Ons Sondag het rustig begin. Met ‘n gebruiklike koppie
moerkoffie.
Omtrent ‘n uur later noem Johnny dat hy net gou vinnig na die
bees in die kamp hier agter die huis toe ry. Daar is ‘n koei wat hartverskeurend
bulk, ons hoor haar tot by die huis. Toe hy egter na omtrent 15 minute steeds
nie terug is nie, het ek klaar vermoed hier is fout. Is toe ook so. Hier kort ‘n
kalf, kondig my boerman aan toe hy by die kombuis instap, skuins na 7. Al die
bees is by die water, net die een kalf wat kort.
Ag wat sê ek, dalk lê en slaap hy maar net êrens.
Toe ons vanmiddag opstaan na ‘n lekker Sondag middag slapie,
vra Johnny of ek gou wil saamry na die Bonsmara bul toe. Hy wil gou vir hom
water en stukkie lusern vat. Die bul was baie siek laasweek, en lê so drie
kampe van die huis af weg, waar die rooi bees loop. Genadiglik is hy weer aan
die gesond word.
Ek ry graag saam. Ek trek gou skoene aan terwyl Johnny die
bakkie kry. Dis egter waar die eerste blessing
in hierdie hele storie van my begin. Ek trek amper NOOIT tekkies aan nie, veral
nie op so heerlike warm dag soos vandag nie. En snaaks dat ek toe skielik so half ”gedwing” voel om
tog maar die tekkies aan te trek. Min wetend wat op ons wag.
Toe ons terugry van die bul af, noem Johnny dat hy wonder of
ons nie maar gou moet kyk of ons nie dalk net daai kalf êrens kry nie. Nou jy
moet mooi verstaan, die kamp is regtig groot, en die gras staan redelik hoog.
Dis byna ‘n onmoontlike taak. Maar ons moet tenminste probeer. Dit IS ‘n bees
kalf. En dit IS ons verantwoordelikheid om te doen wat ons kan.
Ons het die hele kamp deurgery. Asook verby die trop skaap
wat almal op ‘n bondel staan. Geen teken van ‘n verlore kalf nie. Ons het moed
opgegee en was eintlik al oppad terug huistoe toe daar skielik, so 100 meter
voor ons, ‘n ooi alleen langs ‘n bos staan. Soos wat enige boer natuurlik sal
doen, ry Johnny nader om te kyk of daar fout is met die ooi. Gewoonlik as hulle
so alleen staan, het hulle pas klaar gelam. Maar die ooi het al ‘n redelike
groot lam, en sy makeer absoluut NIKS. Sy hardloop eerder weg. Die volgende
oomblik stop Johnny dat die stofwolkies eintlik so verby my venster kom, daar
lê die verlore kalf, so skuins agter die einste bos. Binne in ‘n groot erdvark
gat geval.
Ons het nog NOOIT so iets teëgekom nie. Daar is gelukkig
altyd ‘n tou agter al die bakkies se sitplekke. Johnny het die tou aan die kalf
se voet vasgemaak, en ons het ‘n spanpoging aangewend om haar uit te kry. Maar
dis al ‘n groot speenkalf, so ons het haar nie eers beweeg gekry nie. En sy was
al van al die roei om uit te kom, so vêr in die gat geval, dat regtig nog net
haar kop en ‘n stukkie voorlyf bo die gat uitgesteek het. Met absolute
vreesbevange oë het sy vir ons gekyk. Hy het toe die tou aan die bakkie se hak
vasgemaak, en ek moes agter die stuurwiel inklim. Hy sal help trek aan die
kalf. Paar sekondes later help ons die kalf op haar effense wankelrige voete,
en daar gaan sy. Maar toe sit daai Hilux so vas gespin in die sand, NIKS kan hom beweeg nie.
Right, dit beteken dis te voet terug huis toe. Blessing
nommer een, dankie vir tekkies, en NIE my gebruiklike plakkies nie. Mag ek
noem, dis aan die heel verste punt van die kamp? So bietjie meer as ‘n halfuur
se (VINNIGE) stap. Ek het meestal gedraf om by te hou by my man se lang bene.
Ons het ‘n ander bakkie gaan haal, en die Hilux kom verlos
uit die sand. Die kalf sal hopelik binnekort weer sy ma opspoor.
Toe ons egter rustig raak, en terug is by die huis. Het ek en
Johnny byna gelyk tydelik hardop ons Vader se HAND in hierdie oomblik van
vanmiddag gevoel.
Hy het ons absoluut GELEI, vandat ons vanmiddag opgestaan
het, todat daardie kalf uit die gat was. Van die regte “toerusting” tot WAAR in
daardie groot kamp die kalf presies was. Daardie ooi was gestuur om daar te staan. DIT is daardie HOENDERVLEIS oomblikke
in boerdery, waar jy WEET die Here het sopas met jou gepraat, Hy het jou
gehelp, en jy het geluister.
En dan wonder ek, of nee weet ek. Engele kom in verskeie
vorms, ons moet net leer om hulle raak te sien.