Friday, 1 November 2013

Plaas is nie vir sussies nie...


Ek is nie bang vir die donker nie. Ook nie vir alleen wees nie (alhoewel ek nie daarvan hou nie), ook nie vir goggas en goeters nie. Ek is bang vir beeste. Meer spesifiek, Nguni beeste. Hulle het masiewelike (kry mens so woord…?) horings. En heeltemaal ‘n anderse geaardheid as manlief se rustigheid van self Bonsmaras. Die Ngunis is net so paar koeie wat myne is, maar wat Johnny bestuur…. Pragtige diere, maar ‘n geaardheid gelykstaande aan ‘n rodeo bul s’n.

Soos ek reeds gesê het, ek is bang vir hulle. En soos ek reeds ook voorheen al gesê het, as daar nou een ding is wat vir Johnny rooi in die gesig begin laat, is dit ‘n gepiepery. Moenie gil oor goed nie, en as jy bang is vir iets, kom daaroor. Hierdie is ‘n plaas.

So, ek het al by verskeie geleenthede my vrees onderdruk en my so taai soos ‘n Toyota gehou, maar no ways, dit wil nie weggaan nie.

Nou ‘n Nguni in die veld is een ding. ‘n Nguni in die kraal, wel, ‘n heeltemaal volgende storie. Hulle hou nie van ‘n kraal opgedruk staan nie, NOG minder in die drukgang.

So gebeur dit laasweek dat hulle met kalwers en al moet kraal toe kom. Hulle moet vir lamsiek gespuit word en die bietjie erger nuus, die bulkalwers moet gedruk word. Ek is seker almal verstaan wat dit is. Ook nie iets wat aangenaam is vir hulle en my nie. Ek moet help, want dis my bees.

Reg, deur die eerste hek het dit goedgegaan, ek kon nog binne in die bakkie bly. Maar hoe nader dit aan die kraal gekom het, hoe wilder het dit begin gaan. Johnny was in sy vorige lewe ‘n cowboy, hy is mal oor aksie, en jaag. “Spring uit en help daar aankeer!”, sê hy. Ek moet aan die ander kant met die bakkie gaan keer. Ekskuus, jy praat seker nie met my nie? EK, agter ‘n Nguni afklim. Een kyk was genoeg om maar met bewerige kniee uit te klim. Gewapen met ‘n kierie. Moet net nie waai nie, dan raak hulle nog wilder, kry ek die opdrag.

Nodeloos om te sê die bees was lankal in die kraal, toe kom ek nog aan gesukkel, want een spesifieke koei was glad nie ingenome met my nie, en het veroorsaak dat ek meer terug hardloop as kraal toe vorder. Ek was lam van vrees teen die tyd wat hulle al bulkende in die kraal gestaan het. Toe weet ek natuurlik die ergste kom nog. Min wetende dat my braafgeid my in die steek gaan laat nog voor ons begin het.

Die drukgang het volgestaan, en die res van die bees het in die groot kraal gestaan. Ek hoef nie binne in die kraal te wees nie, maar ek moet asb buite keer. Want, sê Johnny, hulle is maar geneig om te wil spring. Toe is ek al verby die kniee bewe stadium, ek het al gevorder tot maagkrampe en koue hande. Sy woorde was ook skaars koud, toe spring die einste koei wat my heeltyd wou terugjaag huistoe. Ek het my lam geskrik, want toe sit haar voet vas agter een van die pype, en sy raak al kwater, want sy kan nie wegkom nie. “Haar been gaan breek, bring die hamer!”, skee Johnny. Klaas het gebring, want ek het binne in die bakkie gespring. Toe die koei uit is, is ek weer op my pos langs die kraal. Johnny se temperatuur het toe reeds ‘n paar grade gestyg.

Maar julle, toe die volgende een mik om te spring, toe mik ek vir die 400m huistoe. Ek het op daardie stadium nie meer omgegee wie is kwaad vir wie nie, maar hiervoor het ek bloot nie meer kans gesien nie. Alle braafgeid het my verlaat. As dit so gaan nog voor ons begin werk het, hoe gaan dit teen die einde lyk. Ek het eers geloop, en toe besef ek die swart koei is buite die kraal, en het glad nie ‘n persoonlikheid nie. Toe begin ek hardloop, en elke 5 sekondes het ek omgekyk en seker gemaak sy is nie naby my nie.

Ek moet eerlik wees, ek het so bietjie stupid gevoel. Johnny was kwaad. My bees is gewerk sonder my hulp.  Maar hy het darem later gelag. Ek dink ek sal die res van my lewe daaroor gespot word. Maar ek is nie skaam vir my tekortkominge nie. Die werksmense het ook vir my gelag. Hulle sal nie waag om iets te sê nie.  

Daar het al intussen nog 5 mooi kalfies aangekom, so ek vergewe hulle vir hul ongeskikgeid. Maar, my vrees is toe nie oorwin nie. Dis erger.