Nie te lank gelede nie, staan ek een oggend ongeduldig in ‘n
ry in ‘n besige en warm Upington.
Voor my staan ‘n mooi vrou. Blonde hare, bruingebrand,
stylvol aangetrek. Mooiste juwele wat klingel om die arms. Perfek, dink ek.
Skielik, soos nog altyd die gewoonte van my, kyk ek na die voete. Ek ril effens.
Hoe is dit moontlik. Dat iemand, met so ooglopend perfekte voorkoms, se voete
SO kan lyk. Mense, ek het in my hele lewe nog nie iemand met sulke gebarste hakke
gesien nie. En droë voete. En, die kersie op die geflopte koek, ‘n paar
uitgetrapte Crocs plakkies. En daar
verander my opine oor mevrou soos in DA-DE-LIK. Net daar. Want, voete wat nie
versorg is nie, lyk vuil. Dit sê gelukkig, of ongelukkig, nogals baie van ‘n
persoon.
En net voor ek gestenig word, jy hoef nie een maal per week ‘n
spa te besoek om mooi versorgde voete te hê nie. ‘n Ordentlike vyl en goeie
voetsalf. ELKE dag. Melksalf, te koop by die kooperasie, werk soos ‘n bom. En
as jy ook die moeite ontsien om ‘n voetskuurder te koop, ek is seker skuurpapier
sal ook die ding doen. Ek self ken iemand wat al ‘n grinder of nog erger, ‘n lekker skerp Victorionox mes gebruik het. Maar dalk is dit wys om dit nie so ver
te laat gaan voor jy plan maak nie.
‘n Nuwe tendens is naels in enige kleur van die reënboog. Dis
pragtig, en ek hou self van rooi of oranje naels. Maar as jy dit nie ordentlik
kan doen nie, LOS DIT NET SO, sonder cutex.
Want rooi, of oranje, of nog erger, blou cutex
wat afdop, is leliker as ‘n vrou wat te veel gedrink het. Dit geld ook vir hande.
Dit help nie mevrou die uwe het ‘n Michel Herbelin horlosie en 2 karaat diamant
trouring aan, en die naels is in die lewe afgekou met so hier en daar ‘n
oorblyfsel van 7 weke terug se akriel nie. Of lank, ongevyl en met gister se
tuinwerk grondjies onder. Glo my, daai deel sien jy ongelukkig eerste raak voor
jy sien hoe pappa se beursie gekreun het onder daai juwele aan die hande.
Dan is daar die skoene deel.
Ek is gebless met ‘n paar stewige nommer 8 voete. Ek is
lankal nie meer skaam daaroor soos op skool nie. Hulle is gesond. En geskuur,
geverf en geroom. Wat wel soms die ding is, mense met hierdie grootte voet, se
skoen verskeidenheid is ongelukkig nie so geredelik beskikbaar soos iemand met
die 5 en 6 voetjies nie. So die dag as ek in ‘n winkel kom waar die mooi nommer
8’s orals rondstaan, pak ek soveel pare in my trollie soos wat my beursie op
daardie stadium toelaat. Ek is MAL oor skoene, behalwe die met hemelhoë hakke.
Dit het sy plek, maar beslis nie as jy 5 hekke moet oop en toemaak om in die
dorp te kom nie. En soms, as ek so in die mall
rondstap, en ek sien iemand met so paar stillettos, kan ek ook nie help om die
gepynigde uitdrukking op die gesig te sien nie. G’n wonder daai girls het altyd sulke paar KUITE nie. Ek
salueer jou. Om te balanseer en stylvol te lyk op daardie outjies. Dit vat
oefening. Maar ek het nie hoogte nodig nie, met lengte het ek ook voor in die
ry gestaan.
En o ja, so vir oulaas. Crocs
en tekkies mag dalk gemaklik wees, maar dit het OOK sy plek. Tuinwerk en gym.
Net daar. Nie ‘n treë verder nie.