Wednesday, 7 January 2015

Die alewige oorlog teen gewig


Ek dink 90% van die bevolking se nuwejaars voornemens is om gewig te verloor. Mense sluit in hordes aan by die gym, sportwinkels verkoop meer tekkies en drafklere in Januarie as vir die res van die jaar saam, winkel trollies kreun onder die vars groente en vrugte en ons drink liters en liters water. Vir baie is dit ‘n lewenswyse, vir ander net ‘n modegier. Maar op die ou einde, is dit vir almal ‘n ewe groot stryd. Veral ons vrouens…? Want hoekom, hoekom is dit nie so maklik om gewig te verloor, soos wat dit is om daai ekstra vetjies om die heupe te laat saampak nie. Vet weet, eet is mos lekker.

Banting was mos DIE woord van 2014. Mens kry al selfs ‘n resepteboek waarin slegs Lae Koolidrate, Hoog in Vet resepte verskyn. Spesiaal vir al die mense op die banting wagon. Geen stysel, geen suiker, baie vet vleis (jip, net soos jou oupa van sy skaaptjoppie gehou het, met so lekker vetjie om daai dorper se rugtjop). Paar jaar gelede was vet vleis TABOE. Weg met die rys en aartappels, weg met die tuisgebakte brood met sultana konfyt. Want dit MAAK VET skree almal. Skielik is coconut olie die in ding. Bak soggens vir jou 10 eiers daarin, braai die reeds vet vleis daarin, en wag vir die een, jy maak selfs vir jou koffie daarmee. Bullet proof koffie noem hulle dit nogals. My brein kan nie dit verwerk nie. Ek het reeds genoeg vetjies, hoe op aarde kan ek ekstra byvoeg en verwag ek gaan MAER word?

Gaan google ”dieet” op die internet. Daar is letterlik miljoene der miljoene eetplanne, wondermiddels, produkte wat jou verseker dat jy 15 kg binne die eerste week gaan verloor (en sekerlik 10 daarvaan binne die volgende 2 weke weer gaan terugkry.). Inspuitings, shakes, pille, noem dit, dit is beskikbaar. Mense wil NOU maer wees. Dit het jou ‘n jaar of 3 geneem om 20 kilogram op te tel, maar jy is vasbeslote om dit binne die volgende maand te verloor.

En dan kry jy mos mense wat permanent op ‘n dieet is, dis al waaroor hulle kan praat. Hulle kla ALEWIG oor hoe vet hulle geword het. En dis gewoonlik ook DAAI mense wat ALTYD iets te sê het oor iemand anders se gewig, “het jy GESIEN hoe vet het daai een geword???”. Dis verskriklik. Nee ek het nie gesien nie, want ek lyk nie eintlik self soos ‘n riet nie. Nee man, hou op om altyd kommentaar te lewer op iemand anders se gewig, gebruik die energie en fokus eerder op jou eie skaal.

En dan, die mees bekende een. Hierdie maer, size 8 dames. Wat hulle altyd DOOD eet. Hulle eet en eet, en hulle word NOOIT vet nie. Yeah RIGHT. Dames, niemand van ons glo dit as jy soos ‘n plank lyk, en dan vir almal vertel jy eet soos ‘n man nie. Twak. By ‘n funkie, of troue skep hulle mos altyd so opgehoopte bord kos, en sit en peusel dan net aan 3 slaaiblare en 2 tamaties. En indien hulle dit sover kon kry om ‘n HELE stuk kaaskoek te verober, is dit wortel stokkies en liters water vir die volgende week. Ek verstaan dat party mense gelukkig is met “beter” gene, maar NIEMAND van ons kan net eet wat ons wil nie. En moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie, ek het BAIE respek vir iemand wat se lyf altyd in goeie “kondisie” is, want ek weet dis harde werk. Maar moet asseblief nie vir die res van ons soos losers laat voel omdat ons 2 kg optel van die naweek se lekker eet nie.

Nou hier is ‘n paar van my beskeie gedagtes.

Hou op om jou geld te mors op al wat ‘n produk is wat jou belowe op maer te word. Op die langtermyn hou dit nie eintlik baie voordele in nie. Lig jou boudjies (in my geval extra large) van die bank af op, en BEWEEG suster, en broeder. Deur te sit en kyk na die maer aktrises op Binnelanders, gaan nie van self maak dat jy ook so lyk nie. Ry fiets, draf, gaan stap (vat jou hond saam, dis veiliger en hy sal jou ewig dankbaar wees), gym, spring tou, klim berg, wat jy ookal van hou en kan bekostig, doen dit.

En laastens (ja ek het nie eintlik baie opinies op hierdie onderwerp nie, aangesien ek in dieselfde bootjie is. So wie is ek nou eintlik om raad te gee.). Nou nie asof ek al die Kerstyd se ekstra gewiggies (saam met die wat ek reeds voor die tyd ook gehad het) afgeskud het nie.

