Thursday, 1 January 2015

2015


So is 2015 toe skielik met ons. 'n Splinternuwe jaar, soos 'n nuwe boek met skoon blaaie. Wat wag om geskryf te word.


Ons het 2014 afgesluit saam met hartsvriende. 'n Lekker kuieraand, braai, goeie geselskap en HOPE lag. Diep gesels, drome gedeel en geinspireer.

Ons eerste dag van hierdie nuwe jaar was sommer baie lekker.
Ek het vroeg oggend vir ons moerkoffie gemaak waarna ons vir lank sommer so in die bed sit en gesels het. Iets wat baie min gebeur, Johnny se dag begin normaalweg BAIE vroeg. Daar is nooit tyd daarvoor nie.
Ons het op die ingewing van die oomblik besluit om sommer vir middagete 'n worsie te gaan braai 2 kampe van die huis af by die bees se water. Onder die suidwesdoring bome. Dit was eenvoudig, 2 pakke wors, toeklap rooster, 'n bottel water en koeldrankie. Niks fênsie nie.

Johnny het vir ons 'n klein vuurtjie gemaak en ons het sommer so van die rooster af geëet. Die kalfies het nuuskierig nader gekom en kom ondersoek instel.



Terug by die huis het ons 'n welverdiende middagslapie gevat en na die middag Barsvley se waters gaan kyk en lek gegooi. Al die honde agter op die bakkie, Krummel patat (die stoutse maar ook oulikse klein skaaphond ingesluit).
Ons het gesamentlik besluit dat ons sommer vir aandete ook braai. Sosaties en 'n skaaptjoppie. Dit is immers vakansie...

Ongelukkig kan elke dag mos nie so luilekker wees nie, maar hierdie dag was ekstra lekker en spesiaal. Kwaliteit tyd saam met mekaar. Dis broodnodig hierdie tydjies. As die jaar eers op volspoed is, gaan spesiale tyd baie vinnig verlore.

Ek hou nie eintlik van nuwejaar voornemens nie, dit werk nie vir my nie. MAAR in my hart is my grootste wens vir 2015 dat ek MEER sal fokus op ander mense, en wat hulle nodig het. Ons onderskat te maklik die waarde van 'n vinnige sms, whatsapp, drukkie of glimlag.
Om meer om te gee, te bel en te vra HOE gaan dit regtig. Om verjaarsdae te onthou, want dit maak tog vir elkeen saak, al sê niemand dit ooit nie. Om moeite te doen met mekaar, meer van ons kosbare tyd te gee en om eerlik te wees oor ons gevoelens. Om mekaar se laste te help dra en OOK om vreugdes te deel.

Ons het BAIE drome en planne vir hierdie nuwe jaar, en met die Here se groot GENADE alleen glo ek dit gaan vir ons 'n GOEIE jaar wees.
Mag 2015 ook vir JOU alles wat mooi is inhou. Mag jy elke oggend opstaan met waarlike vrede en vreugde in jou hart. Mag jy die opdraendes wat oor jou pad kom lag-lag oorgaan. En mag die lag en "wow" oomblikke soveel meer wees!

No comments:

Post a Comment