Monday, 15 April 2013

Skoenmaker hou jou by jou lees...

Ek is nie ‘n haarkapster nie, sal ook nooit een wees nie. Daarvoor sal my man sorg. Hy het my vanmiddag weereens goed laat verstaan dat dit nou nie eintlik een van my sterk punte is nie. Hare sny.
Ons was nog nie getroud nie, toe hy een naweek  wat ek op die plaas gekuier het, gevra het of ek dalk sy hare kan sny. Ek weet nie of dit dalk ‘n toets was wat ek moes deurkom voor hy my sou vra om te trou nie, ek glo nie, want ek het vir hom loshande gedruip.
Ek het volstrek geweier om die knipper te gebruik, dit lyk darem nou regtig soos ‘n weeskind. (Dis wat ek daai tyd gedink het – NIE meer vandag nie.) Die skêr, dis wat ek sal gebruik. Hoe moeilik kan dit dan nou ook wees. Nou die enigste skêr wat ek op daardie spesifieke Satermiddag in die huis kon kry, was oorlede ouma Kitty se naaldwerk skêr. Dis omtrent so groot soos my voorarm en so stomp soos ‘n bottermes. Dit kan deurgaan vir ‘n wapen.
Johnny het my erg benoud aangestaar, maar gelukkig was hy toe nog so verlief dat op daardie oomblik nie ‘n woord gesê het nie. Dalk moes hy maar eerder, dit sou my baie verdriet en ‘n gespot wat vandag nog aanhou, gespaar het.
Sit, het ek gesê. Ek weet wat ek doen. Wat ek nie vir hom gesê het nie, is dat dit die eerste keer in my lewe is wat ek ‘n skêr in iemand se hare druk. Die keer op hoërskool toe ek my eie kuif getrim het, tel nie. Eerlikwaar, as ek vandag daaraan terugdink, weet ek nie WAT ek moontlik gedink het nie. Dat ‘n naaldwerkskêr geskik is vir hare sny nie.
Die wapen was toe nie so slegte hare skêr nie, behalwe dat my hand so lam geraak het dat ek na elke tweede knip moes rus, het dit eintlik heel goed gegaan. Tot ek by die deel hier bo die ore gekom het. Die skêr was bietjie te lank, en ek het te vinnig geknip. Toe knip ek een hengse stuk hare weg.
Die verkeerdste ding wat ek op daardie punt kon doen, was om te begin lag. En dit het ek toe in oorgawe gedoen. Ek het regtig agterna sleg gevoel, baie, maar al wat ek toe kon doen, is om dit te probeer regmaak. Ek het toe maar verder geknip, en net ‘n groter gemors daarvan gemaak. Johnny moes in die badkamerspieel gaan kyk of hy tevrede is.
Ek het gevrees vir wat kom, dit het regtig sleg gelyk. Hy het met ‘n erg geskokte uitdrukking op sy gesig die kombuis binne gekom, en die volgende woorde, wat ek nooit in my lewe sal vergeet nie, met ‘n benoude stem gegil: “Jy het dan ‘n d&^%rse brandpad deur my kop geknip!!!”
En my antwoord, wat seker saam met my sal graf toe gaan. “Dit was nie ek gewees nie.” Dis wat senuwees doen.
Nodeloos om te sê, ek het nooit weer die vooreg gehad om my man se hare te knip nie. Tot vanmiddag. Sy hare is regtig te lank, kla hy, en hy kan nou nie wag tot hy weer by Marika uitkom vir ‘n knip nie. Sal ek asseblief die knipper kan deursit, vra hy.
Verbaas dat hy na amper 4 jaar weer vir my met ‘n skêr in die hand toelaat, stem ek dadelik in. Ek het ook voorgestel dat ek met die HARE skêrtjie wat saam met die knipper gekom het, net die kuifie trim. Dan sal ek die res van die hare met die knipper sny.
 “Daar is nie ‘n MANIER wat jy met ‘n skêr naby MY hare kom nie”, sê hy, “die knipper, op nommer 4, dis dit.” So hy het nogsteeds nie vergeet nie, dink ek.
Ek het hom sitgemaak in die kombuis. Ek druk toe ook sommer dadelik die knipper agter by sy hare in. “Stadig!”, skree hy, “jy is besig om my hare uit te trek, die ding kort olie.”
Die Retief geen in my veroorsaak dat ek my ook sommer dadelik vervies. “Luister”, sê ek, “wil jy dit graag self doen?”.
Nadat die ding geolie is, gaan ons knippery voort. Alles het ook weereens goedgegaan tot ons by die ore gekom het. Ek druk ook toe sommer dadelik in om die hare mooi netjies om die ore te kry, toe ruk hy sy kop weg dat ek dink ek het sy oor afgeknip.
Sy woorde? “Wil jy nou weer ‘n brandpad deur my hare sny?!”
Nou kyk, teen daai tyd, toe is ek al vuurwarm in die nek. Ek het maar stilgebly en net verder op sy instruksies gesny. Hy kon dit net sowel self gedoen het.
Gelukkig was daar hierdie keer geen noodlottige gevolge nie.
Maar die spreekwoord wat lui, skoenmaker hou jou by jou lees, is nie verniet gesê nie.