KYK wat jy alles in jou mond druk. Doen jouself die guns, en skryf vir een dag lank neer presies wat jy alles geeet het. Jy SAL skrik. Want dit IS skrikwekkend. En maak dan alles net ‘n klein bietjie minder. Los die koffie en beskuit vir een of twee maal per week, eet poeding op Sondae, eet meer groente en minder pakke chips. Drink meer water en minder Coke. Maar balans is die wagwoord, moenie jouself ontneem van lekker eet nie, dis ‘n voorreg om te kan lekker eet. Hou net matigheid in gedagte. As jy nie lus is vir ‘n appel nie, dan is jy nie regtig honger nie, net verveeld.

Hoe lus kry ek nou vir ‘n Woolies dougnat…. Met kondensmelk koffie.

Saturday, 3 January 2015

Doring in die vlees


Indien jy dalk al ooit net vir ‘n oomblik getwyfel het, mens het AL tien jou tone nodig om oor die weg te kom. Sonder een (of dan met die beperkte gebruik van jou groottoon), kan jy skaars loop. Glo my. Druk ‘n koppiespeld halfpad in onder jou groottoon, knip die helfte van die toon weg met ‘n skerp naelknipper, karring vir so rukkie in die wond met ‘n “tweezer”, en dan draai jy vir hom toe met ‘n verband. Nee, jy sal nie geloop kry nie. Ek weet. Been there, done that.

Met die plaas werksmense op verlof tussen Kersfees en Nuwejaar, is ek maar alte gretig om saam met Johnny te boer soggens. As dit lyk of hier gaan gery word, is ek al links voor in die bakkie. Maar my “job description” was heeltyd nog net om hekke oop te maak, hier en daar ‘n waterkrip skoon te maak ens. Dit het nog nooit behels dat ek soos ‘n springhaas, tussen berge en dale en driedoringbosse agter ‘n siek ooi hoef aan te hardloop nie.

30 Desember. Dinsdag oggend vroeg. Die dag voor oujaar, en ook my man se verjaarsdag. Ons ry Barsvley toe vir die oggend. Die gewone “vakansie” roetine van slegs waters kyk en lek gee. Kyk dat alles reg is ens.

Skaars in die eerste kamp het ons die siek ooi agter ‘n bos gekry. Johnny maak dadelik die diagnose, lamsiek. Dis (normaalweg) maklik om ‘n lamsiek dier gevang te kry, hulle hardloop net ‘n klein entjie, dan gaan lê hulle weer. Dit is toe ook so. Skaars 2 minute en sy is agter op die bakkie saam met die honde, lek sakke en lusern bale.

Alles het goed gegaan. Tot by die laaste water punt. Die “club” is oop en ek moet agter op  staan en lusern uitgooi vir ‘n trop ooie met lammers.

Maar voor jy kon sê “skaap”, toe kry daai siek ooi ‘n nuwe lewe van ek weet nie waar af nie, en binne 3 tellings is sy bo oor honde, sakke en voerbale. Johnny het onmiddelik die houding van ‘n jong hings perd, die DINGES in. Want kon ek nou rêrig nie sien sy gaan afspring nie?

Ons moet haar weer vang. Nou dis toe nou waar die “lyding” begin. Ek klou vir my lewe agterop soos ons jaag tussen die bosse deur, agter ‘n half mal skaap wat besig is om ‘n nuwe rekord op te stel. Johnny skreeu dat as hy stop by die bos waar agter sy gaan lê, dan moet ek spring en haar net vashou tot hy die bakkie tot stilstand het om oor te neem.

 Ek kry dit toe ook heel goed reg. Die enigste probleem is, met die afspringslag, bly my een plakkie (Jip, ek weet, ek het plakkies aangehad. Volgens Johnny, iets wat mens net aantrek as jy klaar gebad het. Maar dis nie asof ons sou skaap werk in die kraal nie.), agter op die bakkie. Ek spring met my kaal voet BINNE IN ‘n bos. Met takke so dik jy kan ‘n potlood maak daarvan. En ek weet ook onmiddelik (gelukkig met die siek ooi se een voet in my hand geklou), dat hier iets ongewens in my voet teenwoordig is.

Terug in die bakkie, met nadere ondersoek, is dit toe ook nie anders nie. My toon, wat toe ook byna onmiddelik klop en rooi raak, gaap eintlik oop van die “stukkie” tak, wat ongelukkig afgebreek het binne in. Johnny probeer tevergeefs met die Leatherman iets uitkry, die tak suig vas soos ‘n parasiet.

By die huis gekom, het ons tevergeefs probeer. Ek het ten einde laaste maar treksalf en ‘n verband opgesit en gehoop die doring trek vanself uit.

