Friday, 23 August 2013

DIe geur van herinneringe...


Ek dink almal sal weet waarvan ek praat. Dis daardie onthou oomblikke wanneer jou reuk sintuig oorneem. Goeie herinneringe. Daai oomblik van nostalgies raak oor dinge in die verlede, dalk uit jou kinderjare.
Ek het vanoggend daai onthou oomblik gehad. Toe ek klaar aangetrek het en besluit om vanoggend vir ‘n slag “spesiale” parfuum aan te spuit. Ek het so klein kassie bo my spieel tafel waar al my parfuum botteltjies staan. Ek het die klein botteltjie “Beckham signature for her” agter in die kassie uitgehaal. En toe ek die doppie afhaal het die soete herinneringe van ons troudag gekom. Ek het dit spesiaal vir ons troudag gekoop. En daarna net vir baie spesiale geleenthede aangespuit. Jy ruik die liefde daarin, die mooi onthou oomblikke van 2 mense wat alles vir mekaar beteken. Dis ‘n vintage parfuum, met bietjie van “musk” en lemoenbloeisels se geure wat deurslaan. Ek het suinig ‘n bietjie daarvan aangespuit.
Ek het ‘n paar sulke “onthou” dinge in my lewe. Elke keer wanneer ek vir ons moerkoffie maak in my “enamel” keteltjie op die gasstoof met Sabie Vallei se moerkoffie, dan onthou ek my kinderjare. My pa het elke Sondag oggend vir ons moerkoffie met warm melk in die bed gebring. Oeee, daardie REUK van moerkoffie wat op die stoof staan en kook. Met warm melk en ‘n lepeltjie kondensmelk. Priceless. Die lewe is te kort vir slegte koffie.
Laas Sondag oggend maak ek vir my en manlief krummelpap vir ontbyt. Toe hy in die kombuis kom sê hy: “Dit ruik lekker, soos jou ma se kombuis.” En ek besef weer, mens heg sekere reuke aan sekere oomblikke en mense. Ons het grootgeword met krummelpap, en nou nog, wanneer ons by my ouerhuis kuier, maak my ma elke oggend krummelpap. Met pangebraaide wors. Oe julle, dis lekker. Dis daardie oomblik wat elke goeie voorneme van “diet” by die agterdeur uitwaai. Ons het ook vreemder kombinasie saam krummelpap geeet. Tamatie en kaas. Met growwe sout. Of lekker beesbiltong waarvan die geel vetlagie so buite om sit.
Wanneer ons Saterdae aande ‘n vuurtjie maak, en die vlamme knetter so. Dan, soms, verlang ek na die Kruger Wildtuin. Ons het as kinders ELKE Junie vakansie Wildtuin toe gegaan. Met die kombi. Daardie reuk van die vuur roep ongelooflike herinneringe terug. Daar is ELKE aand ‘n hengse vuur gemaak, en gebraai. Met vrugteslaai vir poeding. Na ‘n wildtuin vakansie het almal ‘n intense behoefte gehad na hoender en vis en groente. Moeg vir braaivleis. Na ete het ons altyd “volley ball” gespeel, die hele kamp se kinders het kom saam speel. Soggens 6 uur as die hekke oopmaak is almal binne in die kombi, reg vir leeus soek. En in die middae wanneer ons terugkom by die kamp, is daar klogslag vir elkeen ‘n roomys gekoop by die kamp winkeltjie. Ons kinders het ook poskaarte versamel. Ek weet nie eers waar is myne mee vandag nie. Snags word jy wakker van die hienas of die leeus se veraf gebrul. DIT is soete herinneringe. Met die teruggaan slag was almal maar altyd so half dikbek.
Ek sal ‘n boek kan skryf oor geure, en oomblikke van nostalgie. Daai kaneelgeur van ‘n tuisgebakte melktert. Die reuk van pronkertjies vol in blom. Daar was altyd pronkertjies in my pa se tuin. Dis ‘n hemelse geur. Ek het dit al hier in my Boesmanland tuin probeer plant, dit het nie eers opgekom nie.
En mango’s, stroopsoet goudgeel ryp mangos. Dit laat verlang my terug na ons kuiertjies by oom Sias in die Kaap. Daar was altyd bokse vol mango’s. En lietsjies. Party klein, party groot. Maar almal ewe soet.
Elke liewe mens het defnitief ‘n paar soete herinneringe. Wat jou net vir ‘n sekonde van ‘n oomblik laat onthou. En verlang na destyds. Net ‘n oomblik van iets sien, of ruik, en dit herleef. Oeeee, dis lekker!!

