Friday, 4 September 2015

Daantjie en die spook...


Een van die werksmense wat vir Johnny werk, is besonders bang. BESONDERS. Vir alles. Hy glo ook aan spoke (hulle praat van die tokkelos). Sy naam is Daantjie. (Eintlik Danwill, maar Johnny het besluit dat so volksvreemde naam nie gaan “tol” nie, hy is herdoop na Daantjie.)

Nou Johnny maak misbruik van Daantjie se vrese vir ALLES. Hier is permanent 'n geskrou en gehardloop op die werf. NIEMAND wil meer saam met hom op die motorfiets lift vang nie. Wat ek 100% verstaan ook. (Ek moet darem bysê dat hier nog nooit 'n ongeval was nie.)

So 2 weke gelede gee hy hulle een middag met uitvaltyd opdrag om wanneer dit nou lekker sterk skemer is, op huis toe te kom. Hier is ‘n klomp kapok hoender haantjies wat moet uitgevang word. Hulle verniel die henne en bemors net alles. Maar, hulle moet sorg dat dit STERK skemer is, dat die hoenders al op hulle neste sit. Anders word hoender se kind nie sommer net gevang nie.

Toevallig is dit ook donker maan. Ek het sommer geweet hierdie is ‘n lang plan. Johnny is ondeund gebore, en sy planne sal tot op sy oudag nie opraak nie.

Hy het ‘n jakkalsroep deuntjie op sy selfoon wat selfs my hare laat regop staan, dit klink soos iets uit ‘n spookstorie. En Daantjie is ook baie bang vir vir geluid wat jakkalse maak. Dis mos maar ‘n aardige geskreeu daai. Hy vat een van my WIT gastelakens uit die linnekas en drapeer sy 1.94 meter liggaam daarin. Met 'n paar tekkies sonder sokkies. Toe vou ek al klaar dubbeld van die lag.

Presies 10 voor 7 toe neem hy posisie in agter een van die bome naby die bokke se kraal. Langs die pad waar Daantjie moet verby kom. Ek neem stelling in by die stoor daar naby. Hierdie aksie mis ek beslis nie. Hy het vooraf gereel met een van die ander wat saam Daantjie moet kom, dat hy halfpad moet omdraai en vir Daantjie alleen los. Sy verskoning was dat hy gou ‘n flits loop haal.

Dis piknag donker en die wind begin so liggies opkom.

Daantjie was so 20 meter weg, toe sit Johnny die selfoon op HOOGSTE volume, daai jakkalsroep weergalm eintlik oor die vlak. Hy STOL letterlik in sy spore en gaan sit op sy hurke. “Lanie??” “Lanie??” Met ‘n bitterlike benoude stem. Johnny bly DOODSTIL. Toe begin Daantjie skree: “JOHAAAAAAAN (die ander een wat saam met hom moes kom), o #$%$%$ julle moet kom, hier is GROOT #@#. “Johaaaaaaaaaaan, jy moet KOM!!!!!” Ek kruip omtrent op die grond rond langs die stoor soos ek my lag moet inhou.

En die volgende oomblik begin Johnny vir Daantjie jaag. Met sy wit laken al wapperend in die wind. En Daantjie stel ‘n nuwe 100 meter record op hierdie plaas op. En Johnny hardloop. Nou teen daardie tyd toe kan ek nie meer nie. Ek het alles weggegee, want ek het begin skree soos ek lag.

Daantjie was baie verleë toe hy besef hier word nou groot gat gevat met hom.

Nodeloos om te sê, nadese wil hy nie later as 6 uur saans alleen buite wees nie.