water kry. Natuurlik is dit belangrik, moenie simpel vrae vra nie. Raak kalm,
hekel, bak, pak die bakkie. Julle gaan NERENS voor daar nie weer ‘n straal
water uitkom nie. Die plaas kom eerste. Dit IS na alles julle inkomste.
Boerdery is ‘n
BESIGHEID. Soos enige ander besigheid. Dit word so bestuur ook. Daar is egter
een groot verskil. Jy kan nie verlof insit, die voordeur sluit, vir iemand vra
om jou plante nat te maak en die honde kos te gee en dan vir 3 weke see toe
gaan nie. Dit werk nie so nie. Boere glo nie eintlik aan vakansie nie. Vakansie
beteken ‘n lang naweek weg. Dis meer as genoeg.
En dan nou
natuurlik een van DIE belangrikste dinge…. Moenie belaglik wees en een van die
klein jakkalsies wat in ‘n nes gevang is, of ‘n baba rooikat te wil grootmaak
nie. Been there. Done that. (Slegs die voorstel, ek het nog nooit so ver kon
kom om rerig een te hou nie.) Om so simpel voorstel te maak nadat die minder
oulike ma jakkals al ‘n hele paar lammers ingewerk het, is soos ‘n DOLK in jou
boerman se hart. En waar, om mee te begin, wil jy nou inelkgeval die d@*&$$
ding aanhou? Tong wat klap. Saak afgehandel. ‘n Jakkals of rooikat op ‘n plaas
is soos iemand wat toegang het tot jou internetbank en ietsie vat wanneer hy
dit nodig het.
Sy
plaasbakkie: Is SYNE. HY boer daarmee. En JY het niks daar verloor nie. Moenie
as jy saam met hom vir die dag ry, die tange, merkverf, bosluisgoed en tools begin rondgooi om plek te maak vir
jou voete nie. Jy mag dalk padlangs afgelaai word. So ook sy stoor en
werksplek. Dis soos jou kombuis vir jou is. Bly WEG.
Dates saam jou boerman beteken om
opgewonde na ‘n lekker reenbui die meters om te ry, om teen sononder op ‘n
Sondag namiddag na die bees toe te ry. Om elke nou en dan ‘n onverwagse soen op
die wang te kry terwyl hy na diesel en olie ruik, om donkermore saam koffie te
drink en oor die dag te praat wat voorle. En wanneer hy deur die oggend op die
radio roep om te hoor of alles nog “okei” is by die huis….. Dis VREK lekker!
No comments:
Post a Comment