Tuesday, 6 May 2014

Vroue van die Boesmanland


Tannie Alba (my buurvrou) het eendag gesê, moet asseblief nie sê ons is boervrouens nie, ons is ‘n boer se vrou. Ons is dames. As die nood druk, en ook omdat dit soms vir ons lekker is, help ons ook lammers merk, en jakkals jag, en bees werk (op ‘n afstand…), MAAR en dis ‘n GROOT maar, dit beteken NIE ons hardloop met blou overalls en vellies die vlak vol, sonder grimering en mooi skoon hare nie. Nee, ons bly dames, en al bly ons ver in die vlaktes, hou ons van mooi aantrek, van make-up, van mooi skoene en van huis mooimaak.

Kyk daar is ook ‘n tyd vir alles, ek gaan nou nie myself bespotlik maak en met my nommer 8 stilettos in die skaapkraal gaan staan nie, maar ek kan nogsteeds soos ‘n dame lyk, en voel.

Toe ek as jong, onervare, pasgetroude vrou kom nesskop hier in die Boesmanland, het ek nooit kon dink dat ek ook sou leer vleiswerk, konfyt kook, hoenderkuikens grootmaak, hanslammers red, eiers uithaal of weet wat die waarde van boerseep is nie. Al hierdie dinge het vir my soos iets in die verre toekoms gelyk, en gevoel.

Maar van vroue wat inspireer, leer en kan touwys maak, is hier nie ‘n tekort in die geweste nie. Ons jonges is maar yl gesaai, meeste vrouens in die wêreld is al vir 20 plus jaar hier ingetrou. Maar hulle kan, hulle weet van, hulle ken die benoude gevoel van droogte, en wat dit aan jou man se gemoed doen. Hulle ken van die “huil van dankbaarheid gevoel” as die eerste reëns val na ‘n knellende warm somer. Hulle ken van lysies maak vir dorp toe gaan, en hoe om sonder iets reg te kom vir 2 weke as jy vergeet het om dit op jou lysie te skryf. Hoe om ‘n resep te verander na alles wat jy wel in die huis het, na iets wat nou sommer jou eie nuwe resep is. Hulle het al die harde lesse van vleiswerk geleer. Van konfyt wat sandsuiker, van koeksisters wat se stroop te min is. Hulle het geleer van hanslammers in die koue voor die stoof in die kombuis warm maak, van kuikens in ‘n appelboks in die sonkamer. Van die klein skaaphond leer om nie hoenders te vang nie, en van peperbome en aalwyne wat welig groei in die Boesmanland, moenie viooltjies en alle snaakse goedjies probeer nie, dit werk nie. Dis te warm.

Hulle ken van boererate omdat die dokter vêr is. Hulle het hul eie stel tools (net so ter inligting, myne is pienk.) wat in die huis BLY, dit gaan nie stoor toe nie, want as dit terugkom, AS dit terugkom, het dit enige iets van olie tot bloed op. Hulle kan self ‘n wiel omruil oppad dorp toe (gewoonlik as jy jou mooiste wit nommertjie aanhet.). En hulle kan ‘n lam gradeer voor hy geslag is. Hulle het geleer om nie te wag tot “pappa” by die huis kom voor die vet geelslang voor die agterdeur sneuwel nie, maar om Tarzan se suster op jouself te trek, en hom met die haelgeweer by te kom. (Ek gaan bieg, ek was nog nie so braaf nie.)  Hulle ken van alleen wees, veral die ekstra alleen gevoel as dit so ysig koud raak in die winter, en die windjie huil om die huis se hoeke. Manlief is kilometers vêr in die veld, dan maak jy vir jou lekker moerkoffie met kondensmelk, kry jouself vir so tydjie jammer, en beweeg dan aan.

Ek het by al hierdie vrouens al iets geleer, en elkeen van hulle inspireer my op ‘n anderse manier.

Vir tannie Sikkie hoef jy NIKS van koeksisters te vertel nie, sy’s die koeksister queen in die Boesmanland. Sy’t ook geleer, jy hoef nie kwepers af te skil as jy konfyt wil kook nie, jy was hulle af, en dan RASPER jy hulle.

Tannie Suna ken van vleiswerk, en sy het al al die harde lesse geleer, en deel dit graag sodat ek dit nie ook hoef te leer nie. En sy raak nooit ongeduldig oor vragies nie. Ek kan haar enige tyd van die dag bel, sy help altyd mooi. Sy whatsupp uit die bloute, “onthou as jou gevriesde worsvleis bietjie te droog is, sprinkel net so KLEIN bietjie asyn oor. Gevriesde worsvleis is geneig om bietjie droog te wees. En onthou, gooi die kaas vir die kaaswors by NADAT jy die vleis gemaal het.”. En ek kry so warm gevoel in my hart, dis darem so lekker as iemand omgee. Tannie Suna is ook die naaldwerk diva in die Boesmanland, en as jy haar naaldwerk kamer al gesien het, sal jy sonder dat jy ooit enige intensies gehad het om te begin naaldwerk doen, dadelik lus kry daarvoor. Dis soos die paradys vir enige naaldwerk liefhebber. Sy het my baie raad gegee toe ek my eerste kwilt aangepak het.

Tannie Alba is KUNSTIG en KREATIEF. In hoofletters. Sy kan letterlik uit ‘n stuk koerantpapier iets skep. Sy dek mooi tafels, en maak goed wat jou laat wonder hoekom op dees aarde in die lewe kon jy nie ook aan so iets dink nie. En soos ek reeds gesê het, met MIN. En haar TUIN. Dis ‘n lushof, sy het groen vingers. En sy is ook nie suinig met steggies en plantjie uitdeel nie.

Hier is so baie, en ek kan nie oor almal iets skryf nie, dis ook ‘n boek op sy eie. Tannie Keppies bak die hemelste lekker beskuit, en het my ook stap vir stap geleer hoe om ‘n skaapboud te ontbeen. Dis toe glad nie so moeilik nie. Vriendin Adri bak die mooiste, lekkerste koeke, rerig uit die boeke. Tannie Retha ken van kleinkoekies bak, en hekel.

Maar ELKEEN van hierdie vroue, het my al iets geleer, en ek het van ELKEEN van hulle ‘n resep in my eie swart resepteboek met die rooi rugkant. En ek is nie bang om raad te vra nie, dis al hoe mens leer. Anders sal jy altyd onkundig en dom bly.

Ek SALUEER julle. Vir jul uithouvermoë, dapperheid en wysheid.

En ek hoop dat as die Here my so lank spaar, ek ook eendag vir die nuwe jong vrouens in die Boesmanland, so baie kan leer, en raad gee.