Saturday, 3 January 2015

Doring in die vlees


Indien jy dalk al ooit net vir ‘n oomblik getwyfel het, mens het AL tien jou tone nodig om oor die weg te kom. Sonder een (of dan met die beperkte gebruik van jou groottoon), kan jy skaars loop. Glo my. Druk ‘n koppiespeld halfpad in onder jou groottoon, knip die helfte van die toon weg met ‘n skerp naelknipper, karring vir so rukkie in die wond met ‘n “tweezer”, en dan draai jy vir hom toe met ‘n verband. Nee, jy sal nie geloop kry nie. Ek weet. Been there, done that.

Met die plaas werksmense op verlof tussen Kersfees en Nuwejaar, is ek maar alte gretig om saam met Johnny te boer soggens. As dit lyk of hier gaan gery word, is ek al links voor in die bakkie. Maar my “job description” was heeltyd nog net om hekke oop te maak, hier en daar ‘n waterkrip skoon te maak ens. Dit het nog nooit behels dat ek soos ‘n springhaas, tussen berge en dale en driedoringbosse agter ‘n siek ooi hoef aan te hardloop nie.

30 Desember. Dinsdag oggend vroeg. Die dag voor oujaar, en ook my man se verjaarsdag. Ons ry Barsvley toe vir die oggend. Die gewone “vakansie” roetine van slegs waters kyk en lek gee. Kyk dat alles reg is ens.

Skaars in die eerste kamp het ons die siek ooi agter ‘n bos gekry. Johnny maak dadelik die diagnose, lamsiek. Dis (normaalweg) maklik om ‘n lamsiek dier gevang te kry, hulle hardloop net ‘n klein entjie, dan gaan lê hulle weer. Dit is toe ook so. Skaars 2 minute en sy is agter op die bakkie saam met die honde, lek sakke en lusern bale.

Alles het goed gegaan. Tot by die laaste water punt. Die “club” is oop en ek moet agter op  staan en lusern uitgooi vir ‘n trop ooie met lammers.

Maar voor jy kon sê “skaap”, toe kry daai siek ooi ‘n nuwe lewe van ek weet nie waar af nie, en binne 3 tellings is sy bo oor honde, sakke en voerbale. Johnny het onmiddelik die houding van ‘n jong hings perd, die DINGES in. Want kon ek nou rêrig nie sien sy gaan afspring nie?

Ons moet haar weer vang. Nou dis toe nou waar die “lyding” begin. Ek klou vir my lewe agterop soos ons jaag tussen die bosse deur, agter ‘n half mal skaap wat besig is om ‘n nuwe rekord op te stel. Johnny skreeu dat as hy stop by die bos waar agter sy gaan lê, dan moet ek spring en haar net vashou tot hy die bakkie tot stilstand het om oor te neem.

 Ek kry dit toe ook heel goed reg. Die enigste probleem is, met die afspringslag, bly my een plakkie (Jip, ek weet, ek het plakkies aangehad. Volgens Johnny, iets wat mens net aantrek as jy klaar gebad het. Maar dis nie asof ons sou skaap werk in die kraal nie.), agter op die bakkie. Ek spring met my kaal voet BINNE IN ‘n bos. Met takke so dik jy kan ‘n potlood maak daarvan. En ek weet ook onmiddelik (gelukkig met die siek ooi se een voet in my hand geklou), dat hier iets ongewens in my voet teenwoordig is.

Terug in die bakkie, met nadere ondersoek, is dit toe ook nie anders nie. My toon, wat toe ook byna onmiddelik klop en rooi raak, gaap eintlik oop van die “stukkie” tak, wat ongelukkig afgebreek het binne in. Johnny probeer tevergeefs met die Leatherman iets uitkry, die tak suig vas soos ‘n parasiet.

By die huis gekom, het ons tevergeefs probeer. Ek het ten einde laaste maar treksalf en ‘n verband opgesit en gehoop die doring trek vanself uit.

Dit was net tot die namiddag toe. Teen daardie tyd was ek vasbeslote om self lokale verdowing in die vorm van drank te gee, of een van my nuwe geel Victorinox messe te vat en die seer stuk van my toon weg te sny. My kuit kramp soos iemand wat pas die Two Oceans voltooi het. Ons probeer vir oulaas sê Johnny, wat teen daardie tyd al van beter geweet het as om die uitdrukking op sy gesig, van “I told you so, hoekom het jy nie vellies aangehad nie”, in woorde om te sit. As ons niks regkry nie, moet dr Leana maar gou more ‘n snytjie maak en die doring uithaal. (Asof hier nou ENIGE dokter in Kakamas gaan beskikbaar wees op oujaar, tensy dit ‘n uiterse noodgeval is. Niemand gaan hierdie as ‘n noodgeval sien nie, dis net vir my een.)

Gewapen met ‘n speld, “tweezer”, watta en bottel lampolie was dit operasie toon, vir die 3 de keer die dag. My pyndrempel, wat normaalweg baie laag is, was op breekpunt. Net voor ek begin gil en sê los maar eerder, sê Johnny, “byt net gou vas”. En julle, toe dit vir my voel of hy RERIG nou my toon met die mes bygekom het, lig hy daai stuk monster van ‘n doring (dis eintlik ‘n stukkie van ‘n tak) uit my toon. Ek was laas so verlig toe ek Engels in matriek deurgekom het.

Ja, ek sal nooit weer met plakkies saamry veld toe nie, en ja, dit is okei om te huil as jy seer het, al is jy amper 29.

Ek dink ek gaan vir my pienk veters aanskaf vir my vellies, dalk dra ek hulle DAN met meer gemak.

No comments:

Post a Comment