Wednesday, 3 April 2013

Ons "inner strength"

Om te twyfel in jouself. Ek is baie baie skuldig daaraan. Kleingelowig. Onseker en bang.
Dis hoekom liewe Jesus vir my ‘n man soos Johnny gegee het, om my in sulke tye te herinner dat ek tot baie meer in staat is as wat ooit self sou kon dink. Dis nou die inner strength waarvan hulle praat.
Myne is onlangs so een of twee keer getoets. Voor die toets het ek gedink ek sou dit nie maak nie. Wanneer jy opstaan in die oggend met daai klip wat binne in jou maag lê.
Na die tyd kon ek die Here se hand in dit alles sien. Van begin tot einde.
Ek het so deur my grootword jare geleer dat huil ongelukkig nie altyd die antwoord vir alles is nie, maar soms, net soms, maak dit tog dinge beter. Gewoonlik irriteer dit ook my man so bietjie. Maar nou die aand was anders. Ons altwee was anders. Ek het gevra of ek asseblief so bietjie by hom kan sit en dan wil ek graag hartseer wees. Want dis hoe ek nou moet voel. My hart voel loodswaar. Dit moet uit. Hy het gesê ek moet by hom kom sit en my hart uithuil. Die gif moet uit. Hy sal selfs vir my tissues bring. Ek het gesê dis nie nodig nie, hou net my hand vas.
Ek het verbasend beter gevoel na die tyd. Dat alles sal okei wees op die einde van die dag. Ek het vir ons melk koffie gaan maak, en toe kan ek soos ‘n nugter mens gesels.
My sussie bel van Bloemfontein af. Dis soos ‘n roller coaster. Een dag gaan dit beter met my pa, die ander slegter. Ek sê vir Anneen ek kan nie meer positief wees nie. Ek voel moeg. Sy sê ek moet wees. Gaan bid sê sy. En wees sterk. Terwyl ek kan hoor sy self voel nie so sterk nie. Toe begin ek worry oor haar ook. Sy moet al die oproepe beantwoord. Almal bemoedig. En self staande bly. Maar haar geloof is soos ‘n rots. Die sussie van my, sy is een van my grootste steunpilare in die lewe. En ek voel skuldig.
Ek gaan sit kruisbene op ons groot bed in die kamer, en bid. Vir almal. Vir my swaar gemoed. Vir my pa. Vir my sussie. En ek voel 100 keer ligter toe ek klaar gebid is.
Gister, na my pa reeds ‘n week in ICU is, kan ek vir die eerste keer met hom oor die telefoon gesels. Die vriendelike suster deel my mee dat ek dit asseblief kort moet hou, pappa mag nie ontstel of vermoei word nie. Doodreg, sê ek, asseblief ek wil net sy stem hoor. “Oom Hendrik”, hoor ek haar sê, “dis jou jongste meisiekind wat met jou wil praat.”
Die trane sit bitter bitter vlak toe ek sy stem hoor. Ek vertel vinnig van die lekker reën wat ons gehad het. Pappa se stem klink snaaks, maar net so positief soos altyd. Hy vra of ons al my paar merino’s geskeer het. Hy noem hulle op hul getal. En ek weet hy’s oraait. As hy al weer oor die boerdery worry. Die paar merino’s wat pa laas jaar vir my persent gegee het is my stukkie Karoo in die Boesmanland. Ek groet, en sê ons sien Donderdag so lank lewe.
More ry ons Bloem toe vir die naweek. Eerste ding wat ek gaan doen as ek in die dorp kom, is om vir pappa ‘n pakkie Wine Gums te koop, ek weet hy mag dit nie nou eet nie. Maar ek sal dit net langs sy bed neersit. Hy het mos altyd ‘n pakkie Wine Gums langs sy bed.
Ek kan nie meer wag vir die naweek nie. Ek weet ons almal sal oraait wees. Die Here stap elke tree van ons lewe saam met ons. Ons moet net GLO. En vertrou op ons inner strength. Dis sterker as wat ons dink.