Dit was net tot die namiddag toe. Teen daardie tyd was ek vasbeslote om self lokale verdowing in die vorm van drank te gee, of een van my nuwe geel Victorinox messe te vat en die seer stuk van my toon weg te sny. My kuit kramp soos iemand wat pas die Two Oceans voltooi het. Ons probeer vir oulaas sê Johnny, wat teen daardie tyd al van beter geweet het as om die uitdrukking op sy gesig, van “I told you so, hoekom het jy nie vellies aangehad nie”, in woorde om te sit. As ons niks regkry nie, moet dr Leana maar gou more ‘n snytjie maak en die doring uithaal. (Asof hier nou ENIGE dokter in Kakamas gaan beskikbaar wees op oujaar, tensy dit ‘n uiterse noodgeval is. Niemand gaan hierdie as ‘n noodgeval sien nie, dis net vir my een.)

Gewapen met ‘n speld, “tweezer”, watta en bottel lampolie was dit operasie toon, vir die 3 de keer die dag. My pyndrempel, wat normaalweg baie laag is, was op breekpunt. Net voor ek begin gil en sê los maar eerder, sê Johnny, “byt net gou vas”. En julle, toe dit vir my voel of hy RERIG nou my toon met die mes bygekom het, lig hy daai stuk monster van ‘n doring (dis eintlik ‘n stukkie van ‘n tak) uit my toon. Ek was laas so verlig toe ek Engels in matriek deurgekom het.

Ja, ek sal nooit weer met plakkies saamry veld toe nie, en ja, dit is okei om te huil as jy seer het, al is jy amper 29.

Ek dink ek gaan vir my pienk veters aanskaf vir my vellies, dalk dra ek hulle DAN met meer gemak.

Thursday, 1 January 2015

2015


So is 2015 toe skielik met ons. 'n Splinternuwe jaar, soos 'n nuwe boek met skoon blaaie. Wat wag om geskryf te word.


Ons het 2014 afgesluit saam met hartsvriende. 'n Lekker kuieraand, braai, goeie geselskap en HOPE lag. Diep gesels, drome gedeel en geinspireer.

Ons eerste dag van hierdie nuwe jaar was sommer baie lekker.
Ek het vroeg oggend vir ons moerkoffie gemaak waarna ons vir lank sommer so in die bed sit en gesels het. Iets wat baie min gebeur, Johnny se dag begin normaalweg BAIE vroeg. Daar is nooit tyd daarvoor nie.
Ons het op die ingewing van die oomblik besluit om sommer vir middagete 'n worsie te gaan braai 2 kampe van die huis af by die bees se water. Onder die suidwesdoring bome. Dit was eenvoudig, 2 pakke wors, toeklap rooster, 'n bottel water en koeldrankie. Niks fênsie nie.

Johnny het vir ons 'n klein vuurtjie gemaak en ons het sommer so van die rooster af geëet. Die kalfies het nuuskierig nader gekom en kom ondersoek instel.



Terug by die huis het ons 'n welverdiende middagslapie gevat en na die middag Barsvley se waters gaan kyk en lek gegooi. Al die honde agter op die bakkie, Krummel patat (die stoutse maar ook oulikse klein skaaphond ingesluit).
Ons het gesamentlik besluit dat ons sommer vir aandete ook braai. Sosaties en 'n skaaptjoppie. Dit is immers vakansie...

Ongelukkig kan elke dag mos nie so luilekker wees nie, maar hierdie dag was ekstra lekker en spesiaal. Kwaliteit tyd saam met mekaar. Dis broodnodig hierdie tydjies. As die jaar eers op volspoed is, gaan spesiale tyd baie vinnig verlore.

Ek hou nie eintlik van nuwejaar voornemens nie, dit werk nie vir my nie. MAAR in my hart is my grootste wens vir 2015 dat ek MEER sal fokus op ander mense, en wat hulle nodig het. Ons onderskat te maklik die waarde van 'n vinnige sms, whatsapp, drukkie of glimlag.
Om meer om te gee, te bel en te vra HOE gaan dit regtig. Om verjaarsdae te onthou, want dit maak tog vir elkeen saak, al sê niemand dit ooit nie. Om moeite te doen met mekaar, meer van ons kosbare tyd te gee en om eerlik te wees oor ons gevoelens. Om mekaar se laste te help dra en OOK om vreugdes te deel.

Ons het BAIE drome en planne vir hierdie nuwe jaar, en met die Here se groot GENADE alleen glo ek dit gaan vir ons 'n GOEIE jaar wees.
Mag 2015 ook vir JOU alles wat mooi is inhou. Mag jy elke oggend opstaan met waarlike vrede en vreugde in jou hart. Mag jy die opdraendes wat oor jou pad kom lag-lag oorgaan. En mag die lag en "wow" oomblikke soveel meer wees!