Dis ons almal beskore, om waarlik gelukkig te wees. Ons moet dit net soek. Dis gewoonlik op klein plekkies, in gewone allerdaagse goed.
Ware geluk kan ook baie dinge beteken, almal ervaar dit anders. Maar dis daardie rerige tevrede gevoel. Dat alles sommer net reg is.
Niemand is perfek nie, en niemand voel ook elke dag ewe tjirpie nie, maar ons mag nooit toelaat dat dit ons geluk steel nie.
Een van die menige lewenslesse wat ons as kinders by my pa geleer het, was dat, maak nie saak wat jou omstandighede is nie, geluk kom van binne, daar diep uit jou hart, GEEN omstandighede mag dit verander nie. En terwyl jy in God glo, kan jy mos nie anders as gelukkig wees nie. En as kind kon ek di took nooit verstaan nie. Hoe op aarde moet mens gelukkig wees met huiswerk, terwyl jy in die koshuis is sonder jou ma se kos. Maar ek het eers heelwat later in my lewe besef wat my pa nou eintlik bedoel het – ware geluk beteken nie noodwendig dat jy huppel en gil van opgewondenheid nie, dis net daai tevrede gevoel. Alles is okei.
Ek het anderdag gelees, daar is met navorsing bewys dat geld, status, prestasie, en selfs ‘n hoër IK, ons nie gelukkiger gaan maak nie. Tenspyte van wat sekere mense glo. Wel, sommige van bogenoemde kan seker die lewe heelwat meer gerieflik maak, maar dit gaan nie geluk verseker nie.
Die mense om ons, en ons geloof. Dis die hoekstene van geluk. Leer om mense te vergewe. Mense wat in vrede leef met ander, is aansienlik gelukkiger.
En dan natuurlik gaan dit gepaard met daardie klein “sommer net lekker” goedjies wat jou weereens laat besef dat die lewe een groot fees is.
Om middae met “uitval tyd” ‘n lekker koppie moerkoffie saam my man op die stoep te drink. Koekies bak. Om ‘n koeksister te eet waarvan die stroop so uitdrup. Om ‘n pakkie wat iemand as verassing vir jou gepos het, oop te maak. Warm roosterkoek, met botter en dik konfyt. Om iets goeds vir iemand te doen, en die dankbaarheid in daai persoon se oë te sien. En my sussie se dogtertjie wat sê ek is haar beste este tannie. DIT maak my tevrede, en gelukkig.
En dit maak dat wanneer vandag dalk nie so klopdisselboom dag is nie, dat jy terugkyk na daai lekkerkry oomblikke van gister.
En wanneer jy dalk nie rerig gelukkig is nie, gaan soek daardie klein goedjies. Hulle is jou hele dag vol.
Lèèf met ‘n hart vol dankbaarheid!