Thursday, 8 August 2013

Daai verskille - tussen mans en vrouens

Mens verstaan dit nie. Tot jy trou. Dan raak alles so duidelik soos daglig.
Moet my nie verkeerd verstaan nie, my boerman is die liefde van my lewe, my asemhaal, my opstaan en my bestaan. Maar, ‘n groot maar, ons verskil. Soos dag en nag. Hulle sê nie verniet “Opposites attrack nie”. Dis in ons geval BAIE waar.
Ek hou van laatslaap, hy staan graag saam met die hoenders op. Ek hou van dinge op my tyd doen, hy was haastig nog voor sy geboorte. Ek hou van vakansie, hy hou van by die huis bly. Ek hou van vreemde en brand kosse, hy hou van vleis, rys en aartappels. Hy sal eerder ‘n bak vol erdwurms eet voor hy sy mond waag aan ‘n olyf of sterk Kerrie.
Ek moet my hart vashou en ‘n asynlappie voor my gesig hou as ek in ‘n voertuig ry wat enigsins vinniger as 120km/h beweeg, vir hom is vinniger beter. Na 8 jaar stry ons nie meer oor spoed nie. Ek probeer slaap as ons erens heen moet ry. Sy liefde vir spoed sal nie verander nie, ek het vrede gemaak daarmee. Dis ‘n manne ding. Ek bid telkens deur die dag wanneer ek die motorfiets buite hoor.
Ek is besluitloos. Dis vir my ‘n kopseer om te besluit of ek my outfit moet afrond met krale of nie. Ek kan vir tenminste 20 minute staan en top daaroor. En wanneer ek uiteindelik dink ek het finaal besluit, dan verander ek nog 50 keer. Nie my boerman nie, hy besluit oor iets, en dan is dit dit. Of hy nou agterna besef dat dit dalk die verkeerde besluit was, maak nie saak nie. Sy ja is sy ja, nee is nee. Klaar. Punt. Afgehandel.
Ek gril my morsdood vir bloed, en alles wat daarmee saamgaan. Vir hom is dit so deel van sy lewe soos asemhaal. Ek onthou, ons het eendag erg verskil daaroor. Wel, oor ek gesê het ek sal NIE ‘n lam waarvan die ma sukkel om te lam, kan uittrek nie. Hy het gevra of ek haar dan maar eerder sal los om dood te gaan. Nee, ek sal nie, ek sal net alles in my vermoe doen om iemand in die hande te kry, wat wel daarvoor kans sien. Soos hy byvoorbeeld.
Nou kyk, hierdie tipe verskille is dood normaal. Dis wat die lewe interessant hou, hoe vervelig sou dit nie wees as ons presies dieselfde was nie.
Mans hou ook die lewe kleurvol.
Johnny het nou die aand voor die TV sy skoene uitgetrek. My oog het sy sokkies gevang. Grys, met pienk strepies. ???? Johnny, sê ek, jy het my sokkies aan, vir die hoeveelste keer. Ek wou kwaad word, maar die lag het my oorval. Want dit het regtig snaaks gelyk, hierdie stuk man met ‘n paar pienk sokkies. Hy het so onskuldig gesê jammer, hy kan nie lekker die kleur sien in die oggende nie. Mans sukkel oor die algemeen met kleur. Alles wat neig na skakerings van pienk of pers is ROOI. Hulle ken net rooi, bruin en blou.
As ons oppad êrens heen is, en gou by ‘n kafee stop om koeldrank te koop, moet my spoed hoog wees. Ek kom nog aan, dan begin hy al so half te ry. Maar wanneer ons vinnig by die Kooperasie stop, dat hy net VINNIG ietsie kry wat hy vergeet het, en dit vat ‘n halfuur of langer waar ek in die bakkie sit. Dan, DAN is hy verbaas wanneer ek al so half rooi in die gesig begin raak van ongeduld.
Ek is, ongelukkig moet ek dit erken, die een met die humeurtjie. Dit raak beter, met die ouderdom, maar dis daar. Ek vererg my bitterlik vinnig. My boerman, raak nie maklik kwaad nie. Maar as hy wel kwaadraak, gebeur dit stadig maar seker. Oor ‘n lang tydperk van sukkel met dieselfde ding. Ons het nou een dag laatmiddag teruggekom van Upington. Hy het ‘n 500ml Coke in sy hand gehad. Dit het al seker so 2 keer van tevore gebeur dat wanneer hy die botteltjie oopdraai, dit oorkook. Op sy skoot, op die stuurwiel, ALLES is taai en nat. Dit het weer gebeur. Hy het die ruit afgedraai en die hele bottel Coke by die venster uitgegooi. Ek het amper dubbeld gevou soos ek gelag het. Want Johnny mors nie met goed nie, maar hy het genoeg gehad.
Deur al hierdie verskille, is die lewe sooooo lekker as jy met jou beste vriend getroud is. Die een wat alles van jou weet, wat jou verstaan, wat die grond aanbid waarop jy loop, wat jou respekteer. Maar die belangrikste van alles, wat jou laat lag. Hoe gelukkig kan een vrou wees!